Soos my ma voor my, moes ek ook ’n uitmergelende pad met kanker stap. Ek en my gesin is deur diep waters. Maar ek sal hierdie pad nie vir iets anders verruil nie.

DEUR ALDA NIENABER

Ek was besig met die laaste blok in my finalejaar. My mondelinge eksamen was daardie oggend. Dit het goed gegaan, en ek kan onthou hoe ek uitgestap het na my kar onder die bome. Ek was klaar! Gekwalifiseer! ’n Dokter!

’n Rukkie later het ek opgewonde met Pappa gepraat. Toe kom sy woorde: “Wanneer kom jy huis toe?”

Ek het planne gehad om eers my sukses te vier. “Dalk oor ’n dag of twee?”

“Miskien sal dit beter wees as jy gouer kom …”

Hulle het my nie vertel presies hoe siek my ma was nie; ek moes nie bekommernisse voor my eksamen hê nie. Sesuur die volgende oggend het ek in die pad geval.

“Ek getuig van u trou, u sorg – my Redder en my Here. Dankie, dankie, dankie Vader! Dankie ook vir hierdie pad. Vir die lesse wat ek hieruit kon leer, vir die mense wat U oor my pad gestuur het. Vir die groei van hierdie jaar,” is Alda se gebed na ‘n moeilike jaar van veg teen kanker. Foto verskaf

My aanvanklike belewenis van kanker was dus “up close and personal”. Ek het dit alles gesien: die chemoterapie, die verswakking, die einde.

Op 32 het ek dieselfde nuus as my ma gekry – borskanker. My seun Steyn was maar vier maande oud, en Lohan twee en ’n half jaar. Dan was daar my arme man, Wihan …

Ek moes agt jaar ná my ma dieselfde pad as sy loop: CT-skanderings, chemoterapie, ’n dubbele mastektomie.

Die goeie nuus was dat ek dadelik met chemoterapie kon begin. Ek het nog geborsvoed, maar ek het my op die prosedure voorberei. Elke keer as ek Steyn gevoed het, het ek hom styf teen my vasgedruk. Ek het my verwonder aan hoe perfek hy aan my bors pas. En ek het probeer om die sensasie van hy wat aan my drink in my herinneringe vas te lê.

Ek het gou begin verstaan wat chemoterapie aan jou doen. Daardie doodse, dóódse moegheid. Die gevoel dat selfs dínk te veel energie van jou verg, wat nog te sê beweeg, of eet …

Wihan was ’n absolute staatmaker met die seuntjies. Tussen hom, ons huishulp en my pa-hulle is daar baie mooi na my seuntjies gekyk.

Kort ná my eerste chemo-sessie het ons gesin ’n foto-sessie gehad. Dit was ’n gepaste manier om van my hare afskeid te neem.

’n Dag of twee ná die tweede chemo-sessie het dit begin: Ek staan in die stort – en toe ek my vingers deur my hare trek, hoor ek die eienaardigste tik-tik-tik-geluide. Ek kyk af, en daar lê ’n bos hare tussen my vingers verstrengel. Met elke trek van ’n kam, kom my hare in bosse uit.

Ná ’n dag of wat roep ek Lohan nader en sê. “Lohan, Mamma wil ook soos Boetie lyk, so met die min hare. Kom help my om dit uit te trek.”

Dit word vir hom ’n groot speletjie om die slierte een na die ander uit te trek, en dit maak die hele proses vir my makliker.

Daarna het ’n tweede reeks chemoterapie-behandelings gevolg.

Hierna was dit die mastektomie, waaraan ek steeds nie graag dink nie. Tydens die operasie het my bloeddruk erg gedaal, en daarna het my lyf vir ’n lang ruk in ’n skoktoetand verkeer. ’n Vinnige hartklop, bewerasies, braking.

Nadat ek daarvan herstel het, het die bestraling voorgelê. Altesaam 26 sessies daarvan. Dis lank om 15 minute in een posisie te lê. Ek en ’n ouer man sit en praat op ’n dag daaroor, en toe sê hy vir my: ”Die Here het gesien dat ek te besig is, toe dwing Hy my om elke dag te kom stil lê sodat ek met Hom kan praat.”

Van daardie dag af sien ek uit na die bestraling. Dis voorbiddingstyd!

Dit was ’n swaar pad, maar hierdie tyd het baie vir my beteken. Ek het as Christen en as mens gegroei, en baie geleer. Die Here het my hoendervleis-oomblikke laat beleef. Hy het my oor vertroue en geloof geleer. Oor afhanklikheid van Hom en van ander mense. En oor simpatie met ander. Oor vreugde in Hom, en nie in omstandighede nie.

Kanker was die seën wat ek nooit wou gehad het nie. Dit was ’n berg, ’n leerskool, ’n geloofversterker. Ek het geleer wat regtig in die lewe saak maak. Ek het geleer hoe om te bid, én hoe om in nood uit te roep. Ek het geleer wat deursettingsvermoë beteken, en wat geloof en die vashou aan beloftes beteken.

Ek het geleer hoe belangrik jou geloofgemeenskap is, en hoe die Here engele oor jou pad stuur. Ek het geleer ons dien ’n almagtige en getroue God en Vader.

Sou ek iets wou verander? Sou ek die pad wat ek moes stap, wou vermy? Nooit.

  • Ons publiseer graag jou verhaal. Stuur jou getuienis of inspirasie-storie na lig@tydskrifte.co.za. Bydraes moenie langer as 1 000 woorde wees nie. Alle verhale word op ons webwerf lig.co.za as “getuienisse” gepubliseer. En sommige daarvan in LiG se gedrukte weergawe.
Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail