Wat is die grootste geskenk wat een mens aan ’n ander kan gee? Hoop. Sonder twyfel. Want waar daar hoop is, is daar lewe.

DEUR BAREND VOS

Die befaamde Afrikaanse skrywer, Hennie Aucamp, het hulle “gewers” genoem. Daardie mense wat hul lewe lank letterlik “gee” – van hul kennis, hul vaardighede, hul wysheid. Hulle sélf.
Uiteindelik is die grootste gawe wat die ontvangers van hierdie gewers kry sekerlik die hoop wat, onontwykbaar, saamgegee word.

Deur die ganse geskiedenis heen is die mensdom geseën met vele sulke gewers. En in elke tydsgewrig en sosiale konteks en omgewing sal talle voorbeelde genoem kan word. Kortweg: Ons almal het nog altyd – prys die Heer! – gewers in ons lewe gehad.
Om hier te probeer voorbeelde uitryg, is dus ’n riskante oefening. Die gewers in jou lewe is immers mense van vlees en bloed wat aan jou die geskenk genaamd “hoop” gee. Hulle is niemand anders nie as jóúne, jy ken hul naam en hul storie – en hulle woon dalk in die huis langsaan.
Nee, jou gewers is nie myne nie. Maar dalk kan die kort lysie hieronder ons tog help om ook ’n tweede keer oor ons gewers na te dink. En God opnuut vir hulle te dank.

Daar was Saulus van Tarsus
Hy het hom met hart en siel daaraan gewy om sy heel beste te gee vir die saak waarin hy geglo het. Hy skryf self: “In
die Joodse leer het ek onder my volksgenote bo baie van my leeftyd uitgestyg …” (Gal 1:14).
Toe word hy egter gepootjie: Hy beleef ’n Goddelike ontmoeting, en ’n totale ommekeer. En daarna was hy ’n ander mens. Van die 27 geskrifte wat in die Nuwe Testament opgeneem is, is 13 deur hom geskryf. Hy het aan ons ’n kosbare skat gegee.

Die hoop wat Paulus aan gelowiges bring, kan op velerlei maniere omskryf word:
• Daar is diegene wat sal sê: “Paulus se lewe bewys dat God nooit met sy kinders opgee nie.”
• Daar is ook hulle wat getuig: “Paulus se geskrifte het my bevry van die dwang om deur my goeie dade my saligheid te probeer verkry.”
• Nog ander sal sê: “Ek leer uit sy verhaal dat die doring in mý vlees my nie van God se genade weerhou nie. Inteendeel: Sy genade is vir my genoeg.”

En Martin Luther
Sy skenking van die insig en genade wat hy ontvang het, het hom duur te staan gekom. Hy is in 1507 tot priester in sy kerk gewy, maar hy het deur sy verdere studies – veral dié van die Bybelse psalms, en van Paulus se briewe aan die Romeine en die Galasiërs – tot ander insigte gekom as dit wat in sy kerk geleer is.
Toe breek hy van die kerk af weg, en hy haal hom erge probleme op die hals. Maar só het die beweging begin wat wêreldwyd as die Reformasie (of Hervorming) bekend sou staan en wat die Christelike kerk op ’n gans ander koers sou neem.

Die hoop wat Martin Luther aan protestantse gelowiges gee, kan sekerlik saamgevat word in die vyf pilare waarop ons verstaan van die Goeie Nuus berus en wat hy en sy Reformasie-beweging aan ons nagelaat het. Dit is: nét die Skrif; nét Christus; nét genade; nét geloof; nét aan God die eer.
Martin Luther, in sy dringende soektog na ’n genadige God, het aan ons bogenoemde “bril” gegee om beter te sien hoe God ons gevind het. Sodat ons ook beter kan verstaan hoe om voortaan ’n genadige medemens te wees. En om só die hoop wat aan ons gegee is, verder te kan aangee.

Ook Viktor Frankl
Hy was gevangene nommer 119.104 in die Auschwitzkamp in die jare veertig van die vorige eeu. Hy het toe reeds alles in die Nazi-kampe verloor, onder meer sy ouers en sy broer. Hy was ’n psigiater.
Vanuit sy akademiese en persoonlike agtergrond het hy geworstel met dié vraag: Hoe is dit moontlik om te midde van soveel lyding met die lewe voort te gaan, en dan op ’n manier wat dit die moeite werd maak?
Frankl het met sy waarnemings in die hel-kamp die psigoterapie verryk met ’n konsep wat hy “logoterapie” genoem het. Hiermee het hy probeer om ’n meer mensgerigte benadering tot sielkundige ingryping te vestig.
Só word die mens wat na die sin van die lewe vra, gehelp om dié vraag om te keer: nie meer na wat die sin van die lewe vir mý is nie, maar na watter sin ek aan die lewe gee.

Die hoop wat Viktor Frankl aan gelowiges gee, is wydlopig en omvattend. Maar dalk kan ’n mens dit baie kortliks só verwoord: Die vraag na die sin van die lewe gaan jou nie by ’n “goue-reël-vir-almal” bring nie. Dit is ook niks abstraks nie. Hierdie vraag word deur elke individu vir hom- of haarself beantwoord … met ’n teenvraag: Hoe kan ek sinvol genoeg lewe om die lewe sinvol vir ander te maak?
Hier is dus weer, soos by Luther, sprake van die aangee van die gawes wat jy ontvang het. Die kwistige uitdeel van die hoop wat jy gekry het.

En natuurlik, vanselfsprekend, Jesus van Nasaret
Hy is gebore as die oudste seun van Josef en Maria, ’n skrynwerker en dié se verloofde uit die dorp Nasaret in die Joodse provinsie Galilea. Hierdie Jesus sou ’n rabbi word, ’n leraar in die Joodse godsdiens. Hy sou ná ’n kort maar ingrypende dienstyd met sy lewe betaal vir die hoop wat Hy aan sy volgelinge gegee het.
Daar is selfs diegene wat reken dat dit juis sy dood is wat aan hierdie hoop sy inhoud gegee het. Ja, wel, maar veral dan ook sy opstanding uit die graf in daardie tuin net buite Jerusalem. Daarom staan Hy vandag by gelowiges onder meer bekend as “ons Lewende Hoop”.

Die soort hoop wat Jesus van Nasaret aan sy volgelinge gee, is onmoontlik om te bereken of te meet of te weeg. Daar is wel van hierdie volgelinge wat iets sal prewel soos: “Hy het my geleer dat ek sal lewe al het ek ook gesterwe.”
• Of: “Hy het ook vir my in gedagte gehad toe Hy gesê het: ‘Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.’”
• Dalk sal hulle ook sê: “Hy het met my in my weerloosheid gepraat toe Hy gesê het dat die koninkryk van die hemel aan kleintjies behoort, en aan mense soos hulle. Mense soos ek.”

 

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail