Vreugde is soms ’n jubeling, soms ’n stille vrede. En dikwels ’n ontwykende droom. Die slim mense sê vreugde is ’n keuse, ten spyte van alles – en hulle is reg, as jy die Bybel ernstig wil opneem.

DEUR LIZETTE MURRAY

 

Bybelse vreugde het vele gesigte. Dit loop in elk geval soos ’n goue draad dwarsdeur die Ou en die Nuwe Testament, vanaf Genesis tot by Openbaring.

So lees ons van Dawid se jubeling terwyl hy singend en dansend voor die verbondsark hardloop. Van die dankbare loflied wat Hanna ná Samuel se geboorte tot eer van die Here sing. En van die bejaarde Simeon se ootmoedige dankbaarheid toe hy die Christuskind in sy arms neem en God prys.

 

Maar óns sukkel …

’n Diep, ware vreugde ontglip ons egter dikwels. Ons wag op “iets wat moet gebeur” om die vreugdevuurtjie in ons aan te steek, verkieslik iets groots. Iets “van buite” wat ons binneste moet verwarm.

Eintlik werk dit nie so nie. Werklike, blywende vreugde is meestal in die alledaagshede te vind, in die eenvoudige dinge wat in en om ons gebeur. Hier daag Psalm 118:24 ons uit: “Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.”

Dié opdrag dring ons daartoe om fyn te kyk, om die vreugde in klein gebeurtenisse te soek. Die psalmis sien die nuwe dag óóp voor hom lê, met al die skoonheid en die nuwe moontlikhede wat dit inhou. Hy roep sy hoorders op om bly te wees – selfs voordat daar enigiets gebeur het wat hulle in vreugde sal laat uitroep.

En dan vertel Spreuke 15:15 jou boonop: “Dit gaan altyd sleg met ’n bedrukte mens; die blymoedige mens se hele lewe is ’n fees.”Soms is die uitdaging om bly te wees wel groter as gewoonlik. Jy beleef byvoorbeeld ’n persoonlike krisis: ’n Geliefde sterf; ’n kind verhuis oorsee; jy verloor jou werk. Dit voel asof jy nooit weer die goue son gaan sien opkom nie.

Ja, blymoedigheid (om bly én moedig te wees) is ’n feitlik onmoontlike verwagting wanneer jy in moeilike omstandighede vasgevang is. Daarom verg dit ’n doelbewuste besluit. ’n Keuse om gelukkig te wees. Dat jy kies om jou skouers doelgerig agtertoe te trek, om vorentoe te kyk. Dat jy kies om moed te hou, ten spyte van alles.

Daarteenoor kyk bedrukte mense in hul omstandighede vas. Hul dae verloop uitsigloos, dit sleep vol fronse en kommer verby.

En dit is, ironies genoeg, baie maklik om aan hierdie soort bedruktheid toe te gee. Om in ’n reddelose soort pessimisme te verval. Om luidkeels saam met doemprofete te raas oor die regering, oor verval, oor onreg en uitsluiting.

Só vergeet mense, gelowige mense, dat God sorg. Van altyd af, en vir altyd.

Maar so word diegene wat in vreugdevolle oorgawe aan God lewe, in staat gestel om tussen verbygaande begeertes en dit wat ewigheidswaarde het te onder­skei. Hulle wéét dat God sorg en sal sorg, vir hul totale menswees. Hul vreugde het ’n lewenswyse geword.

Onbevange, ten spyte van …

Paulus moedig die Filippi-gemeente met hierdie bekende uitspraak aan: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” (Fil 4:4). Maar dikwels vra ons: Hoe kan ek bly wees, Here? U weet daar is tog niks waaroor ek kan lag nie …

As ons tog maar mooi wil luister! Want die apostel sê dat die soort blydskap waartoe hy sy mense oproep “in die Here” gesetel is. In Hom, die middelpunt van ons vreugde. Die oorsprong daarvan.

Nee, daar is bitter min mense, indien énige, wat dit regkry om oor swaarkry te jubel – maar wees dan ten minste bly dat God midde-in ons pyn by ons teenwoordig is.

Ons kan gerus leer om, soos kinders, spontaan in die oomblik te leef. Dikwels is ons futloos en vreugdeloos, ook wanneer ons nie juis rede daartoe het nie. Ons lyk soos die mense van wie Jesus in Matteus 11:16-17 praat: “Maar waarmee sal Ek hierdie geslag vergelyk? Dit is net soos kindertjies wat op die markte sit en na hulle maats roep en sê: Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie …”

Christus nooi ons uit om soos kinders te dans. Blinkoog en onbevange.

Bowendien sien ons oral in die Bybel voorbeelde van dié sê-ding: “Gedeelde vreugde is dubbele vreugde.” Daar is die Handelinge-verhaal van die eerste gemeente, van wie die volgende vertel word: “Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet” (Hand 2:46).

Só lyk dit wanneer gelowiges ná Pinksterdag hul nuutgevonde Christenskap begin uitleef. Vól vreugde.

Aansteeklik!

Die vreugdelied van een klein mensie kring dikwels uit en word ’n jubelende, golwende, allesomvattende lofsang. Jesaja 42:10-12 vra dat alle gelowiges hul stem sal voeg by ’n lied wat voortstu en die uithoeke van die aarde vul: “Sing tot eer van die Here ’n nuwe lied, sing sy lof oor die hele aarde, almal wat op die see vaar, alles wat in die see is, al die eilande en dié wat daarop woon. Laat die woestyn en sy stede die lof van die Here uitroep, die dorpe in die omgewing van Kedar, laat die inwoners van Sela jubel, laat hulle van die toppe van die berge af juig. Laat hulle aan die Here eer bewys en op die eilande sy lof verkondig.”

Ook die lofsang van die leërskare hemelse wesens in Openbaring 19:6-7 word ons nietige mensekinders se vreugderoep: “Ek het toe iets gehoor soos die geluid van ’n groot menigte, soos die gedruis van ’n groot watermassa en soos die gedreun van swaar donderweer. Hulle het uitgeroep: ‘Prys die Here! Die Here ons God, die Almagtige, heers nou as koning. Laat ons bly wees en juig en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam het aangebreek, en sy bruid het haar daarvoor gereed gemaak.’”

En so van ’n huwelik gepraat: ’n Huweliksfees is ’n vreugdefees. Daar is min so stralend soos ’n bruid wat haar bruidegom tegemoet stap. Daarom is dit gepas dat alle Bybelse vreugde na dié groot hoogtepunt oploop: die bruilof van die Lam (Op 19:7-9). Dit is die uiting van vreugde in al sy goddelike volmaaktheid en majesteit.

Dan is daar boonop dié troos: Terwyl ons vreugdelied hier op aarde dikwels flouerig en yl opklink, vul God self die musiek aan met akkoorde van sy liefde en trou. Só word die loflied ’n magtige simfonie. Die klank trek verby alle grense, dit raak aan die wolke en reik tot in die hoogste hemel.

Onthou hier die vroue se liefdeswens in die Rut-verhaal: Nadat Naomi en haar skoondogter Rut uit Moab teruggekeer het, en Rut met Boas getroud is, is klein Obed gebore. Dan sê Naomi se vriendinne: “Aan die Here kom die lof toe omdat Hy vandag vir jou ‘n losser gegee het … mag hy vir jou vreugde bring en jou op jou oudag versorg” (Rut 4:15). Om iemand anders vreugde toe te wens, sonder dat jyself daarby baat, is ’n onselfsugtige vriendskapsgebaar reg uit God se Vaderhart.

Maar hierdie soort vreugde strek verder, véél verder: Dit word gekoppel aan die verwagting van ’n ewige lewe met God. En dit weerklink in Handelinge 2:26 waar Dawid se woorde aangehaal word: “Daarom is my hart bly en my tong jubel, ja meer, ek het die verwagting dat my liggaam sal lewe.”Vreugde en dankbaarheid is pasmaats. En dankbaarheid loop saam met lof. Dankbare mense kan nie anders as om hul arms in vreugde op te hef en God te loof nie.

 

Lewensvreugde is niks minder nie as ’n lied. ’n Jubeling. ’n Bruisende lofsang.

Maar dit het ook ’n ander kant: Vreugde woon in ’n dankbare hart. Dit is ’n stil vrede. ’n Innigheid op God gerig. Só lui Psalm 16 se dankgebed: “Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. ’n Pragtige deel is vir my afgemeet … U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is.”

Dawid se vreugde

Deur bedrukkende, somber tye heen het Dawid bly sing. Hy het lofliedere op sy lier bly speel. Só vol vreugde was sy hart dat dit vir hom soms gevoel het asof dit hý is wat die dag wakker maak en nie andersom nie. Hy skryf: “Ek voel weer veilig, o God, ek wil ’n lied sing, ja, ek wil sing, ek wil vroeg opstaan, met harp en lier wil ek die rooidag wakker maak! Onder die volke wil ek U loof, Here, onder die nasies u lof besing, want u liefde reik tot in die hemel, u trou tot in die wolke” (Ps 108:2-5).

Dawid is ’n uitnemende voorbeeld van iemand wat vreugde gekies het – ten spyte van vervolging, oorloë, sy lieflingseun Absalom en sy boesemvriend Jonatan se dood. On­danks al sulke ellende verklaar hy: “Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. Laat jou lewe aan die Here oor … Hy sal sorg” (Ps 37:4-5).

 

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail