God se prioriteite vir sy koninkryk blyk duidelik uit sy Woord. En wanneer ons, sy koninkrykskinders, daaraan gehoor wil gee, sal ons al hoe minder op ons eie gemak en gerief fokus en eerder daarna streef om ons medemens se belange te dien.

DEUR RENÉ BADENHORST

“Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang.” Só herinner Paulus ons aan Jesus se woorde (Hand 20:35).
Maar “gee” is nie eenvoudig nie. Om in die heel eerste plek aan jou eie voordeel en gerief te dink, kom die natuurlikste by enige mens.
Tog bestaan daar wetenskaplike bewyse dat “gee” jou inderdaad ’n gelukkige mens maak: Deelnemers aan ’n studie is gevra om $5 aan hulleself óf om $5 aan iemand anders te bestee. Daar is toe bevind dat laasgenoemde groep inderdaad wesenlik gelukkiger as die eersgenoemdes was.
Dit het só gewerk: Daar is vasgestel dat een van die sogenaamde “goedvoelhormone”, in dié geval oksitosien, vrygestel word wanneer ’n mens iets weggee. Dit verhoog onder meer jou gevoel van verbondenheid aan ander, sowel as jou empatie met hulle. Daarby verminder dit stresvlakke vir tot twee ure ná die gee-daad.
Bogenoemde is die wetenskaplike argument. Hoe klink die geloofsoortuiging in dié verband?
Só: God se koninkryk word gekenmerk deur dade vol omgee, goedhartigheid en selfprysgawe. Die ander se belange weeg altyd swaarder as die eie (1 Kor 10:33). En terwyl die koninkrykskinders dan op die nuwe hemel en die nuwe aarde se koms wag, word hulle geroep om die tekens daarvan nou reeds op te rig. In hierdie lewe, en terwyl hulle die kans het om dit te doen.
En, nee, hier is nie noodwendig sprake van groot geskenke wat ’n enorme impak het nie. Dit is dikwels die klein dade van welwillendheid wat die grootste verskil maak.

Tyd en aandag
Richard Moss, die skrywer van onder meer Inside-out healing, het gesê: “Die grootste geskenk wat mense mekaar kan gee, is die suiwerheid van hul aandag.”
Dit is ’n betekenisvolle opmerking, en het veral deesdae betrekking op mense wie se aandag as ’n reël tussen vele take en stimuli verdeeld is. Só verloor mense die vermoë om byvoorbeeld oogkontak te maak wanneer hulle met mekaar praat.
Die “suiwerheid van jou aandag” vra egter dat jy jou daarop sal toelê om jou volle aandag aan die persoon by jou te gee. Kyk hom of haar in die oë. Dit wys jy gee om, dat jy belangstel en dat jy respek vir daardie persoon het. Aanvanklik mag jy dalk sukkel om daaraan gewoond te raak – maar dit vra net ’n bietjie oefening, en gou-gou kom dit natuurlik!
Sien mense raak wat gelukkiger as gewoonlik lyk, of dalk gefrustreerd voorkom. Vra uit. Stel belang.
Jou aandag en tyd is vir jou kinders van wesenlike belang. Om vir hulle speelgoed en allerlei geskenke te koop, sorg vir ’n lekker bederf – maar daar is niks wat kinders méér koester as die tyd wat hulle saam met hul ouers deurbring nie.

Jou vaardighede
Om ’n vrywilliger te wees of een te word, het ’n bewysbare positiewe invloed op jou lewenskwaliteit. Dit help ook om die groef van ’n oormatige fokus op jouself en jou persoonlike probleme te vermy.
En almal kwalifiseer. Van die kleinste kleuter tot die dorp se oudste inwoner beskik oor ’n vaardigheid wat tot ander se voordeel aangewend kan word. Blote diensbaarheid is dikwels voldoende. ’n Jong kind kan ’n verskil maak deur rommel op te tel.
Daar is natuurlik ook die moontlikheid dat jy iemand anders kan leer om iets te doen wat ’n lewensveranderende verskil in daardie mens se lewe teweeg kan bring. ’n Bejaarde wat weet hoe om te brei, kan hierdie kennis aan ander oordra.
Die vraag vir gelowiges is dus nie of hulle ’n vaardigheid het wat hulle tot ander se beskikking kan stel nie, maar of hul hart gereed is om dit te doen.
Die bekende Moeder Teresa van Kalkutta het graag die geheim van haar bediening só verwoord: “Ek sien God in elke menslike wese. Wanneer ek die melaatse se wonde was, voel dit asof ek die Here self verpleeg.”
Begin dus jou dag deur Hom te vra: “Wys my vandag vir wie ek kan dien!” En luister dan met gespitste ore en kyk deur Jesus se oë na ’n ander.
Jy kan ook begin deur jou familie, vriende en kollegas te vra: “Hoe kan ek jou help?” Laat dan toe dat jou liefde wyer uitkring.

Jou nalatenskap
Elke mens laat iets agter wanneer hy of sy sterf, of dit nou so beplan is of nie. Dit is soos ’n aflosstokkie gelaai met kennis en ervaring wat aan die volgende geslag aangegee word. Hiermee kan jou familie, vriende, kollegas en bure verder hardloop lánk nadat jou deel van die resies afgehandel is.
Ja, jy kán dit ook vooraf beplan. Jy kan byvoorbeeld jou kundigheid oordra aan iemand wat minder ervaring as jy het. Dit is tipies wat mentors doen. Só word die minder ervare persoon blootgestel aan kennis en hulpbronne waartoe hy of sy andersins nooit toegang sou gehad het nie. Dit geld ook sielkundige ondersteuning, of hulp op sosiale gebied.
Die manier waarop jy teleurstellings hanteer, waarop jy oor mense praat, die wyse waarop jy jou finansies hanteer – dit maak alles saak. Dit het ’n impak op die mense rondom jou, juis ook jou kinders en kleinkinders.
Streef daarom daarna dat die herinneringe wat jy vir hulle agterlaat van ’n geloofspad getuig. ’n Boodskap dat ’n lewe saam met God goed is. Dat sy genade vir jou genoeg was.
Susan Gaddis spesialiseer in die onderrig oor geestelike nalatenskap. Sy sê: “Die stories oor ons verhouding met Jesus, in die verlede en hede, kan ander se lewe verander. Erken die slegte tye, maar vertel ook van die goeie wat God in en deur jou skep.
“Om ons geloofsbelewenisse net vir onsself te hou, is heel veilig. Niemand kan mos negatief daarop reageer nie! Om dit egter met ander te deel, is ’n besonder onselfsugtige daad.”
Susan bied talle praktiese, kreatiewe wenke oor hoe veral ouers en grootouers ’n kosbare nalatenskap kan hê. Dit sluit in:
• Begin ’n WhatsApp-groep om idees te deel. Jy kan dit in ’n geslote groep doen of aan almal beskikbaar stel. Skep ’n groep vir die bediening waarvoor God jou geroep het, byvoorbeeld vroue, of ma’s met kleuters. Jy kan ook ’n gebedsgroep begin.
• Skep ’n spesiale bêreplek vir dit wat vir jou kosbaar is. Maak seker jou huismense weet daarvan én waar om dit te vind. Dit kan die volgende insluit: boeke wat ’n indruk op jou gemaak het, Bybelstudie-notas, ou resepte, YouTube-video’s, aanbiddingsmusiek, potgooie met inspirerende boodskappe, ’n kosbare besitting met ’n besonderse storie daaragter, ’n Bybel met jou aantekeninge daarin.
• Vir meer idees: Besoek www.susangaddis.net

Die gawe van gebed
Elke mens het gebesondersteuning nodig. Hierdie lewe met sy daaglikse uitdagings en skynbaar onoorkomelike probleme eis van gelowiges om hul medemens aan die Hoorder van hul gebede op te dra. Ruim dus tyd in, Godskind, om die suster en broer op jou gebedslys se naam voor Hom te bring.

Vir die toekoms van ons land

Vroeëkinderontwikkeling fokus op die fisieke, sielkundige, kognitiewe en sosiale ontwikkeling van kinders tussen geboorte en ongeveer agt jaar oud. Dit is reeds oral bewys dat die klem op hierdie benadering groot winspunte het. Dit lei onder meer tot ’n groter gelykheid tussen mense, tot beter onderwys, ’n positiewer gesondheidsituasie en ’n sterker ekonomie. En ’n samelewing wat gekenmerk word deur minder misdaad en openbare geweld en ’n groter sosiale samehorigheid.
Sonja Basson van Bellville wou op ’n klein manier ’n verskil maak toe sy en ander lidmate van die Vredelust-gemeente ’n projek geloods het wat op kwesbare jong kinders fokus. Só het Embrace tot stand gekom – ’n groepie swanger vroue en nuwe ma’s wat minderbevoorregte ouers ondersteun, juis gedurende die allerbelangrike eerste 1 000 dae van hul baba se ontwikkeling.
Gedurende hierdie tydperk vind daar kritiese breinontwikkeling plaas wat ’n kind se lewenspotensiaal permanent kan beïnvloed. Navorsers het vasgestel dat ’n kind se ontwikkeling teen 22 maande akkuraat kan aandui wat hierdie kind se opvoedkundige situasie op 26 jaar sal wees.
Embrace fokus veral daarop om die vier noodsaaklike boustene – kos, veiligheid, stimulasie en liefde – ’n prioriteit in elke huisgesin te maak.
“Ek wil graag sien hoe gesinne en kinders floreer,” sê Sonja. “Elke kind moet weet dat hy en sy belangrik is, dat daar mense is wat omgee. Kinders floreer op die interaksie wat hulle met hul primêre versorger het. Eenvoudig: Hoe meer ’n mamma lag, sing en met haar baba gesels, hoe veiliger voel die kind. En hoe makliker groei die kind se selfvertroue om die wêreld rondom hom of haar te verken.
“Daar is talle ma’s wat ons ondersteu­ning broodnodig het. Deur die pad saam met hulle te stap, na hul bekommernisse te luister en deur maniere te vind om hul las ligter te maak, kan ons almal hande vat en só vir ons kinders ’n beter kans in die lewe gee.
“Daar is eenvoudige dinge wat almal kan doen om seker te maak dat meer kinders die geleentheid kry om eendag hul leierspotensiaal uit te leef. Ons kan nie meer sê dat dit iemand anders se verantwoordelikheid is om ’n verskil te maak nie.
“Ons almal het ’n verantwoordelikheid om Suid-Afrika ’n beter plek te maak – want dit wat ons agterlaat, is ons nageslag se erfenis.”

Help hier!
Daar is talle nie-winsgewende organisasies wat vrywilligers met ope arms verwelkom. Die eerste plek om te begin, is egter by jou eie gemeente en plaaslike gemeenskap se projekte. Indien jy jou net wyer wil span, kan jy die volgende oorweeg:
• Help2read (www.help2read.org) poog om ongeletterdheid in Suid-Afrika uit te wis. Vrywilligers leer kinders ’n lewenslange vaardigheid aan wat hulle sal help om hul skoolwerk baas te raak. Dit kan kwesbare kinders se lewe verander.
• New Day United (www.newdayunited.org) bring hoop en herstel vir gemeenskappe deur middel van verskeie entrepreneurskap- en opleidingsprojekte. Dit sluit in: naaldwerk-, wiskunde- en rekenaaropleiding. Dié organisasie poog om gemeenskappe sodanig te bemagtig dat hulle uiteindelik selfonderhoudend sal funksioneer. Vrywilligers is hartlik welkom, veral wat fondswerwing betref, en ook diegene wat opleiding rakende gesondheid, opvoeding, bemarking, bestuur, sosiale media of rekenaarvaardigheid kan behartig.
• Save the Children (www.savethechildren.org.za) fokus veral op die gesondheid, opvoeding en beskerming van weerlose kinders in Suid-Afrika. Hulle benodig vrywilligers wat hulle met enige deel van hul werk kan help.
• SAVE Foundation (www.volunteering.org.za) stig en bestuur volhoubare gemeen­skap- en natuurbewaringprojekte in Suid-Afrika, Ghana, Uganda, Tanzanië, Malawi en Kenia. Hulle staan ook ander nie-winsgewende organisasies by wat aktief by plaaslike gemeenskappe betrokke is.
• CharitySA (www.charitysa.co.za) beskik oor ’n databasis van nie-winsgewende organisasies in Suid-Afrika.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail