Om saam oud te word is geen kuns nie; dít is bloot ’n biologiese gelukskoot. Maar om lank-en-gelukkig getroud te wees … dáár lê die knoop. Want dit val in niemand se skoot nie. Dit vra harde werk en deurlopende sorg. Deur Marius Greeff

 

My oog vang die ouerige paartjie aan die oorkantse tafel in die restaurant. Hulle praat nie eintlik met mekaar nie. Hulle kyk ook nie juis na mekaar nie. Die belangeloosheid staan groot in hulle lyftaal geskrywe.

Hulle is met mekaar getroud, neem ek aan. Maar die vonk is klaarblyklik lankal geblus.
Die grootste probleem hier is dat die (noodsaaklike) kommunikasie oor die kinders se behoeftes maklik-maklik die énigste kommunikasie tussen man en vrou word. Só bly die eie behoeftes in die slag.Wanneer ’n huwelik kinders voortgebring het, is daar ’n wesenlike gevaar dat die vonk – wat eens vir vuurwerke in daardie verbintenis gesorg het – mettertyd geblus word. Dit is nou te sê as die huwelikspaartjie nie wedersyds sorg dra dat dit nie gebeur nie.

En wanneer die kinders eendag die huis verlaat, kom die ouers agter dat hulle vreemdelinge vir mekaar geword het – emosioneel, geestelik en fisies.


Hoewel dit moeilik is om die fases in ’n tipiese huwelik chronologies vas te pen, gebruik dr Francois Hanekom, bekende Imago-huweliksterapeut van Kaapstad, die beeld van ’n ou stoomtrein om dit te verduidelik. Hy onderskei tussen:

 

Die lokomotief-fase (die paartjie is 25-35 jaar oud)

’n Jong huwelik word gekenmerk deur beweging, vooruitgang en energie. Die paartjie bou gewoonlik aan hulle onderskeie beroepe en drome. Hulle wil graag ’n eie huis hê, ’n nuwe motor koop en suksesvol wees. Hiervoor stook hulle die lokomotief!

Maar hulle moet daarteen waak om so doelgedrewe te word dat hulle nooit meer stilhou om aan hulle verhouding te bou, die lewe te geniet en om herinneringe te skep nie.
Omdat seks in dié fase vir albei ’n nuwe ervaring mag wees, is die uitdaging hier om eerlik en sensitief met mekaar te wees en om te praat oor hulle onderskeie seksuele behoeftes.Op hierdie stadium is daar gewoonlik nog nie kinders nie, sê dr Eugene Viljoen, ’n seksuoloog en kliniese sielkundige in Pretoria. Waar hormonale oorbelading aanvanklik aan die egpaar die seksuele energie gegee het wat die verhouding versterk het, toon navorsing aan dat seksuele interaksie soms in hierdie fase afgeskeep word.

 

’n Passasierswa word
aangehaak (35-40 jaar oud)

’n Baba se aankoms neem die huwelik na ’n volgende fase; ja, dit verander dit onherroeplik. Waar dit aanvanklik ’n soort doelgerigtheid was wat die paartjie se aandag in beslag geneem het – en hulle selfs van mekaar kon vervreem het – is dit nou ’n baba wat dit kan regkry.

Francois verduidelik: “Hierdie selfgesentreerde klein passasier kan veeleisend wees en ’n huwelik van sy sprankel dreineer. Dit word ’n dag-en-nag verpligting: As die baba honger is, wil die baba gevoed word; as die baba ’n wind het, moet dit uitgevryf word.”

Die gevolg is dat die paartjie se aandag verdeel word. Hulle moet steeds op hulle onderskeie beroepe fokus, maar hulle moet nou ook aan die nuweling aandag gee. En só gebeur dit maklik dat ’n paartjie se emosionele en fisiese behoeftes na “láter” verskuif word.

Francois sê: “Maak tyd om by mekaar uit te kom. Daar is allerlei maniere om tyd en energie te bespaar, juis sodat julle meer tyd vir mekaar het. Byvoorbeeld: Maak soms van ’n baba-oppasser gebruik; reël ’n afspraak-aand; oorweeg wegneemetes; kry hulp vir die daaglikse huiswerktake; betaal die rekeninge met behulp van die internet.

“In hierdie tyd is seksuele interaksie essensieel. Dit dra ’n belangrike, dalk onbewustelike boodskap: Ek vind jou steeds aantreklik; ek hou van jou; ek is lief vir jou; ek kan nie sonder jou nie.

“En dit is ’n belangrike onderbou vir die vonk in enige huwelik.”
“By die vrou kan dit ’n ruk neem voordat haar hormoonvlakke stabiliseer en sy weer gemaklik met haar liggaam is. ’n Vrou se liggaam het inderdaad tyd nodig om weer na ‘normaal’ terug te keer. Daarom is seks vir ’n geruime tyd ongemaklik en selfs pynlik. Praat hieroor met mekaar. Hier voeg Eugene die volgende by: “Moet egter nie skuldig voel as seks die lááste ding is waaraan jy nou kan dink nie – dit is normaal. Waar seksuele energie in die vorige fase heelwat hoër was, kan baie egpare seks nou selfs as ‘werk’ beskou.

“Net so kan mans tydens die vrou se swangerskap ’n tydelike verlaging in hulle testosteroonvlakke en gevolglik hulle libido ervaar.”

Maar, sê Eugene, die intieme aspek in die huwelik bly belangrik – ook in hierdie fase. As dit afgeskeep word, kan dit onwenslike gevolge hê.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail