DEUR ANNALISE WIID

Op ’n dag, toe dit warmer was as kraaie-gaap, het God die engel Gybriejil na ’n maagd op ’n dorp in die Bolandse berge gestuur. Gybriejil het haar nuutste jean aangehad en ’n spierwitte T-shirt. Oor daar nie geld was vir costumes en vlerke nie. Ook nie ’n laken om te “spare” nie.
Gybriejil was een van die groter dogters. ’n Engel is after all groter as ’n mens.

Maagd-Maria was seker so twaalf. Sy het op ’n groen plastiekstoel gesit, voor ’n bont, flikkerende Kersboompie. ’n Strepiesvadoek om haar kop gevou.
“Wees gegroet, begenadigde!” het Gybriejil vir haar oor die mike geskree. Sy het nie geskrik nie. Net skaam bly afkyk grond toe. Gybriejil het nietemin geskrou: “Moenie vrees nie, Maria … Kyk, jy sal swanger word en ’n Seun baar …”

(Toe wonder ek: Wat is die liewe kleine Mariatjie se kans om nie “gerape” te word voor volgende Krismis nie? En of sy dalk reeds die wil van die vlees en die wil van ’n man ken? Of vrees? Dalk verfoei?)

Gybriejil is toe van die verhoog af met die belofte dat die krag van die Allerhoogste Maria sal oorskadu. En Maria het sag gesê: ”Hier is die diensmaagd van die Here.”

Josef was ’n verleë, opgeskote knaap. Met waarskynlik ’n ouer suster se slooprok oor sy kortbroek, en knopknieë. Hy het langs Maria op sy eie groen plastiekstoel kom sit.
’n Antie in die wings, langs ’n indrukwekkende sound desk, het sy storie uit die Bybel gelees. Van hoe Josef, “’n regverdige man en onwillig om haar openbaar te maak”, hom voorgeneem het om in die geheim van Maria te skei.

En toe, skielik, stap sy eie engel op die verhoog, ook in jeans en T-shirt, en bulder oor die mike: “Wees nie bevrees om Maria by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees.”
En Josef het, soos Maria, ook nie opgekyk nie. Selfs nie eens toe die engel sê: “En jy moet hom Iemêniejil noem” nie.

Want wat verstaan ’n mensekind dan nou eintlik van ’n God-met-óns? En hoe maak jy as sy skynbare afwesigheid jou verbouereer?

Die handvol herdertjies het flink nader gedraf. In ’n ry kom staan en die engelkoor ondeund ingewag.
Een van die engele het dwarsoor die verhoog gehardloop, af met die trappies en tussen die gehoor in. Om die hoofherder se vergete staf onder ’n sitplek te gaan uitgrawe.
Toe weer terug gehardloop en die stok in dié se verdwaasde hand gedruk. Tóé eers sing die engele.
Daarna loop hulle af met die enigste mikrofoon, maar die herdertjie wink een terug en beduie hy wil praat. Met die mike se vasvat, sê hy uitgelate: ”Nou kô lat ons loep kyk warra angan!”

Toe die wyse manne uit die ooste kom, het hulle dieselfde lappe en toue om hulle gebind as wat die herders flussies aangehad het. Net, die een het ’n kroon op die kop en die ander twee dra geskenke.
Die Antie in die wings lees van hoe Herodes hulle probeer trick het en hoe die ster voor hulle uitgegaan het en bly staan het “bo-oor die plek waar die Kindjie was”. En toe het hulle hulle “met baie groot blydskap verheug” en Hom hulde bewys.

Waarop Juffrou luid insit met “Silent Night”.

Kakofonie op Ingils. En al die kinders staan op die verhoog. Met kerse. Dit brand hul vingers. Só, dat Juffrou ná haar hoë draai by “sleep in heavenly peace” dringend, uitasem, sis: “Blaas dood die kerse!”
Voordat sy dawerend hervat met die tweede vers: “Silent Night …”

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail