Dit is dalk nie vir sensitiewe lesers geskik nie – en dalk wél. Daar behoort ’n ouderdomsbeperking te wees – en dalk nié. Wat máák die boek Hooglied tog in die Bybel! Hoort hierdie soort passievolle beskrywings hoegenaamd in God se amptelike biblioteek?

Deur Stephan Joubert

Grootmensdinge. Agt hoofstukke lank.

Die Hooglied-leser word meegevoer deur die uitbeelding van liefde tussen man en vrou soos dit in ryke verbeeldingsvlugte en vurige verlange woorde kry. Twee minnaars en die lyflike roetes wat hulle bewandel … in die Bybel.

En dié vraag bly: Hoort Hooglied regtig in God se biblioteek? Én: Hoekom het so baie mense deur die loop van die eeue Hooglied se inhoud misgekyk?

Is hierdie boek dalk geringgeskat (en selfs geïgnoreer) omdat dit so passievol en eerlik oor die liefde is? Is daar dalk steeds sommige kerkmense wat stilweg wonder wat Hooglied hier tussen al die heiligheid soek?

Want laat ons maar eerlik wees: ’n Bybelboek wat só begin, laat vrome wenkbroue hoog lig: “Soen my, soen my weer en weer! Jou liefkosings is beter as wyn …” (Hoogl 1:1).

Ja, watter ouer sal gemaklik wees om dit aan hul jong kinders by huisgodsdiens voor te lees? Dit kan net tot allerlei ongemaklike vrae lei …

Hoe antwoord jy hulle byvoorbeeld as hulle by jou wil weet waarom Hooglied se minnares haar geliefde beskryf as ’n sakkie mirre tussen haar borste (1:13)? Of as die minnaar van sy bruid praat as ’n mirreberg, of ’n wierookheuwel (4:6)? Wanneer hy na haar liggaam verwys as ’n lushof vol granaatbome met heerlike vrugte (4:12-15)?

Daar bestaan dus die vermoede dat die meeste gelowiges ywerig verby Hooglied blaai, haastig op pad na die Bybel se meer, sal ons maar sê, “geestelike” boeke wanneer hulle stiltetyd of huisgodsdiens hou.

En moenie dink dit is net hedendaagse Christene wat hieroor ’n bietjie bloos nie; die vraag oor Hooglied se plek in die Bybel is so oud soos die Bybel self. Reeds die ou Joodse rabbi’s het onder mekaar gepeins of hierdie boek regtig in die Bybel ingesluit moet word. Hooglied stel immers nie belang in hul geliefde tema, Moses se wet, nie. Ook wy die Hooglied­skrywer geen aandag aan God nie. Ook nie aan ander sentrale gedagtes wat regdeur die Ou Testament voorkom nie. Hier is byvoorbeeld niks oor die verbond óf die tempel nie.

Nietemin is hierdie boek destyds met ope arms verwelkom – omdat Salomo as skrywer aangedui word (1:1). Daarop het baie rabbi’s gou gekies om Hooglied as ’n soort allegorie te lees, as uitgebreide beeldspraak. Hiervolgens beeld dié geskrif die liefde tussen God en sy volk uit.

’n Hele klompie (Christelike) kerkvaders het in hierdie veilige voetspore gevolg. Daarom is Hooglied eeue lank in die kerk verstaan as ’n uitbeelding van die verhouding tussen Christus en sy bruid, die kerk.

Dit is nie korrek nie.

’n Boek oor lyflike liefde

Nee, Hooglied is nie ’n allegorie nie. Dis nie beeldspraak nie. Dit verteenwoordig nooit en nêrens die verhouding tussen God en sy kerk nie. Hooglied besing die liefde tussen ’n vrou en ’n man in beeldryke taal. Kort en klaar.

Dié boek is vol liefdesgedigte, gesprekke tussen die geliefdes, verhale oor hul liefde. En beskrywings van die opwinding wat die liefde tussen ’n man en sy beminde bruid vir hierdie twee gelukkige mense bring (4:8-12).

Ja, die liefde ís ’n volle Bybelboek werd. Daarom is Hooglied in God se amp­telike biblioteek ingesluit. Alles in hierdie lewe, ook die liefdesroetes tussen vrou en man, hoort in sy Woord.

Lyflike liefde is nie bloot ’n (noodgedwonge) biologiese funksie sodat die menslike geslag kan bly voortbestaan nie. Of iets wat slegs op losbandige mense se speelveld tuishoort of hoogstens in Hollywood nie. Nee, God wil regtig hê dat ons, sy kinders, ook passievol moet liefhê. Die hunkering na mekaar is deel van ons menswees. En soos met al God se ander gawes aan ons, hoort ook so ’n liefde in die mooi bane wat Hy hiervoor geskep het.

Hooglied veronderstel nooit dat ons ganse identiteit in ons seksualiteit opgaan nie. Seksualiteit durf nooit ons lewe oorneem of in besit neem nie. Dán verskraal dit ons lewensmaat (en ander mense) tot blote seksuele objekte. Dan wen wellus. En so ’n soort seksualiteit is nie deel van God se plan nie.

Die Here wil hê dat die vuur van die liefde reg brand in al sy kinders se lewe. Hy wil hê dat ons ons geliefdes passievol bewonder, bemin en liefhê – en op só ’n wyse dat daar geen plek, tyd of ruimte vir ander, onwelkome, begeertes in ons liefdeslewe is nie.

Die liefde se landskappe

Hooglied skets die liefde binne verskillende landskappe. Te midde van die skrywer se huwelikseremonie met sy minnares (Hoogl 3:6-11) lees ons van vier landskappe waarbinne hul liefde afspeel:

Ons hoor hoe die minnaar uit die wilde woestynlandskap na sy minnares toe aankom. Die warm son (1:6-7) én die ongereptheid van die see en riviere (8:6-7) is ’n deel van hierdie dekor.

Ons lees ook dat die platteland ’n agtergrond vir Hooglied se verskillende liefdesroetes vorm. Daar word oor weivelde (1:7-8) gepraat, en oor vrugteboorde (2:1-3; 8:11-13) en die oop veld wat feestelik getooi word vir die liefde in die lentetyd (2:8-13; 7:10-13).

Ook in Jerusalem loop hierdie liefdes­roete, en in verskeie klein dorpies (3:1-5; 5:7 – 6:1; 8:3). Dit is interessant dat die stad se wagte en die vroue ietwat terug­houdend optree teenoor die twee minnaars met hul eindelose hunkering na mekaar.

Ten slotte speel die liefde in die paleis af (1:1-4), met sy vrolike feessaal (2:4-7) en slaapkamer (3:1-5).

Hooglied se twee minnaars nooi mekaar voortdurend uit na die roetes van die liefde (1:1-4; 2:10-14; 7:11-13). Hul dringende verlange na mekaar gee aanleiding tot hul knaende soektogte na mekaar (1:7-8, 3:1-5; 5:2 – 6:3). Hoër en hoër brand hul liefdesvlam …

Liefdesreise wat voortgaan

Hooglied se liefdesavonture speel af op die roetes van respek en intimiteit, en nooit op die paaie van wellus of selfsugtige begeerte nie. Wanneer die liefde juis op dié wyse seëvier – die manier waarop God dit bedoel het – is dit vol begeerte, feestelik en opwindend. Dit is dus geen wonder nie dat Hooglied van begin tot einde deurdrenk is met die opwinding en skoonheid van die liefde tussen vrou en man.

Dit is God se wil dat Hooglied na die liefdeslewe van sy kinders moet oorspoel. Daarom is dit hoog tyd dat ons ons spiritualiteit verbreed deur Hooglied te begin lees – en dit rég te lees!

Hierdie liefdesboek is doelbewus by die ruim Goddelike biblioteek – wat ons “Bybel” noem – ingesluit om ons te begelei om die opwindende liefdesvure in ons lewe aan te blaas. Dan word ons, vrou en man vir mekaar, meer as bloot mekaar se lewensmaats. Meer as slegs sielsgenote. Dan word ons opnuut, of dalk vir die eerste keer, werklik mekaar se minnaars. Dan leef ons binne die nuwe landskappe van die liefde waarheen Hooglied ons uitnooi.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail