Baie ma’s voel effens benoud wanneer hulle ’n middag lank ’n onbekende baba moet versorg. Daar is egter diegene wat kans sien vir etlike maande hiervan! Hulle laat willens en wetens toe dat hierdie weerlose kleintjies in hul huis en hart kom nesskop. Net om hulle weer te laat gaan … deur Susan Goosen

Hulle word kangaroe-mammas* genoem. En maak hul hart ’n klein tydjie vir iemand anders se baba oop.
Eloise Loots, ’n maatskaplike werker by ProCare in Wellington, verduidelik: “Kangaroe-ouers skep tydelik ’n veilige huis vir verlate babas of babas in nood. Dit geld nadat die pasgeborene die hospitaal verlaat totdat hy of sy wettig aangeneem kan word.

“Die duurte van hierdie spesiale sorg wissel, maar ons probeer om die proses binne drie tot vyf maande af te handel. Wanneer premature of siek babatjies ter sprake is, kan dit langer neem.”

In die tyd voordat die aanneming gefinaliseer word, neem die kangaroe-ouers volle verantwoordelikheid vir al die baba se fisiese en emosionele behoeftes, vertel Eloise. “Die staat gee wel ’n klein toelae,” sê sy, “maar dit is nie naastenby voldoende nie. Die meeste kangaroe-mammas moet vindingryke planne maak om in hierdie outjies se behoeftes te voorsien. Hulle ruil byvoorbeeld kleertjies uit, en hulle leen oor en weer die nodigste by mekaar.
“Baie mammas bou ’n hele netwerk op – veral van professionele mense soos arbeidsterapeute en pediaters – wat bereid is om hul dienste gratis aan te bied. Selfs professionele fotograwe haal dié lysie!”

Oor die verbintenis wat hierdie spesia­le mense tot hul roeping en verantwoordelikheid het, is daar min twyfel.
Eloise vertel: “Die kangaroe-mammas wil vir hierdie babas alles doen wat hulle vir hul eie babas sou doen. Hulle vertroetel, versorg, hulle sorg vir immuniserings. En hulle maak selfs ’n bêreboksie vol herinneringe vir die nuwe aanneemouers. Wanneer hulle hospitaal toe gaan om ’n baba te gaan haal, is die tassie gepak, kompleet asof dit die geboorte van hul eie baba is!

“Deur dit alles verrig hulle dan die belangrikste taak van almal: Hulle lê die grondslag vir goeie en liefdevolle verhoudings wat dwarsdeur daardie kind se lewe sal geld. “Die babas beleef in dié soort koestering dat hulle kosbaar en geliefd is. Dat iemand genoeg omgee en dat die wêreld ’n vriendelike en ’n veilige plek is. Hulle ken niks anders nie. “En dit is met daardie groot geskenk dat hulle dan na hul nuwe aanneemouers gaan.”

God se stem

Vir sommige kangaroe-mammas is hierdie roeping al ’n geruime tyd deel van hul lewe.

“Die Here het kleintyd reeds hierdie droom in my hart geplaas,” vertel dr Jurica Chinner, ’n mediese praktisyn in Pretoria wat ter wille van kangaroe-sorg haar praktyk tydelik gesluit het. “Toe ek agt jaar oud was, het ons bure ’n laatlam gehad en ek is toegelaat om die baba te help bad. Ek het toe al daaroor gedroom dat ons eendag ’n babatjie in die veld gaan optel wat ek dan moet versorg.”

Sy vertel hoe dié droom waar geword het: “Ek het in 2013 begin bid vir ’n manier waarop ons bevoorregte gesin by die groot nood in die wêreld betrokke kan raak, en die Here het SA Cares for Life oor ons pad gebring. Deur hulle het ons by kangaroe-sorg betrokke geraak. En sedertdien het ons ses sulke babatjies in die huis gehad. Dit is so lekker! “Daardie klein, weerlose lyfies wat ons mag versorg, vashou, bad, liefhê en vir wie ons kan bid en sing … Ons hele gesin – my man, ons twee ouer kinders, en selfs die oupas en oumas – spring in.
“Eintlik is dit vir my soos ’n soort verslawing!”

Karin Senekal, ’n kangaroe-mamma van Wellington, se verhaal begin ook met weerloosheid, en in haar kleintyd. Sy vertel: “Dit is babas se weerloosheid, daardie klein lyfies, wat my nog altyd geraak het.” Ook sy het as klein dogtertjie by die motor se venster uitgekyk, altyd met die hoop dat hulle ’n baba in nood sal sien wat hulle dan moet huis toe neem en versorg. “Eintlik glo ek bloot dat die Here my van kleins af voorberei het vir hierdie liefdestaak,” sê sy. “Hy het my ook ’n man gegee wat my hierin ondersteun.”

Karin en haar gesin het in 2003 hul eerste kangaroe-baba gekry. Sedertdien het hulle talle babatjies versorg en self ook ’n babadogtertjie aangeneem. “Ek kry dikwels ’n voorgevoel dat daar ’n nuwe baba oor ons pad gaan kom,” sê sy, “en ek het geleer om God se stem te hoor en daaraan gehoorsaam te wees.

“Elke babatjie is só uniek, en elkeen los diep spore in ons hart. Ons word so lief vir elkeen dat dit soms moeilik is om te onthou dat hulle nie ons eie is nie, dat ons hulle weer sal moet laat gaan. Maar daar is altyd die wete dat ons ’n verskil kan maak in hierdie baba se lewe, dat ons die brug kan wees tussen die biologiese ouers en die aanneemouers. “Wanneer ons dan moet laat gaan, herinner ek my daaraan dat my emosies nie deurslaggewend is nie, maar die liefdesdaad wat ek kon verrig.”

God se hart

Anneke Scholtz en haar gesin woon in Durbanville. Hulle het sedert 2010 nie minder nie as 10 kangaroe-babatjies versorg. “Die Here het regtig met my gepraat oor die klein kindertjies se groot nood, en Hy het my geroep om betrokke te raak en ’n verskil te bring.

“Terwyl ons hierdie outjies in ons huis het, kan ek op soveel verskillende maniere God se hart vir hierdie weerlose kinders ervaar. Hy het reeds op wonderbaarlike wyse die gebede verhoor wat ek vir hierdie kinders gebid het. Hy is altyd getrou aan sy beloftes.

“Jy kan hierdie taak in elk geval nie aanpak sonder dat jy gedurigdeur vir die kinders intree nie. En die Here voorsien die krag, liefde en geduld wat ’n mens hiervoor nodig het.”

“Dit is so ’n wonderlike voorreg,” sê Anneke, “maar dit is terselfdertyd ’n reusetaak. Veral die eerste ruk is baie moeilik: Om ’n pasgebore babatjie in te neem sonder dat jy enige agtergrond oor die swangerskap het, is ’n enorme uitdaging.

“Dan is daar ook die praktiese implikasies: Jy moet liggaamlik sterk wees, en gesond genoeg, want daar gaan beslis eise aan jou en jou gesin gestel word. Die baba gaan soms moeilik wees en kan koliek of refluks hê. Of doodgewoon siek word. Hoe ook al: Jy gaan soms tot diep in die nag met ’n huilende babatjie sit.

“Dit is ook emosioneel gesproke uitdagend: Om uiteindelik van ’n kangaroe-baba afskeid te neem, is baie swaar. Vir jong kinders in die gesin kan dit regtig traumaties wees. Ek reken dit help as jou eie kinders al ’n bietjie groter is.
“Daar is natuurlik ook finansiële uitdagings: Doeke, formulemelk en ander babaprodukte is nie goedkoop nie …”

“God het ’n aanneem-hart.”

Dit is Tania Schultz, kangaroe-mamma in Somerset-Wes, se oortuiging. Hul gesin het sedert 2011 reeds nege kangaroe-babatjies versorg. “Ons lees immers in Psalm 68:7: ‘God laat eensames in ’n huisgesin woon.’
“En wanneer ons ’n babatjie vir sy of haar nuwe aanneemouers gee, kan ons regtig sien hoe God hulle tot ’n nuwe gesin saamvoeg.

“Die bekende Afrika-gesegde ‘It takes a village to raise a child’ is hier net so van toepassing. Gemeenskappe moet saamwerk om hierdie kwesbare kindertjies en die kangaroe-ouers te ondersteun. Dit is ’n tasbare manier waarop ons God se bood­skap van hoop en liefde kan uitdra.”

Die Schultz-gesin se betrokkenheid by hierdie saak het ook wyer uitgekring: Ten einde meer ondersteuning te kry, het Tania saam met ’n projekspan die “Kanga en Roo-projek” as deel van die Helderberg-gemeente in Somerset-Wes se uitreik­aksies gestig.

Hulle het die projek in Mei 2016 met ’n groot ooievaarstee afgeskop, en hulle samel veral weggooidoeke en formulemelk in om gesinne te ondersteun wat hierdie babas help.

“Hierdie is God se projek. Ons sien sy genade en sy hand in alles. Gedurende die 20 jaar wat ek by die kangaroe-projek betrokke is, kon ons nog elke baba by ’n liefdevolle gesin plaas, ’n ‘forever family’.”
– Eloise Loots, maatskaplike werker

  • Vrywilligers moet ‘n keuringsproses deurgaan voordat hulle as kangaroe-ouers mag dien. Die keuring van die ouers, statutêre prosesse ten opsigte van plasings van babas asook die monitering van hierdie plasings word deur ‘n Kinderbeskermingsorganisasie soos NorSA gefasiliteer.

Daar is ’n baie groot behoefte aan kangaroe-mammas, maar ook aan mense wat bereid is om van hul tyd, geld en dienste te gee om hierdie mense te ondersteun.
Eloise Loots vertel: “Ons het mammas wat twee babas op ’n keer versorg – en dan is daar diegene wat tot ses babas tegelyk versorg! Ons noem hulle die ‘bravehearts’.”

  • Besoek www.procare.co.za vir meer inligting en maniere waarop jy betrokke kan raak. Jy kan ook SA Cares for Life by janice@sacares.co.za kontak.

Karin Senekal het Open Arms of Hope (www.openarmsofhope.co.za) gestig, ’n organisasie wat spesifiek daarop fokus om ’n liefdevolle tuiste vir babas wat verlaat is, te verskaf.

  • Kontak Tania Schultz by tania@kidsxpress.org vir meer inligting oor die “Kanga en Roo-projek”.
Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail