My stiefkinders is tieners, en ek vind dit ’n geweldige groot uitdaging om hulle groot te maak. En ek wil só graag ’n goeie verhouding met hulle hê. Wat kan ek doen?

 

DEUR RENÉ BADENHORST

 

Om ’n tiener groot te maak, is waar­skynlik nooit maklik nie. Wanneer hy of sy boonop nie jou biologiese kind is nie, dra dit die moontlikheid om selfs moeiliker en meer kompleks te wees.

Ron Deal, ’n skrywer en die stigter van SmartStepfamilies, help paartjies om die algemene uitdagings van stiefouerskap te hanteer. Hy wys op die verwarring wat dit vir sulke kinders meebring wanneer hulle hul emosionele identiteit probeer vestig.

Dit is dus noodsaaklik, sê hy vir die ouers, dat hulle dié verhouding in daardie tyd omsigtig moet benader, en met baie geduld. Hy gee die volgende riglyne:

Moenie alles persoonlik opneem nie. Dit is normaal vir tieners om “moeilik” en selfs iesegrimmig te wees. Hulle hormone is in ’n warboel; hulle verkeer in ’n moeilike oorgangstadium. Hul negatiwiteit teenoor jou beteken nie dat daar fout met jou (of met hom of haar) is nie. Moenie jou kind se gedagtes wil “lees” om só agter te kom of hy of sy van jou hou nie. Gee julle verhouding kans om te groei. Onthou ook dat slegs dertig persent stiefkinders uiteindelik hulle stiefouers as “Ma” of “Pa” aanspreek, ongeag hoe lank hulle reeds onder een dak is. Bevry jou en jou stiefkind van hierdie verwagting – en dalk sal daar minder seergemaakte gevoelens wees.

Ron sê: “Gee jouself toestemming om nié volledig deur die stiefkinders aanvaar te word nie. Hierdie nie-aanvaarding het dikwels meer te doen met die kinders se behoefte om in kontak met hul biologiese ouers te bly, as wat dit met aanvaarding of verwerping te doen het.”

Gee ruimte. Jou eerste voorneme is dalk om soveel moontlik alleentyd saam met jou stiefkind deur te bring. Ron sê: “Pasop hiervoor. Die meeste kinders is nie noodwendig dadelik hiervoor gereed nie. Gun jou stiefkind die ruimte om gemaklik te raak by jou. “Skep vir hom of haar geleenthede om ook vir bepaalde tye weg van jou te wees. Doen vir eers net dinge saam wanneer die ander gesinslede by is.”

Verstaan die emosies. Wat ook al die rede is dat jou stiefkinders se biologiese ouers nie meer bymekaar is nie – dit eis ’n emosionele tol by hulle. Depressie, hartseer en woede is moontlike maniere waarop hulle deur die verlies werk. Skep vir hulle die ruimte om uitdrukking te gee aan wat hulle dink en voel. Wees ekstra geduldig – sonder om die gevolge van disrespek en onbeskofte gedrag weg te neem. Maak seker dat daar iemand is (byvoorbeeld ’n berader) wat hulle kan help om die dinge te hanteer wat nie verander kan word nie.

Wees betrokke … sonder om te veel te (wil) beheer. Jou kind is op die paadjie na volwassenheid. Hoe meer jy gaan probeer om hom of haar te beheer, hoe meer gaan hy of sy weerstand bied. Onthou: Dit is juis ouers se werk om hulle kinders te leer om meer en meer onafhanklik te raak. Wees egter beskikbaar as hulle wil gesels. Stel belang in wat hulle by die skool doen. En in hulle buitemuurse bedrywighede en kerklike aktiwiteite. Word deel daarvan; kyk waarmee jy kan help. Raak betrokke, ja, maar sonder om opdringerig te wees.

Deel jou talente, vaardighede en belangstellings met hulle. Julle mag dalk vind dat gedeelde belangstellings ’n aanknopingspunt word wat julle vertrouensverhouding sal laat ontwikkel. Ruim spesifiek tyd in jul week in om as gesin iets lekkers saam te doen. Aanvank­lik mag die kind dalk nie julle saamwees geniet nie; die nuwe verhoudings kan baie verwarrend wees. Gun hom of haar dus die tyd om deur die verskillende emosies te werk. Maak dit egter duidelik dat die gesinstyd saam – en sy of haar deelname daaraan – baie belangrik is. As dit nodig is, kan jou kind ’n vriend of vriendin saambring.

Bronne: www.empoweringparents.com; www.familylife.com; www.psychologytoday.com

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail