Met die eerste oogopslag lyk Die Boekklub se dorp nogal stil. Maar stap ’n bietjie daar rond, en jy hoor dié klein dorpie se baie woorde. Daar word veral heelwat oor afhanklikheid en omgee gesê.

 

Deur Conette le Roux

 

Toe ons op ’n Vrydag net ná middagete by die Karoodorpie Merweville in ry, heers daar ’n doodse stilte. Buite én binne die motor.

Waar is die mense? wonder ons.

By die imposante grys en wit NG-kerkgebou is daar darem lewe. Daar tref ons Esther Fourie aan, die gemeente se skriba. Sy stel ons gerus: “Dit is nou tussen een en twee. Almal rus. Die winkels maak eers weer tweeuur oop.”

Winkels? Twee algemene handelaars, ’n slaghuis en ’n drankwinkel.

Esther lag en sê sy is daaraan gewoond om vrae oor Merweville te beantwoord. “Die kerkkantoor is ook die toerismekantoor. As mense inligting benodig of verblyf soek, kom hulle dikwels heel eerste by my uit.”

Dit is seker soos dit hoort. Merweville, 160 km suidoos van Beaufort-Wes, het immers rondom die kerk ontstaan. Ds Herman Burger vertel dan ook later dat die kerk steeds die dorp se middelpunt is.

Voordat Esther die koster bel sodat ons die trappies aan die kerktoring se binnekant kan opgaan (“Julle móét net die uitsig daarvandaan sien!”) stel sy voor ek loop later met die strate langs en gesels met die mense. Só gaan jy Merweville beter leer ken, sê sy.

“Hier is báie woorde,” voeg sy by terwyl sy in die hoofstraat se rigting wys.

Ook dit is seker soos dit hoort, dink jy, met dié dat hierdie dorpie die tuiste van die TV-trefferreeks Die Boekklub is.

’n Akrobaat

Zena van Schalkwyk daag op om die ou klipkerk, wat in 2016 sy 100ste bestaansjaar gevier het, oop te sluit. Die kerk het sitplek vir ver meer as duisend mense; deesdae is daar maar 123 lidmate.

Zena is reeds sewe jaar lank die koster hier. En haar pligte sluit ook die versorging van die groot ou kerkhorlosie in. “Hy lyk kompleet soos Londen se Big Ben, maar hy is darem kleiner,” sê sy.

Sy gaan ons voor, óp met die trappe, en dan blitsvinnig teen die eerste leer op. Teen ’n tweede leer op, sien jy in die verbygaan die kerkklok, wat spesiaal vir dié gemeente in Skotland gegiet is.

Wanneer jy uiteindelik in die toring kom, is jy teenaan die unieke horlosie wat op ’n houtraam gemonteer is. Zena vertel dat sy elke vierde dag hier moet opklim om die horlosie met die hand op te wen. Dit is dié dat sy soos ’n akrobaat kan klouter …

Nóg ’n leer lei na ’n valdeur. En as jy deurklim, is jy op die toring. Met reg rondom jou die Karoo se ooptes.

En die eerste wat jy sien, is die opvallende tekens van die droogte. Die vaal, verskroeide veld.

Dan sien jy Letterkop, die klipkoppie wat vir hierdie kerk se boumateriaal gesorg het. En reg onder is die dorp self, die tipiese sinkdak-Karoohuise wat blink in die son. Voorheen, vertel hulle, was dit ’n plaas. Vanderbijlskraal.

En dan sien jy dit: beweging in die strate. Mense wat uit hul huise kom. Die kerkhorlosie se lang wyser staan bo. Dit is tweeuur, die middaguur is verby.

“Hier help ons mekaar”

Ons gaan soek in die hoofstraat na die netjiese wit huisie, net langs die pers huis. Só het Esther ons beduie. “Daar woon ons dorp se baasbakster,” het sy gesê.

Marie Blom is ses en sewentig, ’n klein vroutjie met wakker blou oë. Sy huiwer eers toe sy die vreemde mense sien, maar toe ek sê Esther het ons gestuur, maak sy die deur wyd oop.

Sy is hier naby op ’n plaas gebore, vertel sy, en ná matriek het sy in Worcester gaan werk. In 1991 het sy teruggekeer Merweville toe om haar siek ma te versorg. Na haar ma se afsterwe, woon Marie nou alleen in die tweeslaapkamerhuis. En sy bak. Daar is ook ’n vetplanttuin, net vir die plesier.

“Ek bly só lekker hier!” vertel sy. “Die droogte is net swaar. Vanjaar is die eerste jaar wat ek nie kon uie plant nie. Ek plant ook lankal nie meer ander groente nie. My windpomp se water het opgedroog.

“En met die munisipale water moet jy maar spaarsamig werk. Maar almal hier is steeds blymoedig. Ons gaan aan, die Vader sorg.”

Daar stop ’n bakkie voor die huis. ’n Man klim uit, ’n skottel eiers in sy hande. Hy gee dit vir Marie oor die onderdeur aan.

“Dankie,” sê sy. En roep agterna: “Ek sal dit tel en die geld in die blikkie gooi!”

“Hier vertrou ons mekaar,” vertel sy vir my. “Ons help mekaar. Elke keer as hy vir my eiers bring, tel ek dit en gooi die geld in ’n blikkie. En as sy kinders kom kuier, bel sy vrou my en vra my om koek te bak. Dan gebruik ek die geld in die blikkie daarvoor.”

’n Rukkie later stop die dominee ook voor die deur. Daar is die drie groot koeke wat Marie vir môre se kategesepiekniek gebak het …

Af in die straat, tot by Muller Handelaars. Hier vertel Belia Muller: “Hier help ons mekaar. Ek sê altyd: As jy ’n dak op Merweville sit, is ons een groot gesin. Ons kan lekker baklei, maar ons is ook lief vir mekaar.”

Belia ken die droogte se ellendige gevolge. Maar dit is nie nét sleg nie, sê sy. “Dit bring die gemeenskap nader aan mekaar, dit bring ons almal op ons knieë.”

Sy beduie na haar huis oorkant die straat. Daar is dit ’n groot bedrywigheid vandag. “Dit is waarvan ek praat,” sê sy. “’n Gemeenskap wat vir mekaar omgee. Hier vind vanaand ’n Karootroue plaas, en almal help om dit moontlik te maak.”

Later, in die pastorie (wat in Die Boekklub die gastehuis is), sê Herman: “Hier woon regtig diepgelowige mense. Ek skryf dit toe aan die gereelde droogtes. Hier heers ’n totale afhanklikheid van God.”

“’n Regte Karootroue”

Suzanne Theron, ’n boervrou uit die distrik, help met die finale troureëlings. Sy nooi sommer: “As julle wil sien hoe lyk ’n regte Karootroue, moet julle vanaand kom inloer. Daar gaan báie kos wees. Skaap op die spit ook.”

Ons hoor dat Marian Esterhuizen en haar man, Joubert, Douvoordag-slaghuis se eienaars is. Hulle verskaf die troue se kos. En die Mullers, wat ’n skuur in hul agterplaas het, gee die onthaalplek.

Vieruur, en ‘n donkiekar kom in Kerkstraat afgery. Vandag die troukar. Die bruid sit hoog. Die huwelikseremonie vind plaas op een van die min grasperke op die dorp. Boorgatwater, verneem ons.

Later loer ons by die skuur in. Reusepotte met vleis, groot bakke slaai. Die tafels word uitgedra om plek te maak vir die dans.

Die bruidspaar kom groet. Riaan en Rentia, nou meneer en mevrou Aucamp. Hulle al twee werk by die Esterhuizens se slaghuis. Rentia dra stroopsoet koeksisters aan. Sy vra of ons nie ook ’n doggy bag vol skaapvleis wil saamneem huis toe nie.

Sy vertel dat hulle nog net vyf maande lank in Merweville is. Hulle het die afgelope paar jaar baie rondgetrek omdat hulle albei ’n paar keer hul werk verloor het.

“Hier het ons dadelik tuis gevoel,” sê sy. “Die mense is so amazing! Hulle gee regtig om.

“Ons, ek en Riaan, is al só lank verloof aan mekaar. Maar ons moes die troue al ’n paar keer afstel omdat ons nie geld gehad het nie. Toe ons hier kom, wou almal dadelik weet hoekom ons nog nie getroud is nie. Toe vertel ek vir Marian die hele storie.

“En ek sê dat dit my droom is om op my ma, wat aan kanker oorlede is, se verjaardag te trou. Dit was nie lank nie, toe sê Marian ons moet sorg vir ’n trourok. Hulle sal sorg vir die res.

“En hier staan ons vandag. Getroud. Op my ma se verjaardag.”

  • Met groot dank aan Springbok Lodge vir ons verblyf. Skakel gerus die eienaar, ds Kallie le Roux, by 083 255 6931 of Mary-Ann van Heerden by 084 963 2204 vir besprekings.

Gee om!
Merweville het sowat 2 000 inwoners, vier winkels en enkele gastehuise. Werkloosheid en armoede is klaarblyk­lik ’n groot probleem. Rebekka Lottering, wat by Springbok Lodge op die dorp werk, praat met ons hieroor. “Hier is nie werk nie,” bevestig sy. “Hier is ook nie dinge waarmee die jong mense hulle kan besig hou nie. Daarom het ons dorp maar baie probleme.”
Die Wawwa Foundation probeer ’n verskil aan dié situasie maak. So het hierdie organisasie vroeër vanjaar ’n rugbyveld by Laerskool Merweville aangelê. In Julie het hulle ook ’n sop-uitreik in die dorp gehad. Tydens hierdie uitreik het hulle die plaaslike kinders betrokke gekry – dié het dan gehelp om die sop te kook en dit in die dorp te gaan aflewer.
Elke jaar Meimaand vind die S2M-projek plaas. Dit behels onder meer ’n bergfietsrit van Sutherland na Merwe­ville om fondse vir bogenoemde projekte in te samel. Besoek www.wawwa.co.za vir meer inligting.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail