Ek hoor ’n tyd gelede die storie van ’n komediant wat op ’n dag, net voordat een van sy vertonings moes begin, sy aanhangers buite die deur ontmoet het. Terwyl hy die mense welkom heet, trek ’n toneel aan die oorkant van die straat sy aandag: Daar staan ook ’n ry mense. Hulle wag om by ’n nagskuiling in te gaan.

Net daar het hy besluit om voortaan van sy vertonings ook by nagskuilings te gaan hou. Vir so lank as wat hy kon onthou, het hy sy kuns beoefen met die doel om iets daaruit te kry. Nou, tussen die haweloses, het hy ’n heel ander uitkyk op sy loopbaan en talente gekry. Sy bedoeling was om voortaan eerder te gee. En dit het sy lewe, sy menswees, in ’n heel nuwe rigting gestuur.

As jong meisie was ek nogal aan die skamerige kant. Ek was om die waarheid te sê behoorlik beskimmeld, pynlik selfbewus. Voor ’n braai of ’n kuier tussen vreemde mense sou ek ’n motiveringspraatjie met myself hou om my op dié uitdaging voor te berei. Om my tog tussen die vreemdes te probeer handhaaf …

Totdat ek op ’n dag besef het dat ons almal maar ’n stukkie selfbewustheid met ons saamdra. Dat ons almal soms minderwaardig en skaam voel.

Ek het ook in die diepgaande besef gegroei dat ek nooit alleen is nie, dat God altyd in my is, dat Hy besig is om in my omgewing te werk. My selfmotiveringspraatjie het toe ’n gebed geword, een waarin ek God vra wat op sý hart is vir die mense met wie ek by die braai of die kuier in aanraking sou kom.

Skielik was al die druk om oulik, intelligent of mooi voor te kom van my skouers af. My nuwe ingesteldheid was een van: “Wat kan ek vir die mens bring met wie ek vandag gaan gesels? Watter geskenk uit God se hart kan ek vir ander aangee?”

Nee, dit het nie beteken dat my skaamheid oornag verdwyn het nie, maar dit het my ’n soort Godvertroue gegee wat my selfvertroue en selfbeeld in ’n gesonde, positiewe rigting laat groei het.

Ek het raakgesien dat God in elke seisoen ’n hand vol saadjies in ons hart kom sprinkel. Hy laat dit groei en vrug dra. Maar Hy laat dit ook saad voortbring, sodat ons daardie einste saad in ander se lewe kan plant.

Ek het ook besef dat die saadjies wat ek ontvang het nie noodwendig soos joune lyk nie. Dít wat God aan jou gegee het, dra ’n ander soort vrug as dit wat Hy in my lewe laat blom. Alles tot eer van sy Naam.

Wanneer ons kies om te saai wat God in ons lewe deponeer, word ons hele lewensuitkyk verander. Dit motiveer ons om veel eerder te gee. En dit stuur ons lewe, ons menswees, in ’n heel nuwe koers. Tot eer van sy Naam.

Lees nog van Francine se briewe hier.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail