Wat maak jy, ’n jong vrou met sterre in die oë en drome in die hart, wanneer jy eensklaps verlam gelaat word? Jy is dankbaar oor die goeie pad wat soveel mense met jou loop. En jy gee 110% vir die Here. Dit is wat Nandi Odendal doen.

Deur Yolanda Wessels

 

Nandi Odendal het op Prince Alfred’s Hamlet saam met haar twee sussies, Anneri en Tarien, grootgeword. Later het dié sportmal kind by die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl gematrikuleer, waarna sy ’n BEd-graad aan die Universiteit Stellenbosch behaal het.

Haar eerste onderwyspos was by Parkdene Primêr, en daarna is sy na die Mispa-skool vir gestremdes in Elim. In Augustus 2012 het sy ’n aanstelling by Rûens Kollege in die Overberg aanvaar. Dit is hier waar haar lewe onherroeplik verander het.

’n Ongeluk

Op Donderdag 1 November 2012 was Nandi op pad skool toe. Dit was ’n plaaspad. En toe gebeur die ongeluk.

Sy vertel: “Ek is uit die kar geslinger en het 30 meter verder te lande gekom. Toe ek wakker word, kon ek glad nie beweeg nie.

“Daar, in my magtelose alleenheid, het ek God aangeroep. Hy het my kom optel en saam met my ’n nuwe pad begin stap.”

Nandi is in die Otto du Plessis-hospitaal in Bredasdorp opgeneem en gestabiliseer en daarna na die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad oorgeplaas. Hier het X-strale aangedui dat haar rug op drie plekke gebreek is.

Daardie Vrydagnag is sy geopereer om haar rug te stabiliseer. Vir haar gesin was dit ’n tyd van baie trane. En baie gebed.

’n Genade

“Ek en my mense beleef elke dag die Here se seën in ons lewe,” sê sy vandag. “Hoe Hy voorsien.”

Sy vertel van vriende uit Ceres en uit die Overberg wat die inisiatief geneem het om ’n fonds te stig om dit finansieel moontlik te maak dat sy die beste moontlike rehabilitasieprogram kon volg. “Sewe dae ná die ongeluk is ek na die Vincent Pallotti-hospitaal oorgeplaas waar ek met my rehabilitasieprogram begin het.

“Ek onthou een spesifieke aand daar, toe ek baie hartseer was. Nee, nie oor my beserings nie, maar juis omdat die Here mý gekies het om hierdie pad saam met Hom te stap. Net daar het ek besluit om te alle tye en in alle omstandighede 110% vir die Here te gee en te doen.

“My naam beteken nie verniet ‘hoop’ nie …”

Ná ses weke in verskillende hospitale kon Nandi huis toe gaan. En in Januarie 2013, 14 weke ná die ongeluk, het sy weer daardie pad gery, terug na Rûens Kollege. Dié slag in haar spesiaal aangepaste motor.

Sy het weer begin skoolhou. Hieroor vertel sy dankbaar: “Almal by die skool het moeite gedoen om alles vir my so gemaklik moontlik te maak.”

’n Nuwe uitdaging

Aan die einde van 2014 het Nandi Rûens Kollege en sy mense gegroet en Kaap toe verhuis. Sedertdien gee sy klas vir voorskoolse kleintjies by Laerskool Jan van Riebeeck se kleuterskool, Huppelland.

“Ek was opgewonde om hierdie skuif te maak – van ’n plattelandse dorpie na die stad,” vertel sy. “Dit is ’n groot uitdaging, in alle aspekte van my lewe. Dit is lekker om myself voortdurend uit te daag en te sien waartoe ek in staat is.”

Sy vertel van tennisafrigting wat sy ontvang en die handfietsry wat sy doen. “En elke dag ná skool au pair ek vir ’n gesin met vier pragtige kinders.”

Sy het wel gou agtergekom dat haar nuwe omgewing nie juis rolstoelvriendelik is nie. “Maar,” sê sy, “dit het my steeds nie weerhou om elke dag die lewe met moed en durf aan te pak nie. Op my eie, unieke manier. So normaal soos wat ek kan.”

Natuurlik is daar baie struikelblokke. En steiltes.

Laggend vertel sy dat haar werkplek en haar huis elkeen teen ’n steil helling geleë is. “Een aand het ek my rolstoel uit die motor gehaal, en voordat ek die remme kon aansit, begin dit teen die heuwel af rol.

“Ek het toe maar rustig gesit en wag vir ’n verbyganger om my rolstoel iewers daar onder in die donker te gaan soek!”

Ook die kinders by die skool is haar behulpsaam. “Hulle het gou-gou ’n plan beraam om my op en af teen die trappe te laat beweeg. Hulle het bloot gesê: ‘Juffrou, klim net van jou stoel af. En dan hop jy soos ’n hasie!’

“Nou is dit eenvoudig: As ek by die trappe kom, hop ek daar op en later weer af. Soos ’n hasie.”

’n Klomp kleintjies

Dit is vir haar ’n voorreg om daagliks met kinders te werk, sê sy, want hulle aanvaar haar net soos sy is. “Dit is te verstane dat daar agterdog by mense kan wees oor die vermoë van ’n onderwyseres in ’n rolstoel – veral met twee en twintig vyfjariges in ’n klaskamer.

“Maar ek glo dat my passie en liefde vir kinders hierdie wanpersepsie gou uit die weg geruim het. Dit is in elk geval vervang deur wonderlike ondersteuning en baie liefde van sowel die ouers as die personeel.”

Waaroor droom sy?

“Ek weet dat die Here my gemaak het om deel van kinders se lewe te wees,” sê sy. “Om hulle te help om hul identiteit in Hom te vind en nader aan sy hart te beweeg.

“Mý hart leer my om vir weeskinders – dié sonder ouers én hulle wat soms alleengelaat voel – ’n huis te skep waar hulle deel word van die familie van Christus.

“Ek het deur my ongeluk geleer dat my enigste droom moet wees om binne God se wil te leef, en om Hom te kies bo alles wat ek doen. Dán weet ek my hart se begeertes en drome is in ooreenstemming met Syne.

“O, en dan wag ek ook opgewonde vir die dag wanneer my eie vier kleintjies in my huis rondhardloop! Ek weet dat die Here reeds elkeen van hulle se name uitgekies het …”

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail