Terwyl ek hier voor my rekenaar sit, hoef ek my kop net so effentjies te lig. Dan drink my oë die prentjie van my klein agtertuintjie in: Die plante is ’n vrolike groen, die blare is vol en blink, die grond diepbruin gekleur ná die reënbui wat gister uitgesak het.

My klein grasperk is dieselfde sagte groen wat ek my verbeel Dawid se Psalm 23-weivelde moes gewees het.

Maar hier om die draai, in my badkamer, staan daar ’n emmer in die stort. Gereed om stortwater op te vang wat later in die toilet gebruik gaan word. Die hele winter al.

Want dit reën te min. Die Kaap se damme is leeg. Oral in die Kaap geld daar streng maatreëls om seker te maak dat die water nie opraak nie.

En tog … as ek na my tuin kyk, of na die park hier onder in die straat, of na die plase wat digby die dorp lê, dan lyk dit asof daar genoeg reën geval het. Dit is dan so gróén!

 

Een van my gunstelingverse staan aan die einde van ’n psalm waarin die Koragiete die stad Sion beskryf, die plek waar God woon. In die 1953-vertaling lui Psalm 87:7 só: “En die wat sing sowel as die wat vrolik is, sê: Al my fonteine is in jou!”

Hulle sing oor Sion. Hulle is vrolik oor die plek waar God is. Want daar waar God is, word dit nie droog nie. By Hom is water wat altyd opborrel tot ’n vrolike stroom wat lewe bring.

 

Ek dink aan hoe die somers in my hart gekom het, en hoe die winters stuk-stuk vertrek het. Ek kyk terug op die afgelope klompie maande en glimlag oor die reën wat in my hart uitgesak het. Die lewe wat daaruit spruit.

Maar iewers … het ek opgehou bokspring oor die lewe. Die jubel, die huppel, die uitgelate ooparm-aangryp van die lewe in al sy volheid, is helaas nie meer in my nie.

Iewers het die oorvloed al hoe minder begin word. Die alledaagsheid meer. Die reëlmaat eentonig. Sonder die drome wat oor môre se horison vlieg. Sonder die kreatiwiteit wat daarna soek om nuwe dinge te skep. Sonder die spontane soeke na geleenthede om lief vir my naaste te wees.

 

Die suurlemoenboom in my tuin se blare giggel toe die wind dit begin kielie. En skielik wonder ek: Hoekom sal ek met die wêreld se reënbuie tevrede wees as ek my damme by die Fontein van die lewe kan vol maak?

Dit is daarom dat ek nou hier oor my groen tuin kyk en my besluit neem: Ek sal opnuut bewus word van die Heilige Gees wat in my woon, en van God se vrolike, kabbelende stroom binne-in my. Ek sal weer na God toe gaan om my drome saam met Hom te droom. Ek sal nie meer tevrede wees met ’n half leë hart nie. Ek sal by Hom bly. Sodat my doelwitte vlerke kry. En hande en voete.

Kom jy saam? Kom jy saam na Sion toe? Na Hom by wie die lewenswater eindeloos stroom?

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail