Die onlangse dood van die 26-jarige Amerikaanse sendeling John Chau het wêreldwyd opspraak verwek. Die feit dat hy vermoor is deur afgeleë eilandbewoners met wie hy God se liefde wou deel, laat gelowiges met vele vrae.

DEUR RENÉ BADENHORST

Op 16 November 2018 is John Allen Chau deur lede van ’n geïsoleerde stam op die Noord-Sentinel-eiland in die Indiese Oseaan vermoor. Hierdie stam se lede is reeds lank daarvoor bekend dat hulle aggressief teenoor buitestanders optree.
Wat presies op daardie noodlottige dag gebeur het, weet niemand regtig nie. Daar kan wel heelwat afgelei word uit sy joernaalinskrywings en uit gesprekke met die vissermanne wat hom met ’n boot na die eiland geneem het.
Hieruit blyk dit dat John op 15 November 2018 die eerste keer met die Sentinel-mense probeer kontak maak het. Hy het van die vissersboot af na die eiland toe geswem en geskenke soos vis en ’n sokkerbal saam met hom geneem.
Terwyl hy nog in die water was, het hy na hulle toe geroep: “My naam is John! Ek is lief vir julle en Jesus is lief vir julle!”
Hy het ook probeer om die eilandmense se taal te gebruik – maar hulle was nie daarvoor ontvanklik nie. ’n Pyl uit ’n jong seun se boog het sy waterbestande Bybel deurboor.
Die volgende dag het John aan sy familie geskryf: “Julle mag dalk dink ek is mal, maar ek dink dis die moeite werd om Jesus aan hierdie mense te verkondig.”
Hy skryf dat hy deeglik daarvan bewus is dat nóg ’n poging om kontak te maak sy lewe mag kos, en hy voeg by: “God, ek wil nie doodgaan nie!”
Dit was die laaste wat sy familie van hom gehoor het. Die vissermanne vertel hoe hy weer na die eiland toe geswem het en hoe die Sentinel-mense hom met pyl-en-boog aangeval het.
Hoe sy aanvallers die volgende dag sy liggaam op die strand begrawe het.

Wie was John Chau?

Voordat daar enige verdere inligting beskikbaar was, het die media en die algemene publiek gou gereageer en John daarvan beskuldig dat hy ’n roekelose avonturier was. Dat hy nie die gevare in ag geneem het wat daar vir die Sentinel-mense was deur kontak met die buitewêreld nie.
Alhoewel dit geen geheim is dat John inderdaad ’n avontuurlustige mens was nie, beskryf sy vriende hom ook as ’n warm, nederige en innemende persoon. Saggeaard, en vol liefde vir God en vir mense.

In ’n onderhoud met Christianity Today vertel dr Mary Ho, die direkteur van All Nations, die sendingorganisasie waar John sy laaste opleiding ontvang het, meer oor sy agtergrond:
John was maar 18 jaar oud toe hy tydens ’n uitreik die roeping beleef het om ’n sendeling te word. In sy navorsing oor sendinggroepe het hy van die onbereikte Sentinel-mense gelees. Daarna was dit sy lewensroeping om Jesus se liefde en goedheid aan hulle te verkondig.
Mary skryf: “Elke besluit wat hy geneem het, was met die oog daarop om hom vir hierdie sending voor te berei. Om vir die Sentinel-mense lief te wees en te sorg.”
John was baie deeglik en toegewyd in sy voorbereiding. Hy het jare lank vir die eilandbewoners gebid. Hy het hom onder meer in sportmedisyne en die gesondheidwetenskappe bekwaam. Aangesien hy beplan het om die res van sy lewe by die Sentinel-mense te woon, moes hy hom voorberei op moontlike noodgevalle. Met die oog hierop is hy as mediese tegnikus opgelei.
Ten einde die taal aan te leer, het hy ’n hoogs gespesialiseerde kursus in taalkunde en kulturele antropologie gevolg. Aangesien hy geweet het All Nations beskik oor kenners van missiologie en antropologie, het hy by hulle sy opleiding ontvang en is hy uiteindelik deur hulle uitgestuur.
Daniel Wesley, ’n vriend, vertel dat John nie minder nie as 113 boeke gelees het in die 21 maande voordat hy op sy sending vertrek het. Dit het boeke oor taalkunde en fonologie ingesluit, asook oor die mense van Noord-Sentinel en die omliggende Andaman-eilande. Daar was ook ’n verskeidenheid boeke oor mense wat stamme uit die Steentydperk met die evangelie bereik het.
Om die gevare van blootstelling aan kieme en virusse vir die geïsoleerde Sentinel-mense te beperk, het hy hom so goed moontlik voorberei deur 13 inentings te ontvang en homself vir ’n tyd lank in kwarantyn te hou.

Wie sy lewe verloor, sal dit behou

Waarskynlik is die grootste rede waarom John se verhaal soveel opslae gemaak het die feit dat hy gesterf het. Niemand sal weet of hy in sy laaste ure dalk ’n duidelike opdrag van God gekry het om aan wal te gaan nie …
Daar word beweer dat al Jesus se apostels, behalwe Johannes, ’n wrede marteldood gesterf het omdat hulle nie wou stilbly nie.
Daar is ook talle verhale van sendelinge wat tragies gesterf het in ’n poging om onbereikte volke tot bekering te lei. In sommige gevalle was dit juis hierdie voorgangers se dood wat die deur na afgeleë stamme vir hul opvolgers oopgemaak het.
Daniel sê: “Iémand moes eerste kontak met die Sentinel-mense maak – en John het gehoop om ’n lang pad met hulle te stap.”
Voordat hy gesterf het, het John in sy joernaal geskryf: “Ek hoop nie hierdie is een van my laaste notas nie, maar as dit dan so is, ‘aan God die eer’.”
Dit wat John Piper geskryf het oor ’n ander sendeling wat vermoor is, is dalk ook op John van toepassing. Piper het gesê: “Die hele punt van sy lewe is dat daar iets ergers as die dood is. Hy was dus gewillig om sy eie lewe te waag om ander van iets ergers te red.”

Vir sommige kritici is bloot die feit dat John die evangelie met die Sentinel-mense wou deel, aanstootlik. Al die foute wat kolonialiseerders en evangeliste voorheen gemaak het, is hiervoor weer opgerakel.
Daniel sê: “John het nie die Sentinel-mense beskou as mense wat God se liefde minder of meer as hyself nodig het nie. Hy het nie beplan om hulle soos hy te maak nie, maar om een van hulle te word, om ’n verhouding met hulle te bou, om hulle deur sy mediese opleiding te help.
“En om hulle uiteindelik die geleentheid te gee om God se liefde te beleef en Hom persoonlik te leer ken.”
Dalk moet buitestanders nie veel hieroor of oor John Chau sê nie. Dalk kan hulle bloot Paulus se woorde aan die gemeente in Korinte onthou wanneer hy skryf: “Ons toewyding aan Christus laat ons dwaas lyk” (1 Kor 4:10, Nuwe Lewende Vertaling).

Bronne
www.desiringgod.org; www.christianpost.com; www.washingtonpost.com; www.
christianitytoday.com; www.christianity.com

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail