Van sit en staan kom niks gedaan, sê die grootmense. En ledigheid is die duiwel se oorkussing. Koop die tyd uit! lui die Bybelse vermaning. En die navorsers sê … ons werk ons dood. Letterlik. Waar lê die waarheid?

Deur Susan Goosen

Eenmaal is ’n wyse ou monnik gevra wat volgens hom die grootste probleem in ons moderne tyd is. Hy het dit in een woord opgesom: doeltreffendheid.

Dit is waarskynlik vandag nóg nader aan die kol as destyds. Ons het só “doeltreffend” geword dat ons vergeet om te rus, te ontspan en te speel. Ons reken ons moet besig bly, produseer, bestuur, organiseer en dóén. Ons meet ons dae, ons sukses en ons waarde aan wat ons bereik het.

Boonop het die pas waarteen ons leef tot gevolg dat baie mense skuldig voel wanneer hulle niks doen nie. Dat hulle kosbare tyd vermors.

Van waar?

Hierdie soort opvattings en oortuigings kom van ver af. Van jongs af is die waarde van harde werk as ’n belangrike voorwaarde vir sukses by ons ingeprent. Arbeid adel, het ons geleer. As jy plant, sal jy oes. En luiaards word deur die Spreukedigter streng gemaan om na die flukse mier te gaan kyk.

Dalk is dit juis daarom dat die meeste gelowiges skuins opkyk as daar na “niksdoen” verwys word.

“Dalk is daar ook ’n persepsie dat jy deur ander gereken en geag word indien jy hard werk, presteer, baie verdien en ’n duur leefstyl kan handhaaf,” sê dr Vorster Combrink, ’n pastorale berader in Pretoria. “En dalk ook die waanbeeld dat alle mense dieselfde uitsette moet en kan lewer. Dit is natuurlik foutief. Verskillende mense het verskillende vermoëns en intelligensie- en energievlakke. Nie alle mense is ewe gesond nie.

“Daar is wel ook ’n ander, ewe verkeerde, siening oor niksdoen,” sê Vorster. “En dit is dat die lewe jou iets skuld en dat jy daarom op jou louere mag rus. Jou ouers of familie sal mos vir jou sorg …”

 

Bybelse waarhede

In teenstelling met wat baie gelowiges mag vermoed, is rus en ontspan (ja, niksdoen) ’n Bybelse opdrag. God self het, só lui die Genesisverhaal, op die sewende dag van die skeppingsweek gerus en dit as gereelde rusdag ingestel. Hy het dit dus uit die staanspoor so bedoel dat ons moet rus nadat ons werk afgehandel is.

“Die Bybel bevat ook ander verwysings na rus,” sê Vorster. “By die berg Sinai word God se verbondsvolk weer daaraan herinner dat hulle ses dae moet werk en op die sewende dag moet rus. Hierdie rusdag geld vir ál die werksmense, asook vir die diere. Dit bied jou die geleentheid om van jou dagtaak te rus, om jou weer aan God toe te wy en om tyd saam met jou gesin, vriende en ander gelowiges deur te bring.

“Die verskillende feesdae en die gebruik van die sabbatsjaar dien ook as geleenthede om asem te skep en weg te breek van die gewone, daaglikse roetine. In die Nuwe Testament bevestig Jesus ook dat hierdie rusdag geensins bedoel is as ’n dag wat met wettiese voorskrifte deurgebring moet word nie, maar dat dit tot ons en ons medemens se seën en vreugde moet wees.”

’n Stomp byl kan tog nie hout kap voordat jy dit weer skerp gemaak het nie. Op dieselfde wyse gaan mense wat oorwerk en oormoeg is nie hul beste kan lewer voordat hulle nie ’n slag behoorlik gerus het nie.

Dié les het die ou profeet Elia geleer nadat hy onder ’n besembos in die woestyn inmekaargesak en gewens het om dood te gaan. God sien dat sy dienaar moeg en oorwerk is en Hy stuur Elia “met vakansie” – genoeg slaap, voedsame kos en ’n reis in die mooi natuur (1 Kon 19).

Die Bybel se Prediker het, nadat hy hom allerhande pret en plesier veroorloof het, besef dat hierdie aktiwiteite ’n gejaag na wind is as dit sonder die Here plaasvind (Pred 1 – 2). En dit het hom nie gelukkig gemaak nie. Sonder God, sê hierdie ou wysgeer, kan nie eens welgestelde mense hul rykdom, besittings en eer geniet nie (Pred 6:1). Die geheim, sê hy, is om al hierdie gawes – ook die gawe van rus – as geskenke uit God se hand te erken en te gebruik.

In die Nuwe Testament lees ons dat Jesus tyd opsy gesit het om alleen weg te gaan – dikwels sonder sy dissipels – om te gaan rus (Mark 1:35).

Indien jy jou niksdoen-tye én jou speel-tye aan God wy en Hom daarvoor dank, kan hierdie rustyd jou geestelik versterk en jou nader aan Hom bring.

 

Só kan jy dit regkry

  • Beplan jou vryetyd. Die ekstra werk wat jy saans en naweke wil afhandel, steel dikwels ál jou tyd. Besluit doelbewus wanneer jy gaan ontspan, sê dit aan jou gesin – en hou daarby.
  • Skakel jou selfoon en rekenaar af wanneer jy ontspan. Ons is geneig om, selfs onbewustelik, aan hierdie toestelle voorkeur te gee sodat ons nie regtig ontspan nie. Daar is gesinne wat kies om alle toestelle een dag per week af te skakel.
  • Bring genoeg tyd buite deur, en geniet die natuur – of dit nou jou tuin, die park of ’n reservaat in jul omgewing is. Koop ’n veldgids en kyk watter voëls of bome daar by julle rond voorkom.
  • Beplan gereelde gesinsaktiwiteite en -uitstappies. Die herinneringe aan hierdie saamweestye is jare daarna steeds kosbaar. Speel saam bordspeletjies, lees vir mekaar stories in die bed, maak saam kos of hou piekniek in jul tuin.
  • Identifiseer ’n soort oefening of aktiwiteit waarvan jy hou. Gaan stap, ry as gesin saam fiets of speel saam tennis.
  • Oorweeg ’n nuwe stokperdjie waarin jy jou kreatiwiteit kan uitleef. Doen lapverf, kralewerk, neem foto’s, of koop en snoei ’n bonsai-boompie.
  • Verbreek jou gewone roetine, ontwikkel rustige rituele. Slaap laat, lees ’n boek of gaan lê op ’n kombers in die tuin om na die wolke te kyk.
  • Eet as gesin saam. Dek ’n mooi tafel, skakel musiek aan en maak jul gunstelingkos. Bring ’n rustige kuiermiddag vol stories om die tafel deur.
  • Lag saam. Trek lawwe gesigte en vertel grappe.
  • Bring ekstra tyd saam met God deur. Oorweeg ’n “gebedswandeling”, luister na jou gunsteling-geestelike musiek, of skryf ’n brief of ’n gedig aan God.

’n Verskeidenheid voordele

Om jou skoene uit te skop en/of om saam met jou kinders in die tuin ’n bal rond te skop, hou verskeie gesondheidsvoordele in. Só sê die kenners:

  • Genoeg rus verminder die soort spanning en stres wat tot verskeie siektetoestande en selfs ongelukke aanleiding gee.
  • Ontspanningsaktiwiteite in die tuin of natuur kry jou aan die beweeg, en dit verbeter jou fiksheidsvlakke en algemene gesondheid.
  • Rus en ontspanning verbeter jou gemoedstoestand en dit help om depressie en ander angsversteurings te voorkom.
  • Voldoende ontspanning kan selfs jou geheue verbeter, omdat jy minder gejaag is en makliker kan fokus en prioritiseer.
  • ’n Wegbreek saam met jou hartsmense versterk die verhouding tussen julle en dit skep kosbare herinnerings.
  • Mense wat genoeg gerus het, is produktiewer en kreatiewer (en, ja, doeltreffender) wanneer hulle moet werk. En hulle geniet dikwels hul werk meer as wat dit andersins die geval sou wees.

Die meeste kinders het baie vol programme as gevolg van skool- en buitemuurse aktiwiteite. Leer jou kinders die belangrikheid van genoeg rus en ontspanning en stel die regte voorbeeld deur self so te leef.

* Dr Vorster Combrink is die bestuurder vir berading by ABBO (www.abbo.org.za) en ’n pastorale berader by die Wapadrant-gemeente in Garsfontein, Pretoria. Sy e-posadres is vorster@abbo.org.za

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail