’n Kind se toekomstige sukses word dikwels binne die eerste ses jaar bepaal. En dit hang feitlik uitsluitlik van die betrokke ouers af. As ouers hul kind laat floreer, kry daardie kind die beste moontlike kans in ’n komplekse wêreld.

DEUR ANSIE GOUS

Kinders se optimale leer en stimulasie vind binne die eerste jare van hul lewe plaas. Daar word trouens gereken dat 90% van die brein se ontwikkeling binne die eerste vyf lewensjare plaasvind. Uiteraard speel die betrokke ouers die grootste rol wanneer dit by hierdie tipe groei kom.
Ouers kan hul kinders positief én negatief beïnvloed, ook aangesien die ontwikkelende brein uiters vatbaar vir stres is. Die gehalte van die ouer-kind-verhouding is dus van die grootste belang vir die optimale ontwikkeling van die brein – vir dit wat ons gewoonlik “intelligensie” noem, maar ook vir die kweek van emosionele en sosiale intelligensie.

Waarom is vroeë leer belangrik?
• Kinders se intelligensievlak word verhoog of verlaag afhangend van hul omgewing, veral binne die eerste ses jaar van hul lewe.
• Vroeë stimulasie kan die brein se grootte en chemiese funksionering beïnvloed.
• Navorsing wys uit dat ’n baba wat in ’n ouer se arm lê en na verskillende dinge kyk en luister, in die beste posisie is vir optimale vroeë leer.
• Kinders word gebore met ’n nuuskierigheid om te leer en ’n behoefte daaraan om hul omgewing te verstaan.
• ’n Baba se brein werk soos ’n rekenaar: hoe groter die inset, hoe groter die uitset. Vanaf die eerste dag ná geboorte sal ’n baba wat nie honger of vaak is nie dit geniet om na verskillende voorwerpe te kyk.
• Babas leer deur sensoriese ondervinding. Gee hulle dus die geleentheid om hul sintuie soveel moontlik te gebruik. Dit lei tot sintuiglike waarnemings wat hulle help om begrippe te vorm, en daardie begrippe help weer met hul toekomstige funksionering.
• Die vroeë leerproses beïnvloed die wyse waarop kinders leer as hulle ouer word.

Emosies
• Jy gaan soms oorweldig voel deur die verantwoordelikheid wat by die versorging van ’n baba betrokke is. Aanvaar dit sonder om jouself té streng te beoordeel.
• Jy gaan nie altyd verstaan waarom jy voel soos jy voel nie. ’n Ouer let tog ook ’n baba se ongedefinieerde gevoelens op: Jou baba kommunikeer deur te huil – en jy moet raai wat die oorsaak is. Jy sal dikwels verkeerd raai. Praat hardop met jou baba. “Is jy honger? Is jy moeg?” Verwoord wat jy vermoed jou kind se gevoelens is, en hou deur die loop van die kind se grootwordjare daarmee vol. Buiten die feit dat jou baba deur jou stem gekalmeer word, help dit hom of haar om ’n gevoelswoordeskat op te bou. As hulle weet wat hulle voel, verhoog dit hul emosionele intelligensie. Dit sal hulle later help om hul emosies beter te beheer.
• Onthou dat ’n ma die belangrikste persoon in die baba se lewe is. Babas verkies in die eerste plek hul ma, daarna hul pa – en dán eers die ma se ma en die pa se ma.
• Maak dikwels oogkontak met jou kind.
• Sorg dat jy dikwels jou vel teen jou baba s’n hou. Dit verhoog die afskeiding van oksitosien en versterk jou band met jou baba.
• Reageer op jou baba se gesigsuitdrukkings. Glimlag terug. Wys ook verbasing. Onthou: Jy is jou baba se eerste en belangrikste spieël.
• Haal diep asem wanneer jou baba huil en jy daardeur oorweldig voel. Tel die baba op en hou hom of haar styf teen jou lyf. Liggaamshitte kalmeer babas. Praat saggies en rustig met jou baba. Ritmiese beweging, soos om die baba rustig heen en weer te wieg, help ook.
• As jou angs te veel word, of as jy langer as tien dae lank depressief voel, kry dadelik hulp. Terapie en/of medikasie mag hier die antwoord wees.

Die ouer-kind-verhouding en die atmosfeer tuis
• Navorsing het uitgewys dat ’n kind se intelligensie beter ontwikkel wanneer daar ’n liefdevolle en bemoedigende ouer in die omgewing is.
• Ons emosies en verhoudings bepaal ons gedagtes en daarom ons selfwaarde. Indien laasgenoemde nie sterk is nie, word die leerproses belemmer.
• ’n Ouer se rol as onderwyser is informeel van aard. Lei deur jou voorbeeld, skep ’n stimulerende omgewing, luister na jou kinders, laat hulle toe om self onder jou toesig te leer, en stel hulle aan die wonderwêreld voor waarin hulle lewe.

Taal
• Die grondslag vir taalverwerwing word in die baba se eerste paar weke gelê.
• Praat met jou baba vanaf die eerste keer wat hy of sy in jou arms lê. Wissel jou stemtoon af.
• Neem jou kind se babageluidjies en brabbeltaal ernstig op en reageer in gewone taal daarop. Volgens navorsers maak babas in hul eerste jaar ál die basiese klanke wat in die menslike taal bestaan. Babas laat vaar uiteindelik die klanke wat nie deel van hul taal vorm nie.
• Praat in jou moedertaal met jou baba. Laat elke versorger in sy/haar moedertaal met jou baba praat. Jou kind mag dalk langer neem om te begin praat omdat hy of sy aan meer as een taalmodel blootgestel word, maar dit verseker optimale breinstimulasie.
Begin in die eerste jaar al vir jou kind uit boekies voorlees. Speel ook musiek en sing vir jou kind.

Pas jou baba se brein op
• Navorsers sê dat minstens 50% van alle vorme van breinskade voorkombaar is.
• Maak seker dat jou baba al die nodige inentings kry, veral dié teen masels.
• Sorg dat jou kind nie stampe teen die kop kry nie.
• Moet nooit met jou kinders in ’n motor ry as hulle nie vasgegordel is nie.
• ’n Baba se brein vul nog nie die hele skedel nie en kan maklik beseer word. Moet nooit die baba skud as jy moedeloos, kwaad of gefrustreerd voel nie.
• Sorg dat jou baba se omgewing veilig is; hy of sy kan val in die enkele oomblik wat dit jou neem om om te draai en iets op te tel.

Liggaamlike ontwikkeling
• Omdat beweging ’n baie belangrike manier is waarop babas se intelligensie ontwikkel, moet jou kind die vryheid hê om te beweeg. (Jy moet natuurlik toesig hou!) Sit jou baba op haar maag sodat sy kan omrol, en op haar rug sodat haar arms en bene vry kan beweeg.
• Gee jou baba gereeld voorwerpe met verskillende teksture en vorms. Maak net seker dat dit veilig is om dit in die mondjie te sit, want ook dit is ’n manier waarop babas nuwe dinge ontdek. Gebruik sommer alledaagse voorwerpe wat in die huis beskikbaar is.
• Een van die belangrikste maniere om ’n kind se ontwikkeling te stimuleer, is om hom of haar te laat kruip. Dit help met oorkruis-koördinasie en dit gee aan kinders komplekse aanrakings- en sintuiglike stimulasie. Kinders wat nie as babas gekruip het nie ondervind dikwels later leerprobleme. Moenie jou kind in ’n loopraam of ’n spring-apparaat (“jolly jumper”) sit nie.

Dr Ansie Gous is ‘n kliniese sielkundige met ‘n sterk belangstelling in ouer-baba psigoterapie, en die belangrikheid van die verhouding tussen ma/versorger en baba.

Laai die artikel as ‘n pdf-weergawe hier af.

LiG ondersteun vroeëkinderontwikkeling, omdat ons weet dat dit Suid-Afrika positief kan verander. Kinders wat tot hul volle potensiaal ontwikkel, sal volwassenes word wat ’n sinvolle lewe kan lei en selfonderhoudend ’n bydrae tot hul gemeenskap kan maak. Vroeëkinderontwikkeling kan armoede verlig en aan mense waardigheid gee.
LiG-lesers kan help om Suid-Afrika ’n beter plek te maak deur die LiG-fonds vir vroeëkinderontwikkeling te ondersteun. Doen dit deur op LiG in te teken – ‘n gedeelte van LiG se intekengeld word geskenk aan projekte wat fokus op vroeë-kinderontwikkeling.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail