Presies hoe lyk ’n hedendaagse gesin? Klaarblyklik heelwat anders as so drie dekades gelede, of hoe? Enkelouerskap, byvoorbeeld, is lankal nie meer ’n uitsondering nie. Inteendeel.

Deur Ilette Coetzer

 

Dit is waarskynlik elke jong kind se droom – ’n “volledige” gesin: pa, ma, twee kinders en ’n hond. Maar deesdae is die waarmaking van dié droom dalk eerder die uitsondering as die reël.

Oor die afgelope dekade het gesinstrukture dramaties verander; onder andere is enkelouer-gesinne aan die orde van die dag.

En baie mense, veral ook buitestanders, wonder heimlik: Kan kinders wat in ’n nie-volledige huishouding grootword, die lewe gelukkig en gebalanseerd binnegaan?

 

“Deursnee”?

Dit is ’n feit dat ’n sogenaamde deursnee-gesin vandag baie anders lyk as wat dit 30 jaar gelede die geval was. Destyds was egskeiding net ’n fluistering, amper ’n vloekwoord. Buite-egtelike verhoudings en die verbrokkeling van ’n huwelik is agter toe deure bespreek.

Vandag is dit alledaagse verskynsels. Voeg hierby die feit dat sommige beroepgerigte vroue dit verkies om later in hul lewe kinders te hê, indien hoegenaamd – en dan met óf sonder ’n wettige eggenoot – en die tradisionele beeld van die volledige gesin vervaag verder.

“Spermbank” is in die spreektaal opgeneem – en dit bied ’n uitkoms vir mense wat nie in ’n verhouding of huwelik is nie en wat ’n kind wil hê.

Wat is ’n ideale gesin? Watter soort gesinstruktuur is gewens en watter ongewens? Sê die Bybel iets hieroor?

Dr Marius Nel, ’n senior lektor by die teologiese fakulteit aan die Universiteit Stellenbosch, wys daarop dat families en gesinne in die Bybelse tyd ook ver verwyderd is van ons tradisionele beskouing oor hoe ’n gesin (moet) lyk.

Hy sê: “In die Nuwe-Testamentiese wêreld was ‘familie’ ’n veel omvattender begrip as tans. Dit kon dui op mense wat aan mekaar verwant is vanweë geboorte of ’n gesamentlike herkoms, of omdat hulle deel van een huishouding was. Die familie was dus almal wat op ’n sekere tydstip afhanklik van die familiehoof was. En dit het gewoonlik ouers, grootouers, broers en susters, asook werkers (slawe) ingesluit.

“Oorloë was volop, en oorlog-weduwees en -wese het deel van ander gesinne geword. Nee, in daardie wêreld sou ’n kerngesin – soos wat ons dit tradisioneel beskou, en wat uit ouers en kinders bestaan – feitlik ondenkbaar wees.”

Hoe nou?

Maar hoe verseker deesdae se enkel­ouers dat hul kinders nie skade ly as gevolg van die gesinstruktuur waarin hulle grootword nie – of dit nou ’n gekose of ’n gedwonge situasie is?

Dit is tog ’n tragiese feit dat ’n enkellopende ná ’n egskeiding of ná die maat se dood eensklaps as ’n soort bedreiging in die vriendekring beskou word. Daar word sonder meer met ander oë na enkellopendes gekyk – en dit gebeur dikwels dat hulle op subtiele maniere uit ’n vriendekring gestoot word.

Linda* vertel: “Dit word nooit reguit vir jou gesê nie; almal is steeds alte vriendelik met jou. Maar praat jy te lank met jou vriendin se man, ontwikkel daar skielik ’n ‘atmosfeer’ – iets wat nooit voorheen gebeur het nie. Ek is later net nie meer na etes genooi wat ek en my man altyd saam bygewoon het nie.”

Linda se belewenis is een van vele soortgelykes. ’n Egskeiding of die dood van ’n eggenoot breek nie net die gesin op nie, maar heel dikwels ook die vriendekring. Laasgenoemde ten spyte van die eertydse vriende se eerbare voornemens en uitgesproke beloftes.

Maar hierdie gedwonge alleenwees beteken nie noodwendig ’n eensame toekoms nie. Dit is bes moontlik een van jou grootste uitdagings nóg, maar jy kan steeds vir jou en jou kinders ’n veilige hawe skep. Ten spyte van …

Die eerste skuif is natuurlik ’n kopskuif. Jy begewe jou tog nie in ’n huwelik en beplan terselfdertyd om jou kinders alleen groot te maak nie.

Maar nou is dit eenmaal só, en jy moet besef dat jou kinders nou jóú verantwoordelikheid is. Hoe nou gemaak?

 

Vul die leemtes met gesonde rolmodelle

Marius is daarvan oortuig dat die probleem hier nie ’n enkelouer per se is nie, maar eerder die afwesigheid van ’n pa – veral waar daar ’n seunskind betrokke is. Daar is wel alternatiewe rolmodelle, sê hy. Betrek jou broer of ’n goeie mansvriend by jou seun se aktiwiteite. Juis ook as daar ’n egskeiding was en jou eksman nie by die seun se wêreld betrokke is of wil wees nie.

Rus genoeg

Die verantwoordelikhede van en eise aan ’n enkelouer is dikwels uitmergelend. Jou vermoë om ’n goeie ouer te wees, hang baie van jou gesondheid en algemene welsyn af. As jy soggens skaars uit die bed kan klim, gaan jy van geen waarde vir jou kinders wees nie.

Maak nuwe vriende

As alleenouer is jy dikwels van ander se ondersteuning afhanklik. Lê jou daarop toe om met ander enkelouers sosiaal te verkeer. ’n Vriendin wat in dieselfde omstandighede as jy is, sal jou situasie waarskynlik die beste van almal begryp. Julle kan mekaar in krisistye bystaan, en ook saam uitgaan.

Orden jou lewe

Soms voel dit asof die lewe net te vinnig beweeg, veral as jy alle verantwoordelikhede alleen moet dra. Trek jou kalender nader en beplan jou en jou kinders se aktiwiteite.

Stel gesamentlike huisreëls op

As jy geskei is, praat met jou gewese man of vrou oor gesamentlike huisreëls. Hieroor sê Christo, ’n geskeide pa: “My huis moenie in ’n vakansiehuis omskep word nie. Dit is belangrik om nie die kinders te verwar nie. As hulle by hul ma se huis nie voor die televisie mag eet nie, mag hulle dit in my huis ook nie doen nie. Ek het nooit probeer om met my eksvrou mee te ding deur ’n ‘lekker’ huis te skep nie.”

Julle maatstaf

Dit gebeur dikwels dat die ouer wat finansieel die sterkste daaraan toe is, so goedkoop moontlik uit die huwelik probeer kom. En hard probeer om die verantwoordelikhede teenoor die kinders te systap.

Hier het Christo ’n eenvoudige reël. “Ek vra my af: Sou ek daardie item of kursus vir my kind betaal het as ek en haar ma steeds saam was?”

As die antwoord hierop ja is, gee dit vir jou kind. Maar moet nooit oorkompenseer vir die foute wat jy gemaak het nie. Kinders is meesterlike manipuleerders en hulle sal so ’n situasie gou uitbuit deur gewoon hul ouers teen mekaar af te speel.

Betrek jou kinders by huis­take

Dit kan gebeur dat jy so skuldig oor jou egskeiding voel dat jy jou kinders tot in die afgrond in bederf. Verdeel huishoudelike pligte (soos tafel dek, wasgoed ophang, beddens opmaak, ens) en maak elke kind vir ’n bepaalde taak verantwoordelik.

Skep ’n veilige hawe

Skep ’n huis waar jou kind veilig kan voel. Moenie die ander ouer slegsê of verwens nie. Help jou kind om ’n positiewe beeld van ’n gesin te bou, ten spyte van die huidige omstandighede.

Christo sê: “Net omdat ek nie meer met haar getroud is nie, beteken dit nie dat sy nie ’n goeie ma, vriendin, onderwyseres en ’n spesiale mens is nie. Kinders moet die vrymoedigheid hê om albei ouers lief te hê, sonder enige skuldgevoelens.”

Maak tyd vir jouself

Elke mens het alleentyd nodig. Moenie skuldig voel omdat jy soms sonder jou kinders wil ontspan nie. Gaan fliek saam met ’n vriendin, of ontspan by die huis met ’n glas wyn en ’n goeie storieboek.

 

“Drie dinge”

Kinders kom gou agter as jy hul situasie as “anders” of “ongewoon” hanteer. Enkel­ouerskap – of dit nou vanweë ’n egskeiding of ’n ouer se dood is, of om enige ander rede – is nie altyd die ideaal nie.

Dit is waarskynlik ook nie hoe jy jou die lewe voorgestel het nie, maar dit beteken nie dat jy nie sterk, onafhanklike kinders met ’n gesonde lewensuitkyk kan grootmaak nie.

Herman Steyn, ’n pastoor in Kimberley, tref ’n interessante vergelyking. Hy sê: “’n Mens is met twee arms, twee bene, twee oë en twee ore geskape, maar daar is baie wat noodgedwonge geleer het om voluit met slegs een been of oog of oor of hand oor die weg te kom …

“Kinders het uiteindelik net nodig om drie dinge van hul ouer(s) te weet: Jy is my kind; ek is lief vir jou; ek is trots op jou.”

Herman voeg by: “God het ook hier vir die gebroke samelewing – wat deur ons gebreek is – voorsiening gemaak: Daar sal altyd iemand wees wat as ouer kan optree. En, nee, daar is nie spesifieke, vaste reëls waarbinne so ’n gesin behoort te funksioneer nie. Maar wanneer iemand as ’n ouer optree, moet dit volgens Bybelse waardes geskied.

“Uiteindelik wil kinders bloot weet hulle behoort êrens – hoe die gesin ook al saamgestel is.”

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail