Wanneer daar weer berig word oor ’n tiener se selfdood, laat dit almal verslae. Sprakeloos. Magteloos. Is daar dan nie iéts wat ouers en vriende kan doen om so ’n tragedie te probeer verhoed nie?

DEUR RENÉ BADENHORST

“Dit is onmoontlik om die waarde te meet van één lewe wat deur selfdood kortgeknip is.” Só sê mense van die Suid-Afrikaanse Depressie-en-Angsgroep (SADAG).

En enigeen wat hierdeur geraak word, al is dit nie regstreeks nie, sal hiermee saamstem. Die voortydige dood van ’n tiener wat nie meer kans gesien het om verder te leef nie, is ’n onberekenbare verlies.

Bloot die koue statistiek in hierdie verband is reeds onrusbarend. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is selfdood wêreldwyd die tweede grootste oorsaak van dood by mense tussen 15 en 29 jaar oud. Daar vind elke 40 sekondes ’n suksesvolle selfdoodpoging plaas, en vir elke soortgelyke poging is daar tussen tien en 20 persone wat dit probeer het en nie daarin kon slaag nie.

In Suid-Afrika het die selfdoodsyfer vir kinders tussen 10 en 14 jaar oud die afgelope 15 jaar meer as verdubbel.

Dui hierdie syfers op ’n nuwe tendens?

“Nie noodwendig nie,” sê Ilze Neethling, ’n sielkundige. “Dit is so dat inligting hieroor deesdae geredeliker bekombaar is. En die publiek word ook aktief aangemoedig om openliker hieroor te praat. Daarom weet ons deesdae van meer sulke situasies as vroeër.”

Hoekom gebeur dit?

In Suid-Afrika, blyk dit, het 60% van diegene wat aan selfdood sterf ’n geskiedenis van depressie. “En laasgenoemde, weet ons, vorm deel van ’n komplekse samehang van faktore, allerlei risiko’s en onderliggende kwesbaarhede,” sê Ilze.

“Alhoewel eksterne kwessies by tieners – onder meer akademiese druk by die skool, druk uit die portuurgroep, prestasiedruk van die ouers se kant, die rol van boelies, probleme in die gesin – ’n beduidende rol hier kan speel, is daar dikwels ook ander onderliggende kwessies. En spesifiek tieners se ontwikkelingstadium.”

By laasgenoemde sluit Ilze fisiologiese faktore in, soos die brein se gesloer met uitvoerende funksies, met probleemoplossing en besluitneming. In hierdie stadium gaan die tieners dikwels op soek na hul identiteit en word hul gedrag oorwegend deur gemoedskommelings bestuur. Hulle raak makliker by dwelms betrokke en, volgens baie ouers, ‘raak hulle soms heeltemal die kluts kwyt!’”

Dan word selfdood of pogings daartoe ’n soort ontsnaproete. ’n Poging om van intense pyn en hartseer weg te kom – sonder die nodige kognitiewe begrip dat dood “vir altyd” is.

Wees mediaslim!

Ouers en ander belanghebbende volwassenes moenie die rol van die internet in dié verband onderskat nie. Ilze sê: “Daar is bevind dat internetgebruik gekoppel is aan meer gewelddadige metodes van selfbesering. Dat 73% tieners wat besonder gewelddadige selfbesering toegepas het, erken het dat hulle dit vooraf aanlyn ondersoek het. Dat hulle dit ook met ander jong mense bespreek het.

“Die Donker Web, oftewel die ‘Dark Web’, is ook hier ’n wesenlike gevaar. En baie ouers en volwassenes is salig onbewus hiervan. Dit is immers slegs deur middel van spesiale soort sagteware, stellings of toegangskodes toeganklik. Op sy beurt vorm dit ’n klein deel van die soge­naamde Deep Web – daardie deel van die wêreldwye web wat nie deur soekenjins geïndekseer word nie. Baie tieners het op ’n manier toegang hiertoe verkry.

“En dit is hier waar onder meer selfdood en selfbesering tot in die fynste besonderhede beskryf en dikwels gewys word, en gebruikers aangemoedig word om self sulke pogings op te neem en op hierdie webtuistes beskikbaar te stel.”

Dit bly ouers se verantwoordelikheid om op die hoogte te wees van dit waaraan hul kinders in die kuberruim en die media blootgestel word, sê Ilze. Help hulle dan só:

  • Leer hulle vroeg-vroeg om tussen feit en fiksie te onderskei. Om byvoorbeeld nie deur die oppervlakkige aard van aanlynvriendskappe verlei te word nie. Help hulle om ’n gesonde perspektief te ontwikkel: Honderde Facebookvolgelinge is nie gelyk aan gewildheid nie. Dit maak jou wel kwesbaar vir aanlyn-identiteitdiefstal. Én vir die vasval in ’n fiktiewe wêreld waar nie een van die mense wat “likes” gepos het, jou persoonlik te hulp gaan snel as jy ’n krisis beleef nie. Een of twee goeie vriende is baie meer werd as 100 “likes” op ’n Facebook-inskrywing.
  • Ouers se denke en optrede rakende die media (juis ook sosiale media) is belang­rik. Neem ’n doelbewuste besluit om jou kind bloot te stel aan die soort media wat jou waardes en norme weerspieël, en nee te sê vir dié wat dit ondermyn.
  • Ouerlike betrokkenheid is gewoonlik die beste wapen teen negatiewe invloede. Slaan ag op films en TV-reekse se onderskeie ouderdomsbeperkings. Gestroomde aanlynvideo’s word nie gegradeer nie en die inhoud daarvan laat dikwels veel te wense oor. Ook Netflix se ouderdoms­grense word nogal wyd gestel.
  • Leer jou kind oor die gevare van die media. Vestig reëls (byvoorbeeld vir beperkte internetgebruik) vir wanneer jy nie tuis is nie. En wees bewus van wat jou kind doen wanneer hy of sy aanlyn is.
  • Help ontwikkel jou kind se emosionele intelligensie. Moenie dink dat jy eers bekommerd hoef te raak wanneer die tienerjare aanbreek nie. Voorsorg begin reeds in die vroeë kinderjare. Hoe vroeër jy jou kind die nodige vaardighede aanleer om probleme op te los en om emosies te verwerk, hoe laer is die risiko vir selfdood.
  • Vestig ’n beleid van oop gesprekvoering – van seks tot selfdood – en jou tiener sal die vrymoedigheid hê om jou met pro­bleme te nader.

 

Let op!

Baie selfdooddreigemente of -po­gings word eenvoudig as “aandag soek” afgemaak. Hierdie soort reaksie is bitter gevaarlik. Ilze sê: “Alle tekens wat op selfdood dui – ook dreigemente – moet as ernstig beskou word. Alhoewel daar soms geen voorafwaarskuwing van enige aard is nie, is daar by 75% van die kere wat selfdood voorkom inderdaad waarneembare waarskuwingstekens.”

Lourentia de Kock, ’n voorligtingsielkundige in Pretoria, identifiseer die volgende sodanige tekens:

  • Die tiener praat gereeld – openlik of deur skimpe of vae verwysings – oor dood of selfdood. Wees veral bedag op stellings soos die volgende: “My gesin sal beter af wees sonder my.” Of as die persoon praat asof hy/sy op die punt staan om weg te gaan.
  • Tekens van depressie kan die volgende insluit: ’n beheptheid met morbiede temas; probleme op skool en ’n gesukkel om te konsentreer; ’n skielike verandering in gemoedstemming en gedrag; rebelse gedrag en selfs wegloop van die huis af; uiterste sensitiwiteit vir mislukking; maklike, dikwelse trane en/of maklike irritasie of woede; sosiale afsondering en die vermyding van gesinslede; ’n verminderde belangstelling in feitlik alle normale bedrywighede; gereelde klagtes oor moegheid; ’n merkbare verandering in eetgewoontes (eet eensklaps té veel of té min); slaapprobleme.
  • Gevaarlike of selfvernietigende optrede. Gedrag wat die dood uitdaag, kan toon dat iemand min belangstelling in die lewe het. Selfverminking (soos om die vel te sny) kan ook ’n simptoom wees.
  • ’n Gevoel van waardeloosheid of ’n onvanpaste skuldgevoel of swak selfbeeld. Die tiener is baie krities teenoor hom-/haarself en voel soos ’n algehele mislukking, selfs al is dit strydig met die feite.
  • Eksperimentering met dwelms en drank.

 

Tree op!

As jy enige deel van bogenoemde soort gedrag waarneem, moet jy die volgende doen:

  • Maak onmiddellik ’n afspraak by ’n sielkundige of berader.
  • Gaan dadelik tot aksie oor om onderliggende konflik by die huis op te los.
  • Ondersteun jou kind.
  • Wees onvoorwaardelik lief vir jou kind. Aanvaar jou kind vir wie hy of sy is.
  • Wanneer depressie by jou kind gediagnoseer word, moet jy seker maak hy of sy voel gemaklik by die betrokke sielkundige. Indien nie, moet jy ’n ander terapeut soek.
  • Laat weet jou kind se onderwyser en voorligter, met die kind se toestemming, dat hy of sy met depressie gediagnoseer is. Maak dan seker dat daar voldoende begrip en ondersteuning by die skool is.
  • Moedig daaglikse oefening aan om jou kind se natuurlike “goedvoelhormone” ’n hupstoot te gee.
  • Help jou kind om ’n stokperdjie of aktiwiteit te vind wat hy of sy geniet.
  • Bly positief en vermy te alle tye negatiewe en afbrekende opmerkings van of oor jou tiener.

 

Por nuwe dramareeks selfdood aan?

Die tienerdrama 13 Reasons Why wat vroeër vanjaar op Netflix vrygestel is, het groot opslae gemaak. In dié verhaal laat ’n tiener na haar selfdood 13 kassette agter wat 13 redes verskaf waarom sy haar lewe beëindig het.

Daar is kritici wat reken dat selfdood hierdeur verheerlik word, dat die aanleidende oorsake verromantiseer word en die gevolge versag word. Die hoofkarakter word ’n martelaar, en die boelie se gedrag (een van die belangrike redes vir die selfdood) verander ten goede.

En daar is inderdaad vasgestel dat internetsoektogte oor selfdoodmetodes dramaties toegeneem het nadat hierdie reeks uitgesaai is, en verskeie selfdood­pogings word regstreeks hieraan toegeskryf.

Wat verhale soos hierdie dikwels nalaat om te vertel, sê die kenners, is hoe verwoestend die uitwerking van selfdood op so ’n jong mens se ouers, familie en vriende is. Daar word ook nie melding gemaak van die dikwels tragiese gevolge – dalk iets soos verlamming of breinskade – van mislukte selfdoodpogings nie. En dat selfdood geen oplossing vir onderliggende probleme is nie.

Dessy Tzoneva, ’n woordvoerder van SADAG, reken dat die lesse wat uit so ’n reeks voortspruit wel ter harte geneem moet word. Dit sluit in: die rol van seksuele aanranding en boeliegedrag (ook dié van kuberboelies) by selfdoodpogings. “Hieroor moet ouers, onderwysers en vriende oopkop wees,”sê Dessy. “Praat met mekaar!”

Kry hier hulp

As jy oor ’n tiener besorg is of self hulp nodig het, bel SADAG by 0800 567 567.

Stuur ’n SMS na 31393 en ’n berader sal jou terugbel. Of besoek www.sadag.org

Besoek die gratis aanlyn-beradingsdiens www.mobieg.co.za of laai die toep

“MOBIEG” op jou selfoon af.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail