Deur Danie Joubert

My bediening is om vir siekes en bejaardes te bid. Ek besoek baie hospitale en gaan bid vir mense (om gesond te word). Ek bid nie omdat dit van my verwag word nie. Ek glo in Goddelike genesing en sien en ervaar dit gereeld.

Ek self het eers in November 1996 tot ware bekering gekom. Dit was in’ n Engelse kerk in Alberton. My hele lewe het eensklaps verander. Waar ek nooit “lus” was om kerk toe te gaan nie, kon nie hospitale verdra nie, ongeduldig en onbeskof was het álles, maar álles verander.

Ek het later ’n brandende begeerte gekry om dit voltyds te doen en begin bid vir dit. Ek het ook daai tyd in Johannesburg gewerk en na-ure en oor naweek vir mense gaan bid. Daar was destyds omtrent 34 kerke in Alberton.

Eendag bel ’n suster vanaf die Uniehospitaal my. Sy bel om te sê daar is ’n tannie in een van die sale wat ’n hart omleidingoperasie gehad het. Kan ek asb vir haar kom bid? was haar versoek. Min het ek besef dis hoe die Here my pad begin bepaal het. Hoekom my bel en nie een van die groot kerke in Alberton nie. Die aand kuier ek lekker by die tannie, bid saam met haar en gee haar daai gerustheid in haar hart wat net Jesus kan gee. ’n Paar dae later bel dieselfde suster my en sê die tannie is besig om te sterf en vra ek moet asb by haar kom sit. Ek kon nie by my werk afkry nie. Die antwoord was: “Jammer, ons het jou nie aangestel om vir mense te gaan bid nie, maar om ’n spesifieke werk te doen”. Ek kon toe nie daardie dag by die tannie gaan sit en haar hand vashou in haar sterwens- oomblikke nie. My hart het gebreek en ek is ook nooit weer deur die suster gebel nie. Ek het daardie dag in my etensuur in die strate van Johannesburg geloop en gebid en gehuil. Mense het seker gedink ek is dronk of iets. Ek het die Here gevra: “Asb, ek wil nie Ray McCauley wees nie, of ’n Jimmy Swaggart of Billy Graham wees nie. Ek wil net daar wees vir die tannie Letties van die wêreld in hospitale wees. Maak my asb los van die aardse manier van gebondenheid oor finansies.”

Die Here het later my pad oopgemaak dat ek voltyds in die bediening kon wees. Hy het mense op my pad gebring wat my nou nog in my bediening ondersteun.

Danie doop ook gereeld kinders. Foto verskaf

Tydens my hospitaalbesoeke het ek opgelet dat baie mense (familielede en vriende van pasiënte in hospitale) in hulle motors slaap. Veral mense wat van ver af kom. Hulle kan dus nie elke dag huis toe en terug ry nie en/of ook dalk nie die fondse beskikbaar om in hotelle of gastehuise te bly nie. Veral besoekers by die staatshospitale soos Steve Biko, Kalfong ens slaap in hulle motors.

Ek het toe begin bid en ons Hemelse Vader gevra om vir my ’n plek te gee waar ek die mense (familie en vriende) tydelike verblyf kan gee, terwyl die pasiënt geopereer word, herstel na siektes ens. Met die genade van bo, Vandag bly ek in ’n groot sesslaapkamerhuis in Kameeldrift-Wes – so 18 km vanaf Harties en 25 km vanaf Steve Biko-hospitaal. Ek wil nie geld met die uithuur van die kamers maak nie, en vra slegs sowat R100 per nag om die krag ens te dek. Ek moedig besoekers aan om meer te betaal as hulle kan, maar as hulle nie kan nie hoef hulle niks te betaal nie. Dis ’n basiese B&B. Nie bed en breakfast nie, net bed en bad. Jy bring jou eie kos of koop benodighede en maak dit hier gaar.

Tans bly Paul van der Berg van Hazyview in een van my kamers. Sy seun, ’n diabeet, is vier keer deur ’n slang gepik nadat hy van ’n perd afgeval het, sy skouer gebreek het en basies op ’n slangnes geval het. Paul het nie medies nie en sy seun se mediese onkostes beloop beloop honderde duisende rande. Hy was in Kloof-hospitaal, Eugene Marais en is nou in ʼn kliniek vir diabete in Lynnwood. Paul snr het van een gastetehuis na ’n ander beweeg tot sy fondse opgeraak het. Dank die Here ’n vriendin van my het hom by ’n hospitaal raakgeloop en hom my nommer gegee.

Hier was ook al mense van Brits, Secunda, Witbank, Middelburg, Ermelo, Nigel, Springs Kemptonpark en so ver as Machdodorp, Nylstroom ens.

Ek gee ook geestelike berading en gee aan sulke mense verblyf terwyl ons rustig werk.

Stuur asseblief my nommer aan mense wat dit nodig het: vir gebed, berading, die kamers om oor te slaap, asook vir dienaars van die Woord wat dalk in Pretoria is vir ’n konferensie of ander verpligting.

  • Kontak Danie by 073 235 0889 of e-pos joshuabediening@yahoo.com vir bydraes vir besoekers wat nie finansieel kan bydra nie of indien jy iemand na hom wil verwys. Besoek sy Facebookblad deur na “Danie se Jesus Kamers” of sy persoonlike profiel by “Pastor Danie Joubert” te soek.
Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail