“Wanneer laas het jy gehuppel?”

Die vraag betrap my onkant. Ek huppel nie juis nie. Ek ken ook nie ander grootmense wat graag huppel nie.

Ek vra op ’n WhatsApp-groepie aan ’n klompie ma’s waarom hul kinders huppel. Dalk, reken ek, dálk kan kinders ons iets leer oor hierdie loop-en-spring-aksie wat jy eintlik net by hulle sien.

Toe antwoord iemand só: “Jong kinders het nie ’n rede nodig om te huppel nie; hulle huppel net.”

Sy verduidelik verder: “Ons moes gister amper heelpad saam met hulle huppel – van die huis af, tot by die kerk. En ons het. Omdat hulle wou. En omdat ons kan.”

In my geestesoog sien ek die prentjie: twee dogtertjies en hul ma, vrolik aan ’t huppel. En langs hulle hul twee meter-lange pa wat saam met hulle huppel. Vier blokke ver, tot by die kerk.

 

Waar en wanneer het ons dan ons huppel verloor?

Dalk was dit daardie keer toe ons agter­gekom het die lewe is nie so eenvoudig soos ons gedink het dit is nie. Of daardie eerste keer toe ’n ander mens ons teleurgestel het. Toe ons ontnugter is. Toe ons sinies geword het.

Ek wonder hoe dit sou wees as ons die lewe weer op sigwaarde begin beskou. As ons dit in alle eenvoud omarm en begin geniet. Soos kinders.

Ek wonder hoe dit sal wees as grootmense eensklaps sonder draadwerk kan wees. Sonder pretensie of verskuilde agendas of daardie alewige agterdog.

Sou ons dan beter kon leef? wonder ek. Beter kon liefhê? En sal ons dan die liefde laat doen wat die liefde moet doen – om alles te bedek, alles te glo, alles te hoop en alles te verdra, soos Paulus dit in 1 Ko­rintiërs 13:7 verduidelik?

Die moontlikheid van kinderlik en eerlik leef, het onlangs vir my baie prakties geword toe ek ’n dokumentêre program oor ’n kinderhuis in Tibet gekyk het. Hier sê die huisvader aan een van die kinders: “Be a straightforward human being.”

Leef soos ’n kind! Dis soos hy dit netsowel kon gesê het. Wees eerlik en opreg. Dra jou hart soms op jou mou, laat vaar jou vooropgestelde idees. Laat toe dat jou kinderhart soms jou grootmensverstand aansê wat om te doen. Wees vrolik en vriendelik, vergewe vinnig en laat jou kwaad gou-gou afkoel.

Huppel ’n slag.

Miskien sal ons meer van God ontdek wanneer ons weer soos kinders word. Wanneer ons begin huppel. Wanneer ons begin onthou hoe dit was om eenvoudig te leef, opreg te glo en gereeld te speel.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail