Die internet is ’n wonderlike wêreld. Só pas ’n ganse planeet se biblioteke op jou lessenaar, ’n boekrak se fotoalbums in jou sak. En jou hele familie se geselsies in jou hand. Maar die internet is ook ’n gevaarlike plek. Daarom is dit nodig om jou inligting te beskerm.

Deur Francine van Niekerk

“Daar is twee dinge wat ons uit die staanspoor moet weet wanneer ons die kuberruim betree,” sê dr Basie von Solms, direkteur van die sentrum vir kubersekerheid by die Universiteit van Johannesburg. “Een: Die internet is ’n onveilige plek. Twee: Wanneer jy die internet gebruik, is jy nooit anoniem nie.

“Inligting is die goudmyn van ons tyd,” sê Basie. “Jou naam, adres, telefoonnommers, ID-nommer, bankbesonderhede – dit alles is die goud waarmee kubermisdadigers hul duistere sake doen.

“Indien jy die internet gebruik, word jou inligting iewers gebêre – op elke plek waar jy ’n webwerf oopmaak, na iets soek of wanneer jy woorde intik. En dié inligting kan deur kuberkrakers gebruik word om ’n profiel te skep.

“Hierdie profiel kan op verskeie maniere deur die internetskelms gebruik word: Hulle kan by jou bankrekening ‘inbreek’ en jou geld steel; hulle kan ’n rekening open en op jou naam skuld aangaan; hulle kan foto’s van jou bekom en dit gebruik om jou af te pers.”

Wanneer jy die internet gebruik, laat jy ’n digitale vingerafdruk. So eenvoudig soos dit.

Só verduidelik Basie dié ongemaklike feit: “By elke webwerf wat jy besoek, word daar persoonlike inligting gestoor – op jou rekenaar én op die internet. Meestal is dit gerieflik. Dit maak soektogte makliker en dit onthou jou e-posadres en naam.

“Maar dit beteken ook dat jou digitale vingerafdruk potensieel die ganse internet vol lê. En jy sal jou inligting moet veilig hou.”

 

Wagwoorde

“Moet tog nooit dieselfde wagwoord vir alles gebruik nie!”

Só sê Mike Jones, tegnologie-hoof by Picsa in Brackenfell en ’n voormalige bestuurder by ’n IT-sekerheidsmaatskappy. “Jy gebruik dalk ’n wagwoord vir aankope of banksake op ’n webwerf wat streng sekerheidsmaatreëls toepas. Maar dan gebruik jy daardie einste wagwoord ook om by ’n webwerf in te teken wat nie sulke hoë standaarde het nie.

“Nou kry sluwe kuberkrakers die onbeskermde webwerf se data beet en versprei dit aanlyn, vir almal om te sien. En dan word jou eens geheime besonderhede gebruik om by allerlei webwerwe in te teken.”

Onthou:

  • Kies ’n wagwoord met ʼn kombinasie van letters, syfers en karakters (laasgenoemde is iets soos #, % en @). Gebruik dit vir webwerwe waar jy transaksies doen, byvoorbeeld vir aankope of banksake.
  • Vir ander webwerwe waar jou bankbesonderhede nie gebruik word nie, kan jy ’n wagwoord gebruik wat makliker is om te onthou.
  • “Die beste moontlikheid is egter ’n wagwoord-bestuursprogram,” sê Mike. Hier beveel hy LastPass of 1password aan. Hierdie hoogs betroubare sagteware dien as ’n virtuele kluis waarin jy al jou wagwoorde wegbêre. Jy hoef net een wagwoord te onthou om die kluis mee oop te sluit. Google “password managers” om te sien wat alles beskikbaar is.

 

WhatsApp

WhatsApp gebruik die internet. Wat dus vir jou na ’n veilige geselsie tussen vriende voel, is nie anoniem nie. Gelukkig het WhatsApp maatreëls getref om te verseker dat jou privaatheid beskerm word: Die boodskappe, foto’s en video’s wat jy met WhatsApp stuur, word byvoorbeeld nie op hul bedieners gestoor nie, net op jou foon. Dit kan ook nie deur enigiemand anders óf deur WhatsApp-personeel gesien word nie.

Maar ’n oorhaastige boodskap na die verkeerde groep kan tot gevolg hê dat jy naarstiglik probeer soek na ’n “undo”-knoppie op jou foon. Basie waarsku ook: “Enigiets wat jy op WhatsApp stuur, lê op die ontvanger se foon. En dit kan maklik-maklik weer aangestuur word. Dink dus twee keer voordat jy ’n sensitiewe foto of boodskap stuur.”

Ook hier lui die goue reël só: As ’n boodskap of foto net vir jou oë bedoel is, moet dit nie aanstuur nie. En sorg dat jou foon ’n sekerheidskode het.

 

Facebook

Facebook is ’n wonderlike manier om op die hoogte te bly van jou vriende en familie se lewe en om hulle oor joune in te lig. Maar dit is nie net jou vriende wat jou boodskappe sien nie, die hele wêreld kan dalk daarna kyk.

Mike stel voor dat jy gereeld jou privaatstellings nagaan, veral nadat jy ’n opgradering bewerkstellig het. Dit is om seker te maak jy deel inligting nét met die mense met wie jy dit wil deel.

Hy sê ook: “Aanvaar vriendskapversoeke slegs van ‘regte’ mense. Jy sal weet wat dié term vir jou beteken. Dit mag dalk mense wees wat jy persoonlik ontmoet het.

“Wees ook bedag op watter nuus en inligting jy deel. Baie foto’s en nuus is vals, en jy wil nie die een wees wat onwaarhede versprei nie.”

Mike stel voor dat jy die volgende in gedagte hou voordat jy ’n boodskap op Facebook deel – en dit geld Whats­App-boodskappe ook:

 Verifieer die bron. Kliek op die storie om by die webwerf uit te kom en gaan kyk dan na die webwerf se missie en kontakinligting. Vir foto’s kan jy ’n “reverse image”-soektog doen om vas te stel waar dit oorspronklik gebruik is en of dit gemanipuleer is. Om só ’n soektog te doen, kan jy die foto in die veld by images.google.com plak.

Lees verder. Skreeuende opskrifte, stellings in hoofletters en sensasionele foto’s word gebruik om reaksie uit te lok. Lees eers die hele storie voordat jy dit aanstuur.

 Wie is die skrywer of samesteller? Loods ’n vinnige soektog om uit te vind of die skrywer geloofwaardig is – en of hy/sy ooit bestaan! Wat is die persoon se agtergrond en kwalifikasies en wat maak hom/haar ’n kenner op dié gebied?

 Ander bronne? Kyk of die skakels in die storie die berig ondersteun en of dit geloofwaardig is.

 Kyk na die datum. Hoe oud is hierdie storie?

 Is dit nie dalk ’n grap nie? Indien ’n foto suspisieus lyk of die nuus verregaande is, mag dit dalk satire wees. Kyk goed na die webwerf en die skrywer/samesteller.

Jou eie vooroordele. Onthou dat jou eie oortuigings dalk jou oordeel kan beïnvloed.

 Vra die kundiges. Jy kan gerus by die geloofwaardige webwerf snopes.com gaan kyk. Hier word allerlei gerugte en moontlike fopnuus of vals inligting onder die loep geplaas. Doen dit voordat jy begin bid vir die tragedie wat deur welmenende vriende onder jou aandag gebring is.

 

E-pos van jou bank en instansies wat jou bankbesonderhede gebruik

Jou bank sal jou nooit vra om op ’n e-pos te reageer nie. Banke stuur slegs e-pos om jou in te lig. Indien jy onseker is, skakel jou bank. Of gaan teken via die internet by jou aanlyn-bankrekening in om te sien of daar ’n kennisgewing is. Moenie op enige skakels in die verdagte e-pos klik nie.

En bekyk die e-posadres goed. As dit nie dieselfde adres is waarvandaan jy gewoonlik amptelike bankdokumente ontvang nie, vee die e-pos summier uit. Kyk ook na die webadres. As daar ’n slotjie-teken of “https” voor die webadres staan, is dit normaalweg bo verdenking.

 

Kinders en slimfone

Basie sê: “Om jou kind ’n slimfoon te gee, is so goed jy laai hom in Johannesburg se middestad af. Dit is gevaarlik! Daarom moet jy weet hoe die betrokke tegnologie werk, sodat jy jou kind oor die gevare kan inlig.

“Stel byvoorbeeld ’n kontrak met jou kind op waarin julle op die foon se gebruik ooreenkom. Dit is immers jou plig om jou kind te beskerm. Boonop betaal jy vir die data!”

Mike stel die volgende voor: “Besluit saam dat jy enige tyd na jou kind se boodskappe mag kyk, sodat jy hom of haar kan help om die slimfoon op ’n positiewe manier te gebruik.

“Oorweeg ook ’n sogenaamde x-plan. Dit beteken dat jou kind ’n “x” vir jou kan stuur wanneer hy of sy onveilig voel. Julle kan vooraf besluit wat jy sal doen wanneer jou kind dié boodskap stuur.” Lees meer hieroor by http://faithit.com/xplan-teens-bert-fulks

 

Mike se nuttige raad vir WhatsApp-gebruikers

  1. As iemand jou op WhatsApp pla, gebruik die “block”-funksie.
  2. Wees versigtig met foto’s! Alle mense is nie altyd kwaadwillig nie, maar ’n glips op WhatsApp gebeur baie vinnig en is onomkeerbaar.
  3. Indien jy WhatsApp op die werk se foon gebruik, onthou dat jou kontrak met jou werk jou sekerlik ook tot professionaliteit op WhatsApp verplig.
Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail