Deur Keziah Watkins

Dit is my storie en my pad na antwoorde.

My ouers het ’n seun verloor met geboorte. Baie vinnig daarna het my ma uitgevind sy verwag weer. Ek was nie ’n beplande swangerskap nie, hulle wou wag met die nuus van die swangerskap, uit die vrees iets gaan verkeerd loop. So word my suster van drie wakker een oggend: “Mamma, daar is ’n dogtertjie in mamma se maag en Jesus het vir my gesê haar naam moet Keziah wees”. Op sewe en ’n half maande word ek gebore. Sonder ’n naam kan ek seker nie die wêreld inkom nie. Die naam Keziah vind sy in ʼn boek: “She was the second daughter born to Job after his tribulation. It is from the spice tree, sweet cinnamon sent and is used as an anointing oil.”

Keziah Watkins en haar gesin. Foto verskaf

Hoërskool het my getref soos ’n bom! Skielik is ek in hierde groot skool, ’n groot jong meisie in ’n nuwe wêreld. My laerskool was klein en ek was maar altyd deel van die seuns, saam rugby gespeel, ens. Jy bevind jouself in ’n “grootmens-wêreld” met nuwe gevoelens en emosies. Hoërskool was eers lekker. Ek het my stem verloor. Ek is verskeie kere teleurgestel. Ek het verlore gevoel in die donker. Klein Keziah was nie meer daar nie.

Standerd ses het gevoel asof ek in ’n donker kamer my weg moes vind. Ek het aanvaarding op al die verkeerde plekke gesoek. My “klein dogtertjie-lewe”, waar ek in beheer was, was nie meer daar nie. Wat was my doel dan?

Die einde van daardie jaar het ’n insident ons lewe totaal en al verander toe ons as gesin deur iemand,wat aan ons bekend was, in ons huis eie huis aangeval en gedreig is. Hy het ons huis binne gestorm met twee gewapende mans wat onlangs op parool vrygelaat is en gedreig om ons aan te val.

My hele lewe het daarna platgeval. Buite in die pad staan iemand wat ek eens vertrou het en my gesin se lewe is in gevaar. Een dreigement na die ander. Ek staar na die man se gesig in wie se huis ons as graad 8 kinders lekker om ’n vuur gesit en kuier het. Die krimenele se gesigte sien ek steeds as ek my oë toe maak. Chaos breek uit! Die straat word afgebaken, polisie is daar. Mense beweeg vinnig maar ook stadig, dit raas maar terselfdertyd is alles stil, my oë is dof en vol trane, dis donker en blou ligte flikker. Ek het nooit kon dink dat, as gevolg van my vriendskap met ’n sekere persoon dit die oorsaak sou wees dat iemand my familie so behandel nie. Ek het gedink dis my skuld!

Wat daarna volg is onmenslik. Baie leuns word van my versprei, ek het al my vriende verloor. “Vriende” wat spesiaal vir my was het kant gekies en hoe stel ek dit reg? Ek het moeg geraak om te verduidelik. Ek het myself later bevraagteken: “Weet ek regtig wat liefde is?” het ek gewonder. Ek het gedink ek verstaan liefde en ook my vriende maar dan draai alles teen my. Tienier-wees is rof! Ek kan hulle seker nie blameer nie. Jy moet veg vir ’n plek waar jy inpas. Ek is na die voorval na ’n privaat skool waar ek “veiliger” was, weg van alles en almal. “Weg” is presies hoe ek gevoel het. Steeds wou ek nie alles wat met my gebeur het met enigiemand deel nie, ek was te bang mense sien my weer anders … seker soos ek myself gesien het. Op 16 het ek matriek geskryf, ambisieloos en rigtingloos. Agter my kamera en in die donker kamer is waar ek veilig gevoel het.

Tyd gaan verby en baie verkeerde besluite langs die pad.

Ek ontmoet my man. Steek my hand uit en groet “die vreemdeling”. Ons oë maak kontak en daar was ’n konneksie. Ek sê vir my vriendin: “Met hom gaan ek trou.” Wat vir my snaaks was, want ek het niemand vertrou nie. Te veel slegte ervarings gehad en hoekom sal hy nou van mý hou, het ek gedink. Twee weke gaan verby, min weet ek hy voel dieselfde oor my. Op ’n dag kuier ons mekaar raak en gesels lekker, ’n soen op my wang en net daar weet ek verseker: “hy is die een.” Daarna was ons onafskeidbaar. Ons het alles met mekaar gedeel, ons kon vir ure gesels. Tye was moeilik en ons het om onsself te help, vriendskappe langs die pad gelos.

Wanneer ek van die mense gesien het, het ek baie keer gevoel ek wil weghardloop of inmekaar sak. Almal het dinge waarmee hulle sukkel en soms voel ek selfsugtig om steeds kwaad te wees of om nie te dink waar hulle dalk ook seer het nie. Ek bly vir myself sê: “Eendag sal ek weer my stem vind”. Ek het een vir een die mense in my verlede vergewe en daardeur verlossing gekry.

Ons trou en is opgewonde oor wat op ons wag. Ses maande daarna is ek swanger met ’n seun, Dewahl. In die tyd het my pa ook siek geword, dit was ongelooflik erg om so ʼn sterk man so swak en magteloos te sien. Waar ek altyd probeer om dinge self “reg” te wil maak kon ek niks doen om hom beter te maak nie of my ma regtig te oortuig alles gaan okay wees nie. Dit was buite my beheer. My ma was so sterk, soms het ek haar hoor huil as niemand by was nie. Baie soos ek, het ek gedink. Sy het my pa gedra en hulle is ’n amazing team. My man was my rots en die Here my leiding. Saam het ons die geveg aangevat.

Dewahl was 9 maande oud en woeps-waps ek is weer swanger – dié keer met ʼn tweeling! Ek’s bang. Na die dokterondersoek klim ons in die kar, ek huil en staar na die vloer. Daar lê ’n dagboek en bo-op die vers Jeremiah 29:11: “For I know the plans I have for you” declares the Lord “plans to prosper you and not to harm you, give you hope and a future” . Wow! ʼn Rustigheid en mooi drome vul my.

Op 27 weke het ek in vroeë kraam gegaan. Baie dinge het deur my kop gegaan en baie vrese! Ek was opgeneem vir bedrus. 10 weke gaan verby, in en uit die hospitaal. Die dag van hulle geboorte breek aan. Ons almal is so opgewonde en alles gaan nou beter gaan, ons gaan weer as ’n gesin kan saam wees onder een dak.

Die dag neem ’n onverwagse draai. ’n Uur gaan verby en ek het net een baba by my die ander een is nog by die dokters. Hulle sê hulle gee hom so bietjie suurstof, hulle dink hy het “’n nat long” “Huh? dink ek. Marius kom in die kamer en se uitasem: “Ek het hom gesien en ek dink ons moet hom Christian noem, hy lyk soos ’n Christian.” Die opgewondenheid in hom het gestraal. Daniel lê in my arms – ons het dadelik geweet die oomblik toe ons hom vashou, met die eerste kyk in sy ogies, hy is ’n Daniel. Dokters kom ingestap. Christian het ’n diafragma-breuk, al sy ingewande is in sy borskas. Hy sukkel om suurstof te kry want sy longe is verdruk, sy hart is aan die verkeerde kant en hulle gaan moet opereer sodra hy meer stabiel is. Op daardie stadium het ek nie veel verder gehoor of verstaan wat hulle sê nie. Vasgevang in die droom-gevoel het ek maar deur dit gesweef. Dis al hoe ek dit kan verduidelik. Ek het gevoel of ek weer net niks wil sê nie en net stilte wil hê. Daniel het dit vir my gegee, dit was net ek en hy voor die voete van die Here nadat almal weg is en die stilte was weer daar. Waar dit gevoel het asof ek in die leeukuil gesit het, in die donker, die gevaar en vyand is om my, het sy naam net weer bevestig dat die Vader ons sal beskerm.

My ouers was baie in my gedagtes. Wat hulle moes deurgaan om ’n baba te baar en met ’n leë skoot huis toe te moes gaan.

Sy operasie het die volgende dag plaasgevind. Die dokters het ons voorberei vir wat alles kan verkeerd gaan en hoe lank die herstelpreriode mag wees vir so ’n kondisie. Dit was onmenslik moeilik. By die huis stap ek in hul kamer binne wat ons voorberei het. Twee van alles en net een baba. Alles in my wil breek, realiteit slaan my. Elke dag het dit gevoel asof ek met toe oë bestuur. Geen rigting, geen idee wat vir my wag nie.

Alles het so vinnig gebeur en soveel liefde, gebede, hoop, teleurstelling, vrees, genade, blessings! Wat ’n geveg!! Sy operasie was ‘n groot sukses, hy het vinnig herstel en sy ontwikkeling was alles normaal.

Wow! Niemand kon voorspel wat die klein wonderwerkie vir ons alles kan leer oor gebed, liefde en geloof nie. God is in beheer al bestuur jy blind. Die Here sal jou die pad wys, berge skuif en water maak oop sodat jy kan kom waar jy moet wees. Jou natuurlike instink is om te luister na wat mense sê en al die nagevolge en terugslae want jy wil jouself voorberei vir wat dalk nog kan voorlê.

Drie seuns is nie speletjies nie, ek kon nêrens meer wegkruip nie en stilte was ook nie ’n opsie nie. Uitgeput en heeltyd besig “vergeet” mens soms wat die Here alles vir ons doen. Lank was ek stil en depressief en het maar ’n gesig opgesit.

“Ek moet uit hierdie depressie kom,” dink ek. Dit het so ’n houvas op my. “Dit is nou my tyd!” druk die Here druk op my hart. Ek bid vir leiding en al woord wat ek kry is: “Ek het jou naam vir jou gegee vir ’n rede” Regtig?!! “Wat moet ek met dit doen?” vra ek. Ek besluit om alles voor sy voete neer te lê en oor te gee. Ek bid.

Só val alles net in plek. Een Sondag in die kerk was ek baie af, daar kom ’n vrou na my toe, sy sê die Here wys haar ’n waterval van vreugde en vrede wat oor my gaan kom. Dit gaan skielik gebeur en alles gaan helder wees. Weer sê die Here: “Ek het jou naam gegee vir ’n rede.” Ek maak dit my missie om meer uit te vind, dieper betekenis. Ek lees Job oor en oor. “Hoekom moes hy so suffer?” “Hoekom sou God dit toelaat?” Soos ek lees raak dit duideliker, menslik veronderstel en dink jy, jy moes iets verkeerd doen dat die Here jou straf – “justice” is dit nie?? Nee, ons het net ’n “limited perseption”. God het sy oë op elke “detail” van ons lewe en ons het net ons eie ervaringe en ondervinding van die lewe. God het die wêreld perfek geskape. Die mens ervaar soms goed en ander kere sleg. Daar is orde en soms is dit wild, ongelooflik mooi en ook gevaarlik. Die wêreld is nog nie geskape om perfek te wees nie, om “suffering” en terugslae te verhoed nie. Maar om God te vertrou deur “struggles” en met eerlikheid ’n verhouding te hê met ons Hemelse Vader.

Een oggend begin ek my dag met gebed en voel ewe skielik “die waterval” en sien prente in my kop soos ’n fliek afspeel. “Dis my hart!” Ek sien ’n visioen waar mense se lewens radikaal verander van binne en buite. Die Here sê: “Wees bereid om te luister en Ek sal jou die pad wys.” Ek maak ’n afspraak met ’n spreker wat by ons kerk gepraat het wat in die media-/filmbedryf betrokke is. Dit is buite my karakter, wat gaan ek vir hom sê? “Just be obedient” hoor ek die Here sê en dit was awesome.

Ek weet ek wil mense se lewens radikaal verander en ook hulle omgewing. Ek wil mense bemoedig en leer van die goedheid van Jesus. Media staan uit soos ’n paal bo water. “Ek het geen ondervinding, wie gaan my ernstig op neem? Eks net ’n ma,” dink ek. Ek voel die Here wys my deur alles wat ek beleef het, kan ek so baie mense aanraak.

Na my afspraak met die spreker kry ek ’n gevoel ek moet met ’n ander vrou gaan gesels. Ons kinders was jare terug saam op kleuterskool, ons ken mekaar nie regtig nie, ek weet net sy is ook ’n vrou van God. Sy gaan dink ek is mal, die gesprek is bietjie awkard maar lekker. Haar man roep haar uit en ’n vreemde vrou kom in. Ons gesels ook so ʼn klein rukkie en sy sê toe skielik: “Die Here wys my jou naam het begin in Job maar loop deur Ester, daar hang twee dik goue kettings om jou nek en soos jy beweeg swaai dit. Dit vorm later ’n halssnoer wat amper koninglik is en goud loop deur my, amper soos ’n koppie wat gebreek is en met goud herstel is.” Dankie Here, dankie! As ek nie geluister het nie het ek nooit die antwoord gekry nie en nog ’n bevesiging van my roeping nie. Ek was na haar huis gelei sodat ek die woord by ’n ander persoon kon ontvang.

Ester het ek ook geen ondervinding gehad nie maar sy het haar hele nasie gered. Konining geword en soveel beteken.

Iemand het een keer gesê, en ek glo jou roeping is waarvoor jy gemaak is, jou beroep is waarvoor jy gaan leer. Jou beroep eindig wanneer jy aftree en jou roeping eindig as jy doodgaan. Die vraag is, wat maak die grootste inpak op jou en ander se lewe?

Ek huil en sê dankie, ek is nie meer onseker nie. Ek het oorwinning! Ek is nie net ’n ma nie, ek kan meer wees sonder ’n beroep maar ’n roeping. God werk agter die skerms. Hoe ironies, die boek voor Job, is Ester! Die Here wys vir my sy plan met my het Hy lankal gehad voor ek aanmekaar gesit is in my ma se skoot. Nou volg ek wat Hy my wys en sê, lewe my lewe volgens sy woord en is gehoorsaam. Geen twyfel.

Ek wil nou verder studeer in Bybelse traumaberading. Ek is ook betrokke met die jeug by die kerk en wil volgende jaar fokus om my boek te skryf. 2 Korintiërs 1:14 sê in elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook weer ander bemoedig wat in allerlei moeilikheid verkeer. Ons kan hulle bemoedig, met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig. Dis wat ek met my verhaal wil doen.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail