LIZINDA ROE

Mediese kondisies “spook” al jare by my. Sedert ek vier is sukkel ek met mangels, gesigoperasies, idiopatiese trombositopenie (lae vlakke van bloedplaatjies), my milt is verwyder en toe tref die werklike riller my: Net soos Annelie van Rooyen vind ek uit ek het trigeminale neuralgie (TN), beter bekend as die “suicide disease”.

Ek is 43 jaar oud en veg ek al 11 jaar hierdie stryd.  Dit bestaan uit chroniese pyn – dit voel asof iemand konstant ʼn slagtersmes in my gesig steek.

Mense wat TN het, pleeg maklik selfmoord omdat hulle bloot nie die pyn kan hanteer nie. Somtyds trek ek my hare so hard as wat ek kan om te kyk of dit nie dalk verligting van die pyn in my gesig kan bring nie.

Lizinda Roe van die Paarl vertel somtyds is die pyn in haar gesig so erg dat sy haar hare so hard as wat sy kan trek net om te kyk of dit nie verligting bring nie. Foto verskaf

Ek is nog nie genees nie maar God hét in die laaste 3 jaar se geestelike verdiepingsreis aan my gesê: “Ek gaan jou gesond maak”. En ja, ek glo dit!

Terwyl ons vir maande gesukkel het om uit te vind wat die verskriklike pyn veroorsaak en die diagnose van TN gemaak is, het ek smekend gevra Jesus moet my asseblief kom haal.  En so verskyn Hy toe in ’n visioen aan my en sê: “Nog nie nóú nie”; “Sal jy almal van My vertel?” En my antwoord was: “Natuurlik ja! Here, U weet hoe lief ek U het, my antwoord is ja!”

Maar ek val toe plat vir 11 jaar en geen geleentheid lyk/voel ooit reg om te getuig nie. Tot ek my in vanjaar laat doop en begin vas het. Die blessings en antwoorde het dadelik begin oopbreek.

Tydens my groot doop het ek alles vir Jesus neergelê en het Hy my vir ’n 4 weke tydperk gesalf met die “anointing of the holy spirit”. My arme geliefdes het dit swaar gehad onder al die “Bible-bashing”. Maar nou begin hulle ook sien en vertrou.  (Bible-bashing is in elk geval ’n term wat die vyand verkoop soos Kool-Aid, en meeste drink daarvan …)

Ek is nie ’n siener of voorspeller nie. Ek kyk en glo nie eers die weervoorspelling nie! Ek weet net wat God vir my sê en dit kom soos klein legkaartstukkies wat Hy vir my gee. Soms kan ek vir ’n tydjie niks met ’n nuwe stukkie doen nie. Maar dan openbaar Hy aan my wat Hy bedoel. Hy praat nie in paragrawe nie. Hy praat kort en kragtig. Vir drie jaar al vra Hy: “Wees my Moses” en delf ek die verskonings een na die ander op: “Wie ék? Nee asseblief nie Here, ek het nou net bietjie gesondheid terugkry! Kan ek nie maar net stilbly en die tyd saam met my geliefdes leef en geniet nie …” of “Here ek het steeds pyn – ek is nog nie gesond nie …”

Eenmaal het ek gebid en gevra Hy moet my asseblief ’n klein stukkie van sy hart wys en ek het ’n paar dae later aanmekaar gehuil!  Ek kon dit nie verstaan nie … Die pyn was nie te rof nie, maar ek het gehuil asof iemand dood is. Nog ’n paar dae later sê die Heilige Gees:  “Onthou jy wat jy gevra het in gebed?” Ek dog toe nee, dit kan nie wees nie. Dalk is dit eerder my hormone?” Ek besoek toe die ginekoloog net om te hoor alles is perfek. Toe weet ek: Ek het reg verstaan en gehoor! God se hart bréék oor sy kinders.

Ek wil graag getuig: Net die Woord en stilte by Jesus se voete kan jou laat groei in ’n liefdesverhouding met God die Vader, Jesus die Seun en die Heilige Gees ons tolk. God wil ’n persoonlik verhouding met sy kinders hê.

Alles gaan op die einde oor die individu se persoonlike intieme verhouding met Jesus en hoe diep hy/sy bereid is om te glo! Hy wil hê sy kinders moet weer hulle Bybels optel.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail