Toni-Jone Faihst

Kanker is iets wat net ander mense raak.  Of so het ek gedink totdat ek in 2012 die “gevreesde” kanker-diagnose gekry het: akute B-sel limfoblastiese limfoom (limfkanker).  Ek was 24 jaar oud, in die fleur van my lewe en het pas met my eerste werk begin na ek my meestersgraad in wetenskappe voltooi het.

Ek sou sê dat ek ’n goeie verhouding met die Here gehad het in daardie stadium. Selfs nog voor die diagnose het ek geweet iets is verkeerd. Ek het tot die Here gebid: “Here, ek wil nie siek wees nie, maar indien ek is en U kan my as instrument gebruik om ander te bereik, hier is ek. Doen slegs u wil”. ’n Bonatuurlike vrede het my gevul. Die dag waarop die diagnose met my gedeel is, het die dokter gedink ek begryp nie wat hy vir my sê nie, want ek was rustig met geen trane of histerie. Net vrede. My eerste trane het geval toe ek my ouers moes bel en die nuus aan hulle deel. Ek het seer gehad vir hulle part en dit het gevoel of ek hulle diep teleurstel, alhoewel ek niks aan die situasie kon doen nie. Hulle het my probeer bemoedig, maar aan die ander kant van die foon, het ek gevoel of ek hulle moes bemoedig. Ek was werklik nie bang nie en het nog aan my pa gesê dat ek weet die “medisyne” gaan vrek sleg wees, maar dis die slegte medisyne wat mens gesond maak, so hierdeur sal ek ook kom. Almal het konstant vir my gesê dat ek ’n slag moet huil en uiting gee aan my emosies. Ek kon nie. Vir my was geen rede om te huil nie. Ek kon voel hoe my Vader my vashou. Op my 25ste verjaardag, het die internis die behandelingsplan met my gedeel. Kort daarna het die weeklikse “chemo” begin, binne-aars en deur limbale punksie. Voordat ek nog na ’n behandeling kon aansterk, is ek weer opgeneem in die hospitaal vir die volgende sessie. Kort voor lank was ek te swak om sonder hulp te kon loop. My ma het my sy nooit verlaat nie en my pa, wat die pot op die plaas aan die kook moes hou, het elke dag telefonies sy “doktersrondes” gedoen. My familie se positiewe ingesteldheid het lewe gespreek en al het dinge hoe sleg gelyk, het hulle ook aanhou glo dat ek gesond sou word. Dit het dit makliker gemaak om self positief te bly.

Toni-Jone het van ’n skrale 35 kg-liggaam herstel en is vandag getroud met twee kinders. Foto verskaf

Op Moedersdag 2012 is ek die eerste keer in isolasie geplaas. Ek kon nie loop nie, kon vir paar dae al nie eet nie en het baie moeilik vloeistof ingeneem. My mond was deurtrek met sere. My lyf was seer van die lê. Vir die eerste keer het ek bang geword. Die vrees wou my versmoor. Ek het kliphard gebid en die Here gevra om die vrees weg te neem, my weer hoop te gee, iets om aan vas te hou. Die oomblik toe ek “amen” sê, stap twee dames met hul “isolasiekamer-maskers” in. Hulle noem dat hulle gestuur is om vir my te kom bid.  “Ons name maak nie saak nie, want die Here het ons gestuur”, was hul antwoord toe ek vra wie hulle is. Hulle het weerskante van my bed kom sit, my hande gevat en vir my gebid. Die trane wou nie ophou vloei nie, want ek het dan sopas gebid dat die Here my weer iets moet gee om aan vas te hou.  Op hulle pad uit, het die een dame omgedraai en gesê dat ek ’n bloedoortapping gaan ontvang, maar dat ek nie moet vrees nie, dis Jesus se genesende bloed wat deur my are gaan spoel. Hierdie twee engele het ek nooit weer gesien nie. Daardie selfde aand het ek drie eenhede bloed ontvang. Die eerste lot van baie wat gevolg het. Dinge het skerp afdraende gegaan hierna. Ek was elke dag swakker en vir drie maande daarna was die hospitaal my tuiste. Na erge ongemak en pyn in my buik, het ’n sonar bevestig dat daar ’n “lekkasie” in my ingewande is. Met ’n swak, skrale 35 kg-liggaam, moes ek gaan vir ’n noodoperasie. Aan my ouers is gesê dat hulle moet afskeid neem, want daar was net 20 % kans dat ek die operasie sou oorleef.  ’n Paar uur later het ek in ICU wakker geword met talle pype uit my lyf.  Volgens die dokters was dit net ’n wonderwerk dat ek kon oorleef na my kolon letterlik in twee geskeur het. Fisies moes ek weer leer loop en leer eet. Ten spyte van heelwat uitdagings in die tyd daarna, kon ek twee maande later terugkeer werk toe. Vyf maande daarna het ek en my kêrel verloof geraak.  Oktober 2013 het ek getrou met die man met die mooiste hart, my beste vriend. Medies gesproke sou ons nooit kon kinders hê nie. In 2015 is ons pragtige seuntjie gebore en 11 maande later, selfs deur voorbehoeding, is ons mooiste dogtertjie gebore.

Ook in my geloof moes ek van voor weer leer “loop” en het besef ons Here maak nie siek nie, maar Hy laat alles ten goede meewerk vir die wat Hom liefhet, tot eer en verheerliking van sy naam. Wanneer ons swak is, kom God se krag tot volle werking. Ek het gevoel soos die vrou van Markus 5 aan wie die Here gesê het: “Dogter, jou geloof het jou gered.” Dis wel nie my geloof nie, maar God se onvoorwaardelike liefde en genade. Sonder dit, beteken geloof niks. Ek het geleer dit maak nie saak hoe donker dit mag lyk nie, niks kan ons skei van die liefde van God nie. Hy het my kom heelmaak deur omstandighede te gebruik om bietjie van myself te verloor, sodat ek kon plek maak vir meer van Hom.  So lank as wat ek leef, sal ek getuig van sy goedheid en perfekte liefde. Hy alleen laat die golwe bedaar in die middel van die lewe se storms.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail