Vrae vir omgeegroepe, Bybelstudiegroepe of selgroepe. Kies een van die onderstaande stelle vrae om julle gesprek mee af te skop.

Lees hierdie artikel

  • Wat onthou jy nog van jou eerste liefde? Kan jy onthou wat jy alles beleef het?
  • Bespreek die skrywer se stelling oor die Goddelike liefde: “Hoewel ons sukkel om so volmaak lief te hê, bly dit die soort liefde waarna ons strewe.”
  • Lees 1 Korintiërs 13:4-7, 13.
    – In hierdie bekende verse word verskillende eienskappe van die liefde genoem. Hoe verstaan jy elkeen hiervan?
    – Met watter hiervan sukkel jy die meeste?
    – Paulus beklemtoon die grootsheid van die liefde (vgl v 13). Kan ons sê dat geloof terug kyk, dat hoop vorentoe kyk en dat liefde ons help om “Christus te leef”?
  • In dié artikel word vier fasette van die liefde bespreek. Hoe kan ons mekaar help om dit ’n deel van ons lewe te maak?

Lees hierdie artikel

  • Dink aan wat jou vriende in die verlede vir jou beteken het. Deel dit met die groep.
  • Bespreek dié stelling wat die skrywer maak: “Goeie vriendskapvaardighede moet reeds in die kinderjare aangeleer word. As jy eers volwasse is, is dit baie moeiliker om goeie verhoudings te leer vorm.”
  • Lees Spreuke 18:24; 27:17.
    – In Spreuke 18:24 word die twee teenoorstaande kante van vriendskap uitgelig. Watter Bybelse waardes is belangrik vir hierdie “broederlike/susterlike” vriendskap?
    – Yster is ’n harde metaal (vgl Spr 27:17). Op watter “harde” maniere vorm vriende mekaar? Watter soort opoffering en eerlikheid verg dit?
    – Dink na oor die volgende stelling in die lig van die Spreuke-tekste: “Christenouers is baie dikwels bekommerd dat maats hul kinders negatief kan beïnvloed, maar glo nie altyd dat hul kinders hul vriende positief kan vorm nie.”
  • Teen die einde van die artikel word daar ’n klompie praktiese wenke aan ouers gegee. Stem jy hiermee saam? Is daar dalk ander wenke wat jy sal wil byvoeg?

Lees hierdie artikel

  • Wat het jy in die afgelope Paastyd beleef? Het julle familie Paasfees-rituele?
  • Bespreek die volgende wat in die artikel oor Maria Magdalena gesê word: “Jesus se Sondag-besoek neem haar blindheid vir altyd weg. Dit gee haar ’n splinternuwe taal en ’n splinternuwe lewe. Die kruis is kaal. Die graf is leeg. Jesus leef.”
  • Lees Lukas 24:13-35.
    – Hoekom dink jy het die Emmausgangers nie vir Jesus herken nie (vgl v 16)? Hoe gebeur dit vandag nog?
    – Die verhaal vertel van die Emmausgangers se ontsteltenis. Wat het hulle so ontstel?
    – In vers 32 lees ons hoe hul hart “warm geword het”. Glo jy werklik dat die Lewende Jesus ons hele lewe kan aanraak?
  • In Johannes 20:21 lees ons hoe Jesus die dissipels uitstuur om oor sy opstanding te getuig. Hoe kan ons mekaar help om hierdie opstandingsboodskap uit te dra?
Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail