“Ek het gebid dat God deur die dokter sal werk, dat Jesus of ’n engel my hand sal vashou …” skryf Sonica Mouton.

My storie begin Februarie 2019. Ek is die ma van twee dogtertjies (5 en 8). Ek was ’n redelike fiks en gesonde 33-jarige ma.

Ek het nog altyd geweet God bestaan en in Hom geglo. Alhoewel, omdat die lewe besig raak het my geloof ook ophou groei. Ek het geglo, maar nie ’n verhouding met die Here gehad nie.

Die 10de Februarie het ons gebraai en ek en my vriendin het die springmat omgedraai vir haar 2-jarige, die staalpyp het perongeluk aan die elektriese heining geraak en ek het geskok. Dit het nie ernstig gevoel nie maar my hart het wel vinnig geklop en ek kon die adrenalien in my liggaam voel vir tot en met ’n uur daarna. Daardie aand het ek baie sleg gevoel en was naar en het opgegooi. Ek het gedink miskien was dit die alkohol, alhoewel ek nie baie gedrink het nie. Ek het redelik vroeg gaan slaap.

Ek was die volgende dag weer my ou self. Maar daardie aand, toe ek ’n boek vir my kinders lees, begin my hart kloppe mis. Dis was baie vreemd en ek het dit eers net probeer ignoreer.  Maar hoe meer ek ontspan en stil lê hoe erger raak dit. Later het dit so erg geraak dat dit begin voel het of my hart heeltemal deurmekaar en te vinnig klop. My maag het begin gaan en ek het sweet uitgeslaan. En sodra ek opstaan en rondloop was ek okay.

Iets was nie reg nie. Ek het dokter toe gegaan die volgende oggend en hulle het toetse gedoen insluitend ’n EKG en het niks gevind nie. Daardie aand het dieselfde gebeur. Sodra ek gaan lê en rustig geraak het, het my hart eers slae begin mis en dan uit ritme begin klop. Dan het diaree en warm gloede gevolg. Dié keer het ek opgespring en myself hospitaal toe gery. My man en kinders het geslaap en ek wou nie my kinders ontstel nie. By die hospitaal het hulle niks fout met my hart gekry nie.

Sonica Mouton, ‘n bedryfsielkundige, en haar twee kinders. Sy het geleer niks is belangriker as jou verhouding met God nie. Foto verskaf

Die volgende aand het dieselfde gebeur. Ek was beangs. Ek het geweet daar was iets ernstigs fout met my. Ek het besef dit gebeur slegs as ek heeltemal ontspanne is en probeer slaap. Sodra ek aktief is en regop dan het dit nie gebeur nie. Elke keer dieselfde patroon.

Ek het probeer regop slaap en dit het nie veel gehelp nie. Ek het moeg en vreesbevange wakker geword die volgende oggend na ’n nag van min slaap. Ek het weer omtrent drie keer in die daaropvolgende aande trauma-eenheid toe gejaag. En elke keer kon hulle niks fout kry nie. Hulle het vir my slaappille en angsmedikasie voorgeskryf. As ek nou terugkyk besef ek die medikasie sou fataal gewees het as ek dit gedrink het. Ek het ook as ’n sielkundige geweet dat die hartkloppings die oorsaak was van die angs en nie andersom nie.

In twee weke het ek party aande minder as twee ure geslaap per nag. Ek was moeg, maar  ek het geweet ek kan nie opgee nie. Vir my twee kinders het ek aanhou baklei al het ek geen energie meer gehad nie. Ek was desperaat, moeg en moedeloos. Ek het my testament in orde gekry (net vir ingeval), ’n 12 weke-program vir my kinders wat hul sal kan help om die verlies van ’n geliefde te hanteer vir my ma gestuur.

Vrydag 22 Februarie was ek verby moeg. Ek het dié oggend met klassieke hartaanval- simptome wakker geword. Linker skouer- en armpyn, lighoofdigheid, kortasem, bors- swaarheid en ’n algehele gevoel van “impending doom”.

Die naweek het ek gedroom hoe my siel wegkwyn, en my hart stop, en soos dit gebeur het ek my dogtertjie probeer wakker maak om haar pappa te gaan roep in die ander kamer, maar ek was te swak. Ek het gekwyn en al die energie het my liggaam verlaat. Ek het meteens wakker geskrik, en met die vinnig regop sit het my hartritme herstel. Ek het geweet dit was hoe ek gaan doodgaan.

Sondagaand het gekom en weer dieselfde – ek het ongevalle toe gejaag en was weggewys. Dié keer sonder dat hulle eers my vitals gevat het, al was ek geskeduleer om CCU toe te gaan daardie volgende oggend. Ek was besig om dood te gaan, ek het dit geweet maar niemand wou my glo nie. Al die toetse was negatief, my liggaam het vir my gesê moenie slaap nie, moenie ontspan nie. Maar ek was besig om té moeg te raak om te luister. My resting heart rate (RHR) het gegaan van 68bpm tot en met 55bpm en ek het 8 kg verloor vandat my simptome begin het.

Die Maandag oppad hopsitaal toe was ek sonder hoop. Al wat ek geweet het is dat ek moet baklei vir my kinders, maar ek was moeg. Ek was op my laagste en ek was alleen. Net daar in my kombuis het ek begin bid. En ek het gebid soos nooit te vore nie. Ek het vreeslik gehuil terwyl ek bid. Ek het vir Hom gesê ek is bang en ek weet nie wat besig is om met my te gebeur nie. Ek het vir God gevra om my asb te help. Toe ek my oë oopmaak was die eerste ding wat ek sien ’n klip. Dit was ’n klip met ’n Bybelvers op wat my dogtertjie al ’n jaar gelede geverf het. Dit Bybelvers Jesaja 41:10 het daarop gestaan. Ek het daai klip so lank terug gesien, nooit regtig aandag gegee aan hom nie en vir een of ander rede was hy op die oomblik toe ek my oë oopmaak, voor my.

Ek het die Bybelversie op die internet gesoek. Dit het gesê: “Moenie bang wees nie, want ek is by jou. Moenie bekommerd wees nie. Ek is jou God. Ek versterk jou, ek help jou. Ek hou jou vas, met my eie hand red ek jou.”

Op daardie oomblik het ek geweet ek is nie meer alleen nie, ek het hoop gevoel en geweet God luister! Ek was so verbaas en verwonderd en het deur my trane en alleenheid so dankbaar gevoel om te dink Hy is by my. Hy het geluister na my en my geantwoord.

By die hospitaal het hulle ’n hele klomp toetse gedoen en almal het weereens normaal uitgekom. Ek het nie verstaan nie. Ek het geweet as ek weer moet huis toe gaan, gaan dit net weer gebeur.

Weereens moedeloos stap ek toe om die hospitaal. En weereens het ek huilend en ontsteld gebid. Ek het vir die Here gevra om my asb te help. Ek het hom bedank vir die boodskap van vroeër en hom gesmeek om my lewe te red. Nie vir my nie, maar vir my kinders. Ek het vir hom gesê ek het nodig om te bly, nie vir my nie maar vir hulle. Hulle is te klein.

Toe ek weer by my hospitaal-bed kom, toe sit die hoof kardioloog op my bed en wag vir my. Hy het my gevra oor my simptome, en ek het vir hom my lys gegee terwyl ek geveg het om my trane te sluk. Daar was geen bewyse behalwe my woord van wat fout is met my nie. Al die toetse was normaal en tot in die drie aande wat ek in die hospitaal geslaap het was daar niks. Die kardioloog het so na my gekyk en vir my gesê hy glo my en hy het voorgestel hul doen ’n EPS-studie, sodat hulle kan vasstel wat besig is om met my te gebeur.

’n EPS-studie is ’n “cardiac electrophysical study” waar hulle kateters deur my hoofslagaar laat gaan tot in my hart en dan die elektriese aktiwiteit van my hart monitor. Ek was só bang, maar het ook ’n sterk gevoel gehad dat ek nie alleen is nie! Al het ek die twee weke voor dié oomblik uiters alleen gevoel, het ek besef God is by my! En ek sal nooit weer alleen in my lewe wees nie.

Terwyl hulle my na die teater toe gestoot het, het ek gebid. Ek het gebid dat God deur die dokter werk, dat Jesus of ’n engel my hand vashou en dat die Heilige Gees in my liggaam ingaan en in my hart. Ek het aanhou bid gedurende die prosedure, ek was aan-en-af wakker. Meer as vyf ure was hulle besig met my. My familie was verby ontsteld oor my.

Iewers aan die einde het ek gedaan aan die slaap geraak. Toe ek wakker word was die kardioloog daar. Hy het vir my gesê hy het die fout gekry. Hy het my probleem reggemaak! Hy het vir my vertel dit was ’n baie gekompliseerde geval. Hulle het eers lank gesukkel om die simptome uit te lok wat ek beskryf het. Die tegnikus het glo vir hom gesê om te stop, daar is niks nie. Maar hy sê iets het hom gedryf om verder te kyk. Ek glo dit was God wat deur hom gewerk het. Hy het na sy kantoor toe gegaan en in sy handboeke gaan lees en het iets gevind en besluit om ’n kans te vat en dit met my te doen. Dit het gewerk het en al my simptome het gelyk na vore gekom.

Ek het gevoel hoe my hart begin kloppe mis en deurmekaar begin klop, ek het weereens gevoel of ek diaree kry en my bloeddruk het geval. Die kardioloog sê hy het in ’n stadium gedink hy gaan my moet skok so erg het dit geraak. Ek het net aanhou bid en bid, en geglo dat die Here teenwoordig is en saam met my die pad stap! Die kardioloog het my gebrand tot die “dysarythmia” gestop het.

Dit was glo ’n baie baie raar kondisie en absoluut fataal. Die kanse goed dat dit my sou doodmaak. Sodra ek ontspan het het ek bradikardie- en etopiese kloppe begin kry. Wat dan later artriale fibrilasie en meer veroorsaak het.

Ek sou moontlik in my slaap gesterf het met sulke simptome. Net soos in my droom. Die kardioloog is nie seker presies of ek gebore is met die abnormaliteit of dit iets is wat met tyd gebeur het nie. En hoekom die simptome so gemanifisteer het nie. Dit is so rare kondisie dat die internet nie regtig inligting daaroor het nie. Ook omdat ek nie regtig kon ontspan in die hopsitaal self nie, het my simptome nooit uitgekom in die aande daar nie. Baie dankbaar het ek gehuil en vir God en die kardioloog dankie gesê.

Ek weet vir ’n feit God het gewerk deur daardie dokter. Ek weet dat Jesus my met sy eie hand gered het, net soos in die Bybelvers op die klip.

Al my nare simptome was weg.  Alhoewel twee weke later toe klop my hart so vinnig dat ek met myself ICU toe jaag (ons is net drie strate van die hospital af). Ek was oortuig ek is besig om ’n hartaanval te kry.  Ek is toe gediagnoseer met POTS (Postural Orthostatic Trachycardio syndrome). Wat beteken dat my hart vreeslik vinnig begin klop as ek staan, maar kalmeer as ek lê. Ek het ook PTSD ontwikkel wat die kondisie erger gemaak het. Ek moes kardiale rehabilitasie doen. My simptome het geleidelik beter begin raak na so 2-3 weke nadat ek op hartpille gesit is wat my hartklop se spoed beheer.

Al het ek geweet dit is nie lewensgevaarlik nie, en ek het geweet in my hart dat God my gered het, was ek nog nie rustig nie en nog baie gestres.

’n Paar weke later het ek voor my rekenaar gesit en werk. Ek het ’n artikel geskryf oor deernis en hoe ek dit vir myself gehad het en die dokter dit vir my gehad het en hoe dit mens kan help in jou beroep. Ek was besig om dit te plaas op LinkedIn. En net so voor ek dit plaas het ek gebid en vir God om verskoning gevra en weereens gesê hoe dankbaar ek is dat ek gered is, maar ek het ook vir Hom gesê ek is nogsteeds bang. Toe ek die artikel plaas op LinkedIn, het my nuwe rekenaar van twee maande skielik begin flikker, die skerm het wit geraak en hy het begin flikker op een sin uit my hele artikel. Hy het vir 10 minute lank geflikker en vasgehaak op een sin wat ek geskryf het:

“All and all, I believe that God saved me through that doctor…

Ek was so verbaas, en maak nie saak wat ek gedruk het nie, my rekenaar het net aanhou flikker op die spesifieke sin. Ek kon nie eers my rekenaar afskakel nie. God het weereens vir my gesê dat hy my gered het. Hy het my weereens gerusgestel. Ek was dadelik rustig na dit, en ek was so verbaas oor die grootheid van wat gebeur het. Hy het met my gekommunikeer deur tegnologie!! Ek het sy teenwoordigheid so gevoel en ek was dadelik gerusgestel. Dit was duidelike kommunikasie vanaf God.

Nie lank daarna nie het my simptome begin verdwyn, tot die POTS was weg. Ek was heeltemal herstel en kon tot my hartpille los! Ek het baie gebid en die Here bedank en vir die Here gevra hoekom is ek so bevoorreg om gered te kon wees. En hoe kan ek hom terug betaal? Ek is net dankbaar in oorvloed.

’n Paar nagte daarna uit die bloute het ek gedroom rooi strale lig kom na my toe (soos in ’n 3D-film). Ewe skileik van vér af het daar groot swart/wit getinte woorde gekom, hulle was eers klein en het toe al hoe groter geword en reguit op my afgekom. Die woorde was LUCAS 8. Dit het geklink na ’n Bybelvers, maar ek was nie seker nie. Ek het dit toe opgesoek.

En toe ek sien wat dit beteken, het ek besef die Here het weereens vir my ’n boodskap gestuur. Lukas 8 gaan oor die belangrikheid en die krag van God, sowel as die wonderdade wat hy verrig het.

Dit begin met ’n opsomming van Jesus se bediening hoe hy oral gepreek het en die koninkryk van God verkondig het.

En dan word in die res van die hoofstuk vier verhale vertel van wat God deur Jesus verder gedoen het: die stilmaak van die storm, die genesing van Legio, die genesing van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het en die opwekking van Jaïrus se dogter. Vier verhale van wonders – in die natuur, in die gees (duiweluitdrywing), in die liggaam, en selfs in die dood.

Niks is by God onmoontlik nie. Dít is wat hierdie verhale vir ons van wil oortuig. Maar daar is ’n tweede boodskap in hierdie verhaal. Die belangrikste betekenis van dié gedeeltes lê in wat Jesus vir hulle gesê het.

Vir die anonieme vrou sê Jesus: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede en bly genees van jou kwaal.”

Die genesing is dus wonderlik, maar die redding is die ding waaroor dit ten diepste gaan. Jesus sorg vir dié wat Hom vertrou. En Hy red hulle.

Jesus sorg vir dié wat Hom vertrou. Dit kan genesing en sy wonderwerke insluit.

Ek weet nogsteeds nie hoekom ek so bevoorreg is dat Hy met my gekommunikeer het nie en ook my genees en gered het nie. Maar ek sal vir ewig dankbaar wees en ek hoop my boodskap gee hoop vir die mense daarbuite en ook die besef dat niks vir die Here onmoontlik is nie. ’n Mens moet net glo en vertrou.

Jou verhouding met God is jou grootste geskenk.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail