Dit is beslis gesonder as die moontlikhede wat die kafeteria by die werk, die snoepie by die skool of enige wegneem-ete bied. En sonder twyfel goedkoper. Hoera vir die terugkeer van die regte, egte kosblik!

Deur Heleen Meyer

 

Interessant en gebalanseerd

’n Kleurvolle kosblik wat ’n verskeidenheid smake en teksture bevat, gaan beslis meer aftrek kry as ’n vaal, voorspelbare ene. Sorg dat iets uit elk van die belangrikste voedselgroepe daarin is, dan is dit klaar meer gebalanseerd as bloot ’n toebroodjie.

JA vir …

  • Kies ’n gesonde proteïen, vars vrugte en groente en onverfynde stysel. En gesonde olies, byvoorbeeld dié uit avokado, neute en sade.
  • Onthou altyd ’n waterbottel, selfs in die winter, want almal moet genoeg vog inneem. Verdun sap met water, of maak rooibos-ystee.
  • Gesonde peuselhappies is belangrik, want ’n kosblik behoort jou versadig te hou tot die volgende maaltyd. Klein porsies neute, sade, gedroogde vrugte is die beste moontlikhede. Of selfs ’n klein stukkie tuisgemaakte bederf, soos dadel-en-neut­bolletjies of springmielies.

NEE vir …

  • Vermy geprosesseerde vleis en ander soortgelyke produkte; dit bevat dikwels baie sout, preserveermiddels en ongesonde vette.
  • Beperk soetigheid en veral verfynde, verwerkte soetgoed tot die minimum.
  • Moenie voor die gerief van versoete koeldrank swig nie.

Wees prakties

Elke gesinslid se kosblik kan dieselfde inhoud bevat, maar hou dit prakties. Byvoorbeeld: ’n Jong kind gaan opgesnyde vars vrugte en groente makliker as ’n heel appel baasraak. Maak dus ’n slaai vir ’n grootmens; pak die bestanddele daarvan apart in vir ’n kind wat dit so verkies. Jy kan ook die vrugte en groente op stokkies inryg om dit interessanter te maak.

 

Vars verpak – op die groen manier

  • Kos wat prakties verpak is, lyk lekkerder en hou langer. En dit word nie later weggegooi omdat dit een groot deurmekaarspul word nie.
  • Gebruik ’n kosblik met ’n stewige deksel en kleiner houertjies wat binne-in pas. Of verseëlbare sakkies wat hergebruik kan word vir iets soos neute. Bakkies met verdelings werk ook uitstekend.
  • Hou tog op om plastieksakkies sommer net weg te gooi! Sakkies waarin daar net vrugte was, kan maklik uitgespoel en weer gebruik word. En as jy ’n vurk of servet nodig het, kies ’n herwinbare een.

WENK 1

’n Koelsak(kie) hou die kos langer vars. ’n Koue waterbottel is ideaal om die sak(kie) se inhoud goed koel te hou. In die somer kan jy ’n plastiekbottel en sy inhoud selfs (gedeeltelik) vries. Verpak die kosblik se inhoud só dat dit nie kneus nie. Probeer ook om dit só te verpak dat die onderskeie kossoorte nie mekaar se geure beïnvloed nie.

WENK 2

Kosblik-etes hoef nie moeite te wees nie. Maak ekstra kos vir aandete, en gebruik dit dan vir die volgende dag of twee se kosblik. Klein frikkadelle of viskoekies is maklik om met die hand te eet, en oorskiet-vleis is heerlik op ’n toebroodjie of selfs in ’n slaai.

Klein aartappeltjies en gaar mielies is ’n lekker stysel en maklik om in te pak en te eet.

Sorg dat jou aankope ook jou gesin se kosblikke in ag neem.

WENK 3

Kosblik-etes hoef nie moeite te wees nie. Maak ekstra kos vir aandete, en gebruik dit dan vir die volgende dag of twee se kosblik. Klein frikkadelle of viskoekies is maklik om met die hand te eet, en oorskiet-vleis is heerlik op ’n toebroodjie of selfs in ’n slaai.

Klein aartappeltjies en gaar mielies is ’n lekker stysel en maklik om in te pak en te eet.

Sorg dat jou aankope ook jou gesin se kosblikke in ag neem.

 

Vir ’n omgeegroep …

Derduisende Suid-Afrikaanse kinders gaan elke dag honger skool toe. Hulle het nog nooit ’n kosblik vir die skooldag gehad nie. Raak betrokke by ’n projek wat kosblikke vir skoolkinders voorsien of wat ’n voedingskema bedryf. Bloot ’n broodjie met grondboontjiebotter sal ook deug. Dit is maklik genoeg om te maak, en is beter as geen ete.

  • Vir weeklikse idees oor gesonde kos­blikke, kyk Die Groot Ontbyt (kykNET-kanaal 144) op ’n Maandagoggend. Of volg Heleen se Facebookblad, HeleenMeyerFood, vir maklike kosblik-idees en resepte elke week.
Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail