T-Y-D. Só spel kinders “liefde”. Maar hoe gemaak as hul ouers se tyd beperk is? En maak die (bietjie) tyd wat ouers wel saam met hul kinders kan bestee, hoegenaamd ’n verskil?

Deur Susan Goosen

Ons almal weet hoe belangrik dit is om gehaltetyd saam met ons kinders deur te bring. Die voordele daarvan is eintlik voor die hand liggend. Maar terwyl ouers oor die algemeen sukkel om genoeg ure in hul dag te vind, sal hierdie voordele waarskynlik nooit hul kinders beskore wees nie. En verlammende skuldgevoelens daaroor, help helaas nie veel nie.

 

Waar lê die probleem?

“Ouers vind dit al hoe moeiliker om ’n betekenisvolle hoeveelheid tyd by en saam met hulle kinders deur te bring,” sê Renardo Treurnich, ’n kliniese sielkundige in Hatfield, Pretoria. “Ons veranderende wêreld bedreig ook die ouer-kind-verhouding.

“Die lewe se vinnige pas stel geweldige eise aan ouers én aan die kinders. Die gevolg is dat tyd beperk is, dat dit duur geword het.

“Ouers bring lang ure by hulle werk deur en hulle beleef dikwels groot druk daar. Om te probeer bybly, maak hulle toenemend staat op verskillende soorte tegnologie om met die mense in hul lewe te kommunikeer. Hierdie tegnologie word ook as ontspanning gebruik. Die gevolg is dat dié ouers, ook wanneer hulle tuis is, nie hul volle aandag aan hul kinders gee nie.

“’n Verdere gevolg is dat daar minder veilige grense in die ouer-kind-verhouding tot stand kom. Ouers verskuif ook gereeld hierdie grense of reëls om by hulle omstandighede te pas, óf hulle pas dit nie konsekwent toe nie. Dié wat byvoorbeeld verlede week nog op ouertoesig by sekere flieks aangedring het, kyk nou anderpad, omdat daar ’n dreigende krisis by die werk is. Dit laat die kinders onseker en onveilig voel.”

Maar daar is verdere gevolge: Sulke ouers beleef dikwels erge skuldgevoelens.

Marise Swart, kliniese sielkundige, ook van Pretoria, verduidelik dit só: “Ouers word dikwels ontnugter wanneer hulle agterkom dat hulle nie die perfekte ouer kan wees nie. Ouers met min tyd, en gevolglik min energie, wroeg gedurig – omdat hulle voel dat hulle nie goeie ouers is nie of nie genoeg vir hul kinders doen nie. Hulle wil só graag vir hul kinders dié dinge gee wat hulle self nie as kind gehad het nie – net om keer op keer te ervaar dat hulle ook maar te kort skiet.”

 

Hoeveel tyd is genoeg?

Oormatige skuldgevoelens kan egter die probleem laat sneeubal, juis omdat dit soveel ekstra spanning meebring. Sowel Marise as Renardo is daarvan oortuig dat ouers – met ’n bietjie beplanning – die tyd wat hulle wel met hul kinders deurbring, positief kan aanwend.

Hier is kommunikasie die sleutelwoord, sê hulle. Goeie, sinvolle kommunikasie.

En dit beteken onder meer: Ouers moet seker maak dat hulle hul eie gevoelens en reëls duidelik kommunikeer. Dat hulle aktief luister en hulle volle aandag aan die kinders gee.

Beaam wat jy by hulle hoor en sien. Sê byvoorbeeld: “Ek kan agterkom jy is moedeloos met daardie onderwyser.”

Gee aan kinders inspraak in die probleemoplossing en besluite wat die gesin raak.

Dit is natuurlik ook belangrik dat ouers aan hulle sélf grense stel …

Die kenners sê: Sorg dat julle tyd inruim om as gesin saam te kuier, al kan julle dit nie gereeld doen nie. Skakel die selfoon af en sorg dat jy jou volle aandag aan jou kind gee.

Dit wat julle as ouers en kinders saam met mekaar doen, is nie noodwendig die belangrikste nie; die tyd wat julle saam deurbring, is wel.

Dit sal tog goed wees om iets te doen wat by jou kind se spesifieke liefdestaal (soos Gary Chapman dit in sy boek beskryf) aansluit. Krul saam op vir ’n lekker storie, verf mekaar se toonnaels, of help om ’n stukkende fietswiel reg te maak.

Die goeie vrugte …

Daar is ’n hand vol ooglopende voordele wat betekenisvolle saamwees vir ouers, kinders en hul onderlinge verhouding inhou.

Dit sluit in: Kinders wil graag voel dat hulle “behoort”. Dat hulle waarde het vir hul ouers, hul gesin, en in die gemeenskap waar hulle woon. Betekenisvolle tyd saam met jou kinders, en behoorlike kommunikasie met hulle, bevestig aan hulle dat hulle waardig is om gehoor te word, dat hulle belangrik is, en dat jy hulle en hul menswees waardeer.

Marise sê: “Die kind se verhouding met die ouers is daardie kind se eerste en belangrikste verhouding. Dit vorm die grondslag van hoe die kinders hulleself en hul wêreld ervaar. Die kontak tussen ouer en kind beïnvloed die vorming van die kind, en die kind se ‘self’ ontwikkel as ’n produk van hierdie verhouding.

“Daarom is die kwaliteit van die tyd wat die ouer en kind saam deurbring belangrik vir die vorming van die kind se selfvertroue, selfwaarde en identiteit.”

Die teendeel is ongelukkig ook waar.

Renardo verduidelik dit só: “Kinders wat nie betekenisvolle tyd saam met hul ouers deurbring nie, en wat nie aangehoor word nie, ontwikkel dikwels emosionele tekortkominge. En daar is verskeie negatiewe gevolge van onbevredigde behoeftes. Hierdie gevolge is nie noodwendig dadelik sigbaar nie, maar kan later problematies word.

“Die volgende is hier moontlik: ’n gevoel van wantroue in die omgewing; onsekerheid, skaamte en selftwyfel; wangedrag, woede, skuldgevoelens. En ’n minderwaardigheidskompleks.

“Op hul beurt kan dit tot ander probleme lei – angs, obsessiewe, kompulsiewe of opposisionele gedrag, en depressie.

“Kinders wat beleef dat hulle behoeftes nie erken en bevredig word nie, voel dikwels geïsoleerd. En dan gaan soek hulle na alternatiewe. Laasgenoemde sluit dikwels minder gesonde moontlikhede in.”

Wenke wat werk

Marise en Renardo deel die volgende wenke:

  • Betrek jou kinders by daaglikse aktiwiteite, soos kosmaak, inkopies of tuinwerk. Ouers kan om die beurt seker maak dat almal die geleentheid het om iets saam te doen. Selfs sleurtake kan die geleentheid bied om oor ernstige sake te gesels. Of om iets prettigs met mekaar te deel.
  • Probeer “spook-tyd” met jou kind deurbring. Los ’n briefie in ’n kosblik of skooltas, of stuur ’n teksboodskap of klein geskenkie wanneer jy nie ’n belangrike wedstryd of ’n kultuuraand kan bywoon nie.
  • Fisiese aanraking is belangrik, ook vir ouer kinders. Raak op verskillende maniere aan jou kinders: ’n drukkie wanneer hulle opstaan, ’n hand op die skouer wanneer hulle huiswerk doen, of ’n kamma-stoeigeveg op die gras. Bied aan om moeë voetjies met room te smeer.
  • Oogkontak is baie belangrik. Indien julle geneig is om verby mekaar te hardloop, kan julle ’n slag die staar-speletjie speel om oogkontak aan te moedig. Dit werk só: Twee gesinslede moet mekaar in die oë kyk sonder om ’n spier te verroer. Die eerste een wat lag, is die verloorder.

 

Nog slim planne vir sinvolle saamwees

  • Volg die reëls vir goeie kommunikasie. Maak oogkontak, daal tot op jou kind se vlak, gebruik kindervriendelike taal, vra vrae en deel jou eie ervarings.
  • Skeduleer kort sessies binne jou besige program. Stel jou wekker 20 minute vroeër, sodat julle tyd het om saam tee te drink. Of maak ’n gewoonte daarvan om voor slaaptyd te gesels, drukkies te gee of ’n storie te lees.
  • Sorg elke oggend vir ’n drukkie en soentjie voordat julle in verskillende rigtings spat. Sê iets om jou kind te bemoedig.
  • Eet ten minste een ete per dag as gesin saam. Vra elke lid van die gesin uit oor die afgelope dag. Iets soos: Wat was die lekkerste ding wat vandag gebeur het? Het daar enigiets gebeur wat vir jou sleg was?
  • Doen moeite om na jou kinders uit te reik wanneer jy hulle versorg. Sorg vir baie pret wanneer jy klein lyfies bad; gee hulle met ’n glimlag kos. En wanneer jy hulle tussen aktiwiteite rondry, gebruik die tyd om oor hul dag uit te vra.
  • Maak jou kinders deel van jou leefwêreld. Betrek hulle wanneer jy ’n druppende kraan regmaak of nuwe gordyne maak. Het jy ’n stokperdjie? Deel dit met jou kinders. Neem hulle saam wanneer jy gaan gholf speel of foto’s neem. Leer hulle om kitaar te speel.
  • Kies ’n aktiwiteit wat vir almal in die gesin lekker is, en doen dit gereeld. Die gedagte aan ’n kunsaktiwiteit of ’n bak-en-brou-sessie laat dalk jou nekhare rys. Besluit dan om bal te skop, ’n legkaart te bou of in die park te gaan stap.
  • Probeer om alleentyd vir elke kind in jou program te maak. Dit kan beteken dat julle een keer per maand ’n afspraak maak; dalk saam gaan inkopies doen. Dalk kan jy iewers oor ’n naweek ’n halfuur se geselstyd inpas.
  • Teken jou kinders se aktiwiteite in jou dagboek aan. Só sal jy nie van kunswedstryde of skoolbyeenkomste vergeet nie.
  • Bid saam. Lees saam uit die Bybel. Deel jou ervarings met die Here met jou kinders, ook in die gewone gang van elke dag. Verseker hulle daarvan dat jy vir hulle bid, en dat jy die Here dank dat Hy julle met kinders geseën het.

Kontak ons kenners: Marise Swart en Renardo Treurnich is kliniese sielkundiges. Hulle kan gekontak word by 012 363 6605. Of besoek Marise se webwerf by www.marise.co.za

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail