Onkunde. Mense se onbegrip. Hul doodgewone wreedheid. Dit alles teister jou wanneer jy ’n erg gestremde kind grootmaak. Maar, vertel hierdie ma, ten minste het hierdie kind mý oë oopgemaak …

Deur Conette le Roux

 

Ses jaar gelede is daar ’n merkwaardige seuntjie gebore – Christian Buchanan. Sonder oë. Daar waar sy ogies moes wees, was slegs gevormde oogholtes. En dit was al.

“’n Ramp!” sou ongeveer almal sê, die ene simpatie.

“Moenie glo nie!” laat weet Lacey Buchanan, Christian se ma, via e-pos uit Tennessee in die VSA. “Só het ons iets van God se grootheid begin raaksien. Jy kan maar sê ons oë het oopgegaan.”

Die verhaal begin in 2011 in die Buchanans se tuisdorp naby die groot stad, Nashville. Lacey se swangerskap verloop volgens plan – maar op 19 weke hoor sy en haar man by die dokters dat daar “fout” is. Hulle weet nie wat nie, maar hulle weet wel dat hulle nie ’n aborsie gaan laat doen nie.

Ná die bevalling stel hulle vas dat Christian met die baie rare Tessier-gesigspleet gebore is. Daar is wêreldwyd net 50 ander soortgelyke gevalle aangeteken.

By Christian het dit ’n erg gesplete verhemelte tot gevolg gehad, en oogholtes waarin daar nooit oë ontwikkel het nie.

Hy was vier dae oud toe hy ’n operasie moes ondergaan. Ná vier weke in die neonatale intensiewesorg-eenheid kon hy uiteindelik saam met sy ouers huis toe gaan.

Uitdagings

Die versorging van ’n erg gestremde baba bring eiesoortige uitdagings mee. Boonop is daar die nimmereindigende worstelinge met ’n mediese fonds. Maar dalk was die Buchanans se grootste uitdaging die optrede van mense – wrede vreemdelinge, ja, maar ook oningeligte vriende.

Mense het gestaar, agter hul hande gefluister en selfs openlik gevra wat dan fout met die baba is. Een van vele laagtepunte in dié verband was toe iemand Lacey op Facebook gepak en haar dié woorde toegesnou het: “Jy was selfsugtig om hom in die wêreld te bring, en dit net omdat jy ’n baba wou hê. Jy is ’n patetiese verskoning van ’n ma. Hy sal ’n miserabele lewe hê.”

Hierdie soort optrede het haar platgeslaan, erken sy vandag. “Net die genade van God kon my daar laat opstaan.”

Toe draai die wiel: Lacey het Christian se verhaal op YouTube vertel. Uiteindelik is daardie video meer as 6 miljoen keer gekyk, wêreldwyd. En oral het hierdie getuienis hoop gebring.

Boonop het Christian begin giggel wanneer mense naby hom gekom het. “Verbeel jou: Hulle staar hom geskok aan … en hy lag! Hulle kon dan nie anders as om self te begin lag nie,” vertel sy ma.

Vandag sê Lacey: “Vreugde is een van die grootste dinge wat ek by Christian geleer het. Hy is een van die blymoedigste mense wat ek ken.”

“Verbloemde genade”

Daar het nog iets gebeur. Lacey vertel: “Dit was ’n bepalende oomblik in my lewe. Ek was by my werk by die kleuterskool en dit was die kinders se slaaptyd. Alles was stil en rustig. Ek het saggies gebid, en onder meer vir God gevra waarom so ’n slegte ding met my moes gebeur. Ek wou by Hom weet hoekom juis mý kind.

“En toe hoor ek ’n stem oor die radio wat vra: ‘Wat daarvan as beproewings in die lewe eintlik verbloemde genade is?’

“Hierdie woorde het my tot in my diepste wese geruk. Ek het só baie oor my omstandighede gekla dat ek nooit daaraan gedink het om dankbaar te wees vir die feit dat Christian lewe nie. Dat ek my kosbare baba elke aand aan die slaap kon sus nie.

“Ek kon hom verloor het, maar dit het nie gebeur nie. Ek was so vasgevang in my eie pyn dat ek nie besef het dat God deur dit alles by my is nie. Hierdie nuwe wete het my lewe en ingesteldheid vir altyd verander.”

Vandag is Christian ses; hy het ook ’n driejarige boetie, Chandler.

Lacey vertel: “Hy kla glad nooit oor sy gestremdheid nie en hy laat nie toe dat dit hom enigsins terughou nie. Hy hou net aan om vorentoe te beweeg – en hy doen dit boonop met soveel vreugde!

“Ek wil meer soos Christian wees …”

Anders is ook mooi

Lacey vertel dat dit haar en Christian se roeping geword het om hoop te bring. Om mense te inspireer om diegene lief te hê wat anders as hulle is. “Wanneer ons kies om ander lief te hê – juis as hulle anders as ons is – verheerlik ons God in dit wat Hy geskep het.”

Maar presies hoe behoort buitestanders mense met ’n gestremdheid te behandel?

“Dit is eenvoudig!” sê Lacey. “Behandel dié persoon net soos jy enigiemand anders sou behandel. Dit is oukei om nader te staan en ’n gesprek aan te knoop. Ek moedig trouens mense aan om juis dit te doen. Leer die gestremde ken, dit sal jou lewe verryk.

“Ek wil tog so graag hê mense moet ophou sê ‘ek is jammer’ wanneer hulle met my oor Christian praat. So asof hy dood is …

“Ek dink onkunde is die mees verlammende siekte in hierdie wêreld. Eendag, wanneer Christian oud genoeg is, sal ek voor hom gaan staan en sê: ‘Ek het jou té lief gehad om jou op te gee. En ek is nou te lief vir jou om ooit te wil opgee. Jy is ’n wonderlike mens! God het jou gekies om my seun te wees. En daarvoor sal ek altyd dankbaar wees.”

Inspireer!

Die Facebookblad “Lacey and Christian Buchanan” het reeds meer as 300 000 volgelinge. Hier vertel Lacey oor die daaglikse uitdagings en oorwinnings in Christian se lewe. Onder meer dié toe hy onlangs vir die eerste keer by ’n waterwurm afgegly het. En toe hy ’n stuk hout tydens ’n karateklas stukkend geskop het.

Een van die Facebook-volgelinge, Cordelia Martin, skryf: “Lacey, julle leer ons elke dag so baie. Ek is mal oor hoe jy jou twee seuns leer om dapper te wees!”

Destiny Hale Guy laat weet dat Christian waarlik ’n inspirasie vir haar is. Sy sien na haar blinde nefie om. Sy skryf: “Dit is vir my wonderlik hoe Christian en my nefie leer hoe om in hierdie wêreld te floreer. Dié dinge wat vir ons so maklik is, is vir hulle wat nie kan sien nie, ’n groot uitdaging. Mag God julle sonder ophou seën, terwyl julle ons almal daagliks bly inspireer!”

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail