Die man wat voor ons staan moet ongeveer 30 jaar lank reeds ’n predikant wees. Ek het dit vinnig uitgereken toe hy so halfpad deur sy preek was.

Dit is nie iets wat ek gewoonlik doen as ek na ’n prediker luister nie. Maar hierdie keer was daar iets wat my van dié man opgeval het – en uit pure nuuskierigheid het ek probeer bereken hoe lank hy reeds die Here op hierdie manier dien.

Hy het oor Jesus se opstanding gepraat. Hieroor moes hy seker al dikwels gepreek het, het ek nog gedink. Maar terwyl ek hier skryf, kan ek regtig nie sy presiese woorde onthou nie. Ek kan wel haarfyn onthou wat my meer as enigiets opgeval het en wat ek waarskynlik nooit sal vergeet nie: Dit was sy oë. Die vonkeling in sy oë.

Ek onthou ook hoe verbaas ek was. Hoe ek gedink het: Hy is jou werklikwaar opgewonde oor Jesus. En Jesus se opstanding maak hom opvallend bly!

 

Dit is nie veronderstel om my te verbaas dat ’n Christen se geloof in sy oë wys nie. Maar op daardie oomblik het dit my verras. Juis omdat ’n mens dit min sien – veral in diegene wat die Here jare lank reeds dien.

En miskien ook omdat ek skielik gewonder het of mý liefde vir Jesus in my oë te bespeur is.

 

Ek is daar weg met die besef dat die vuur in my koud geword het. En toe bid ek: Heilige Gees, laat dit tog weer hoog brand!

Ag, en dan word ek so moedeloos wanneer ek besef dat ek hierdie gebed al sóveel keer gebid het. Dat ek weer op die punt van louwarm gekom het.

Dan sien ek weer daardie vonkelende oë. En ek kry hoop.

Ons het hierdie soort hoop-hupstootjie juis in hierdie dae nodiger as ooit, dink ek. Ook Timoteus het dit klaarblyklik nodig gehad – en sy mentor, Paulus, skryf só aan hom: “Om hierdie rede herinner ek jou daaraan dat jy die genadegawe wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ’n vuur weer moet aanblaas. Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing” (2 Tim 1:6-7).

 

Hoe dankbaar is ek dat ek kort voor Pinkster daaraan herinner kon word dat God se vuur weer hoog in my kan brand – al is ek jare lank reeds sy kind.

Hoe dankbaar is ek dat God met my kom praat het deur ’n man vir wie Jesus ’n werklikheid is. En dat ek dit so maklik in sy oë kon sien.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail