Die aktrise Leandie du Randt maak geen geheim daarvan dat haar predikantpa Neels ’n groot rol in haar lewe speel nie. Hulle het dit nie altyd maklik gehad nie, sy en haar pa. En die band is sterker as ooit.

Haar eerste herinnering aan haar pa is hoe hy haar optel, in die lug gooi en weer vang, vertel die sprankelende Leandie (27). “Dit was báie lekker, so asof ek vlieg. En ek het so veilig in sy hande gevoel.”

Dit is baie duidelik dat haar pa steeds een van haar belangrikste veiligheidsnette is. “Iemand het my pa op ’n keer met ’n groot ou boom vergelyk,” vertel Leandie. “Dit is hoe ek hom ook sien. Sy wortels is sterk in God gegrond, en hy bied beskerming en skaduwee vir ál die mense in sy lewe.

“Hy laat nooit toe dat iets hom te veel ontstel of bekommer nie. Ek bewonder sy geduld en kalmte.”

Haar pa, Neels (59), bewonder háár weer vir ’n hele rits dinge: “Sy is energiek en lewenslustig. En sy het ’n vrye gees. Maar sy is sterk geanker in haar waardes. Sy is baie positief, en vir my verteenwoordig sy sonskyn.”

Hy verwys ook na sy dogter se dankbare en positiewe lewenshouding. “Sy wil graag ’n positiewe impak op die wêreld maak. Ja, sy het soms ’n positiewe soort naïwiteit – maar gelukkig kan sy ook lekker vir haarself daaroor lag.

“Leandie was uit die staanspoor baie doelwit-gedrewe. Sy het nog altyd verantwoordelikheid vir haarself en haar lewe aanvaar.”

Kerk en konsert

Lees ’n mens die bekende blonde aktrise se CV, is dit duidelik dat sy veel meer as net ’n mooi gesiggie is. Sy spog met ’n B Comm-graad, en ’n honneursgraad in bedryfsielkunde (beide cum laude), en sy is ’n opgeleide psigometris.

In 2014 het haar topverkoper-selfhelpboek vir tienermeisies verskyn, en later in dieselfde jaar is sy aangewys as naaswenner van die werklikheidreeks Strictly Come Dancing.

Tussendeur was daar ’n paar rolle in films en sepies, en deesdae is sy op die kleinkassie te sien as Ivanka in Binnelanders.

Daar was nooit enige twyfel daaroor dat sy op ’n verhoog of minstens in die vermaaklikheidbedryf tuishoort nie, onthou Neels, ’n NG predikant by die Kempton-Hoogland-gemeente. “Sy het van kleintyd af van énige iets ’n verhoog gemaak. En enige ding wat soos ’n mikrofoon lyk, gebruik om konsert te hou.

“Sy het ook vir haar poppe kerk gehou, hulle ernstig vermaan met ‘moenie! moenie!’ – en selfs die seën oor hulle uitgespreek.

“Maar toe sy ’n beroep moes kies, het ek gesê: ‘Kunstenaars in ons land vrek van die honger!’ En haar aangeraai om ’n alternatiewe loopbaan in gedagte te hou.”

Pa, dogter, en seun

Dit is nie moeilik om te sien waar Leandie se belangstelling in sielkunde vandaan kom nie. Sy vertel dat pa Neels haar en haar ouer broer, Corné (’n 32-jarige geoktrooieerde rekenmeester) op hoërskool reeds persoonlikheidstoetse laat aflê het, sodat hy presies kon weet hoe om hulle te hanteer.

Sy en Corné verskil soos dag en nag van mekaar, vertel Neels. “Leandie was ’n ‘besige’ kind, voortdurend aan die sing en dans en speel. Sy het aanhoudend gebabbel en almal aan die gang gehou.

“Corné was presies die teenoorgestelde – stil, besig met sy eie dinge. Hy het haar vitaliteit en energie amusant gevind en dikwels net sy kop geskud oor sy sussie se manewales.”

En die vrou en ma …

Leandie se ma is in 2014 aan Alzheimer se siekte oorlede. Sy was maar 58 jaar oud.

Neels het haar vir ’n lang tyd self versorg. “Dit was ook vir my kinders ’n baie moeilike tyd,” vertel hy. “Demensie beteken immers dat jy elke dag afskeid neem van nóg ’n deel van iemand vir wie jy lief is, se lewe. Jy kan demensie ook nie wegsteek nie. Dit konfronteer jou elke oomblik van elke dag.”

Hy het niks vir sy kinders probeer wegsteek nie. “Jy kan nie anders as om eerlik te wees nie. Eerlikheid bring ook begrip. Gelukkig was hulle reeds uit die huis uit toe my vrou siek geword het, wat die daaglikse impak daarvan op hulle lewe dalk minder erg gemaak het.

“Hulle was baie ondersteunend teenoor my en hulle ma, en het my ook ondersteun toe daar nie meer ’n ander keuse was as om haar in ’n versorgingsoord te laat opneem nie.”

“My ouers se huwelik het my geleer dat jy vir mekaar baklei – en dat jy nie net opgee en wegstap wanneer dinge moeilik raak nie,” sê Leandie. “‘n Mens moet elke dag doelbewus besluit om jou vrou of jou man te kies, selfs al tref iets soos ’n ernstige siekte julle.”

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail