Dit was ’n warm somersaand toe ek en ’n groepie vriende besluit het om in die berg te gaan stap. Die volmaan sou genoeg lig gee sodat ons die paadjie se kronkeling sou kon volg.
’n Warm bergwind het ons wange gesoen. Die donker bosse en klippe het stil wag gehou en in die maanlig toegekyk hoe ons oor slote spring en versigtig oor klippe trap.
Skielik het iemand uitgeroep: “Kyk!”
Ek het omgedraai om te sien waarna hy wys. “Vuurvliegies!”.
En sowaar! Daar dartel ’n vonkie lig. En hier reg voor ons rits ’n hele straaltjie. Nog een hiér, en nog een ’n entjie verder. Die ligstraaltjies kom en gaan – dan hier, dan daar. Strepies lig in die donkerte.
Ek onthou hoe iemand ’n selfoon wou uithaal om ’n foto te neem, maar dis onmoont­lik om die skoonheid en wonder van hierdie vliegies-vol-lig só vas te vang. Iemand anders het begin verduidelik hoe ’n vuurvliegie se liggie werk, maar ek het geweet die wonder voor ons oë kan nie behoorlik in wetenskaplike taal uitgedruk word nie.
Uiteindelik kon ons maar net daar staan en kyk. Verwonderd, daar onder die volmaan teen ’n donker berg. Met God se handewerk wat ons met groot oë en vol harte laat kyk.

Vroeg in Oktober vanjaar gaan ek by ’n supermark in en loop my in ’n groot Kersboom vas. Donkergroen met purperrooi strikke. Agter die boom is daar ’n rak vol allerhande mooi dinge: praktiese voorwerpe én lekkergoed. ’n Ietsie vir elkeen in hierdie Kersseisoen.
Eensklaps gryp ’n angstigheid my vas: Gaan ek tyd hê om vir almal Kersgeskenke te koop? Gaan ek genoeg geld hê om lekker kos vir ons Kerstafel voor te berei? Gaan ek ordentlik kan rus tussen al die kuiers en mense en feesdinge deur?
Maar nóg groter vrae spring in my gemoed op: Mág ek ’n Kersboom hê – hulle sê dit spruit uit afgode-aanbidding? Mag ek geskenke gee, en só daartoe bydra om Kersfees bloot ’n kommersiële fees te maak?
Vier ek Kersfees om die regte redes?
En toe kom die vuurvliegies …
Daar op die berg, met die somersaand rondom ons, het ek besef dat die lewe nie altyd verklaar hoef te word nie. Dat ons geloof nie noodwendig klinkklare verduidelikings hoef te verskaf nie. Rigting en sin, ja. Maar nie definitiewe antwoorde op elke vraag oor God en hoe Hy dinge hier op aarde doen nie.
Daar is nie ’n “korrekte” manier om Kersfees te vier nie. Behalwe, miskien, om te midde van al die geskenke en gejaagdheid, deur Kersbome en vakansiekuiers heen, én al die angstigheid en struikelblok-vrae, die Lig hier by ons raak te sien.
En in verwondering te staan dat ons vanjaar weer op 25 Desember die geleentheid het om Jesus, die Lig vir die wêreld – in al sy skoonheid en prag en wonderlikheid – in ons donkerte te ontvang.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail