BENNETT VAN RENSBURG

As gevolg van ’n besigheidstransaksie verloor ek in 1991 baie geld. Ek verloor ook my plaas, Wilgerivier.

Ons verhuis na Uniondale. Jare van finansiële swaarkry is ons nuwe werklikheid. Harde werk en ver afstande wat ek moet aflê, dikwels in die nag, dikwels ’n gesukkel met voertuie.

Susan, my vrou, werk op verskeie plekke op die dorp en hou die pot aan die kook. Intussen begin Susan ook met spyseniering, en dit help baie. Finansieel oorleef ons net-net. Daarvoor is ek haar baie dankbaar

In daardie tyd  koop ons ’n huis in Uniondale en saam met die spyseniering bedryf sy die huis as gastehuis en begin sy boonop ’n teetuin in ons eie tuin.

Bennett en sy vrou Susan tydens hulle 50ste huweliksherdenking.

Toe, op 11 Februarie 1995, ervaar ek “My droom van hoop”.

In die vroeë oggendure droom ek ’n wonderlike droom waarin ek saam met my vader en moeder ál met die ou toegangspad opstap na die opstal toe op Wilgerivier, ons gewese plaas.

Ons vorder maar stadig en moeisaam. Die pad is klipperig en ongelyk – soos dit inderdaad werklik ook was, want die pad was eintlik in die rivierloop van die Wilgerivier. Natuurlik het die pad gereeld weggespoel wanneer die rivier afgekom het en dit moes dan ook gereeld herstel word.

In my droom is my moeder meer prominent as my vader. Sy is jonk en opgewek, haar hare pragtig swart en sy dra ’n vrolike wit rok. My pa, darenteen, is in swart aangetrek, en het ’n stroewe uitdrukking op sy gesig.

Langs die pad is ook ’n bord waarop iets geskryf staan, maar ek kan dit nie lees nie, want die  skrif is onduidelik. Boonop is dit  halfdonker. Deurgaans is ek baie bedroef en huil ontroosbaar.

Teen die laaste bult die rivier uit op pad na die opstal toe raak dit eensklaps helder dag. Rondom ons is daar die mooiste wit wesens, half bok/half skaap, met koppe soos boerbokke. Ek kan dit glad nie verstaan nie.

Nou tree my moeder selfs meer op die voorgrond in my droom. Die bord wat ek vantevore gesien het, met skrif onduidelik, is nou baie duidelik want daar is in wit letters daarop geskryf. My moeder lees dit vir my voor: “Afgelos! Hierdie bokke wat jy sien, is nou almal joune.” Toe huil ek onbeheers.

Daarna word ek wakker en staan op. Dit was net voor 3:00 in die oggend.

Wat beteken dit tog, wonder ek dadelik. Watter sin maak dit? Hoe sal ek ooit weer by my gewese plaas, Wilgerivier, betrokke raak?

Die lewe gaan egter aan. Vanaf 1995 bid ek en Susan elke Sondagaand dat die Here my moet help in my besigheid. Ek hou aan met bid soos Jakob gebid het by die Jabbok… “ek sal jou net los as jy my seën” (Gen 32:26).

Maar in 1996 is daar onverwags weer ’n groot terugslag. Ons verloor alles, die huis en die voertuie. Wat nou?

Deur die genade koop ons die huis ’n tweede keer, maar ’n tydperk van werklike worsteling met God begin in my lewe. Vertwyfeling oorval my. Moet ek nie maar vir God los nie? Maar God wil mý nie los nie. Soms kom die allervreeslikste gedagtes by my op …

Tog dra God se genade my deur. My inspirasie kom van God. Moenie moed opgee nie. Volhard. Vertrou en hoop op God en werk hard. Eendag sal dit beter gaan! “Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want ek die Here jou God is by jou, oral waar jy gaan”(Jos 1:9). My geloof dra my en ek dien op die kerkraad, soms vir tydperke as hoofouderling. Dit help my om by mense wat ook swaarkry, betrokke te raak en somtyds meelewend te raak.

Die jare stap aan en ek raak ál meer betrokke by my eiendomsbesigheid. Vanaf 1980 het ons die eiendomsbesigheid steeds tussen ons ander bedrywighede ingepas.   Eiendomme bly my passie. Daar is egter ook nog steeds tye van swaarkry. My telefoon word afgesny. Vriende in die gemeente help my op verskillende maniere. Hierdie mense sal ek altyd met groot waardering onthou.

Toe, in 2015, kom daar ’n keerpunt in my lewe. Die Here sê vir my: “Verander jou léwe, dan sal jou omstandighede ook beter raak”. Ek het besef my optrede teenoor my vrou en kliënte moes verander en dat ek nederigheid en selfbeheersing in my lewe gekort  het (Gal 5:22). Daaraan moes ek werk.

Somtyds faal ek steeds in hierdie verband. Ons almal se persoonlikhede verskil en dit is nie altyd maklik om die goeie te doen nie, maar op 13 Mei 2015 gee ek “eienaarskap” aan die Here oor. Dit het vir my beteken om alles gemotiveerd aan te pak, om te werk  soos vir die Here en nie soos vir mense nie. Om te weet dat “die Here julle met ’n erfdeel sal beloon. Die Eienaar vir wie julle werk is Christus” (Kolo 3:23,24 in die Nuwe Lewende Vertaling).

Vir 20 jaar het ek en my vrou saam in gebed gevra dat die Here my besigheid ook soos in die geval van Jakob op ’n besondere manier sou seën. Ek is seker my vrou het in daardie lang jare soms ook moeg geword om elke Sondagaand dieselfde gebed te hoor.

Uiteindelik gebeur dit dat ek in 2015 – selfs vroeër – deur my eiendomsbesigheid weer by die bemarking van my gewese plaas, Wilgerivier, betrokke raak. So word my droom van 1995 op verskeie maniere bewaarheid. Soos in die droom was die pad lank en klipperig (20 jaar). Nou breek die Lig in my besigheid deur soos in die droom.

Verder was daar in die droom  heelwat wesens met boerbokkoppe en nou, in 1995, het ek verstaan dat dit verwys het na die feit dat ander plase sowel as Wilgerivier uiteindelik by die eiendomstransaksie betrokke was. In die droom het my ma die woord “Afgelos” vir my voorgelees.  Nou, na 20 jaar, was dit afgehandel wat Wilgerivier in my lewe betref …

My “Droom van hoop” word ook bewaarheid in die vorm van ’n goeie dividend wat ek uit die kommissie op die verkoop van die Wilgerivierblok-plase ontvang het.

Ek is tans deur die genade 78 jaar oud. My vrou, Susan, is 75 en sy behartig, soos in die verlede, behalwe die gastehuis ook die administrasie van die eiendomsbesigheid. Elke dag nog bid en vra ek die Here om my werk te seën want sonder Hom kan ek niks doen nie en is al my pogings tevergeefs. Soos ons in Psalm 127:1-2 lees in die 1983- vertaling: “Here, seën my werk. Sonder U, Here, kan ek niks doen nie en is al my pogings tevergeefs. As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs. Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ’n bestaan te maak. Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap.”

Het u nog ’n  ”droom” in die lewe, ten spyte van u ouderdom? Iets interessants wat u nog wil doen?

In my lewe het ek geleer: Moet nooit ophou droom nie! Nie voordat u die wedloop voltooi en die wenstreep bereik het nie (2 Tim 4:7).

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail