Dit was ’n Sondag soos nooit tevore nie: ’n Klompie Jesusvolgelinge ontvang onverwags ’n kuiergas, en hulle herken Hom nie. Hy moet eers hul oë oopmaak – en toe verander die prentjie vir altyd.

DEUR STEPHAN JOUBERT

Sommige jong mense praat van ’n “pity party”. Dis wanneer jy jouself só jammer kry dat niemand enigiets met jou uitgerig kan kry nie. Want niémand se lot was nog ooit so swaar soos joune nie ….

Boonop kry geen mens jou ooit jammer genoeg as jy eers hier in Jammerkrylaagte aangeland het nie. Vra maar vir Jesus se dissipels oor daardie eerste Sondagaand ná sy kruisiging.

Hul eerste aanddiens skop droewig af, soos ons in Johannes 20:19-24 lees. Die deure is gesluit. “Slegs wegkruipers welkom,” is hul slagspreuk. Met ander woorde: Bly weg! Hoop het hier soek geraak.

Toe daag Jesus ongenooid daar op.

Trouens, Hy gaan kuier sommer ’n paar keer daardie Sondag by ’n klompie van sy mense, al verwag niemand Hom daar nie.

’n Apostel vir die apostels

In Johannes 20:1-18 lees ons oor Jesus se eerste Sondag-kuier pas nadat Hy die dood uit die pad geloop het. Dit vind vroegoggend plaas, ’n rukkie nadat Maria Magdalena by sy graf opgedaag het. Sy sien dis leeg, en gaan breek dadelik die ontstellende nuus by Petrus-hulle.

Hulle hardloop daarheen en tref ook die leë graf aan. Nadat hulle rondgekyk en niks gesien het nie, keer hulle terug na hul wegkruipplek. Maria Magdalena bly alleen agter.

Sy kyk nog ’n keer by die graf in, en sien twee engele. Toe hoor sy iemand agter haar – Jesus! Maar in haar hartseer herken sy Hom nie. Sy verwar Hom met die plaaslike tuinier.

“Waar is Jesus se liggaam?” wil sy onmiddellik weet.

Jesus sê net een woord, Hy spreek haar op die naam aan: “Maria!”

Dit ruk haar tot stilstand. Dis presies die regte hemelse oogsalf, hierdie een woord.

Maria Magdalena se oë gaan oop. Sy besef haar Heer is regtig anderkant die dood. Hy het die dood doodgeloop.

Oorstelp van vreugde kry sy by Jesus die opdrag om ook dié nuus aan die dissipels te gaan oordra. Hulle moet weet Hy het opgestaan. En Hy gaan na sy Vader toe.

“Ek het die Here gesien!”

Só klink Maria Magdalena se kortpad-evangelie aan die wegkruiper-dissipels. Net daar word sy die eerste getuie van die opgestane Jesus, die eerste gestuurde, die eerste prediker.

Nee, dis toe nie ’n man wat hierdie eer te beurt geval het nie, dis ’n vrou. Nie Petrus of Johannes nie, maar Maria Magdalena, daardie einste vrou wat vroeër in die Bose se hande was. Sý word die eerste getuie van die grootste gebeurtenis ooit.

Jesus se Sondag-besoek neem haar blindheid vir altyd weg. Dit gee haar ’n splinternuwe taal en ’n splinternuwe lewe.

Die kruis is kaal. Die graf is leeg. Jesus leef.

Hoopverlore … saam met Jesus

Skaars het Maria Magdalena haar daardie Sondagoggend in Jesus vasgeloop, of Hy sluit by twee hoopverlore reisigers aan wat op pad is na ’n dorpie genaamd Emmaus.

In Lukas 24:13-35 lees ons oor Kleopas en, bes moontlik, sy vrou (aldus Johannes 19:25), wat ontnugter uit Jerusalem padgee. Hulle kan eenvoudig nie glo dat Jesus uit die graf opgestaan het nie. Al wat nou vir hulle oorbly, is om na hul ou, saai lewe in Emmaus terug te keer.

Hulle het nie ’n idee wie hierdie Sondagse Saamstapper is wat by hulle aansluit nie. Hulle is wel verstom omdat Hy blykbaar nie weet van die moord wat daardie naweek in Jerusalem plaasgevind het nie. Jesus is immers die Vrydag daar gekruisig.

Toe stort hulle hul teleurstelling oor dit alles op Hom uit, kilometer ná kilometer op die langpad.

Uiteindelik, nadat Jesus hulle behoorlik laat afpak het, kom Hy aan die woord. Die Skrif is sy gids. Nee, Hy verlig nie hul oë met hemelse weerligstrale of so iets nie; die Woord is sy rigtingwyser op die pad na Emmaus. Vanuit hierdie Woord vertel Jesus hulle oor die Messias wat moes ly en uit die dood opstaan.

Laatmiddag, toe hulle in Emmaus aankom, nooi Kleopas Jesus om saam met hulle te eet. Brood is hul hoofgereg. Toe verander die Gas dit in die grootste feesmaal ooit.

Sy saamstap word die beste Sondag-kuier wat Kleopas-hulle nog ooit beleef het. Jesus se rol as Eregas verander na dié van Gasheer: Hy self breek die brood en deel dit aan hulle uit.

Hul oë gaan oop. Hulle sien die spykermerke in sy hande. Meteens weet hulle dis hul Here wat al die pad saam met hulle geloop het, dis Hy wat hier in hul eie huis saam met hulle brood breek.

Toe verdwyn Jesus. Sy sending daar is voltooi.

Oop oë, warm harte, en ’n splinternuwe getuienis. Dit alles oorspoel Kleopas-hulle se lewe.

Haastig vat hulle weer die pad, terug Jerusalem toe, met ’n brandende hart. Die lang pad daardie oggend uit Jerusalem uit is meteens ’n kortpad terug. Dieselfde weglooppad van die Sondagoggend word die hoofpad na God se mense toe.

Jesus se saamstap en sy kuier by hulle verander hul eie doodloopstraat na ’n nuwe lewenspad. Daarom is daar ’n vars taal op hul lippe, net soos by al die ander mense by wie Jesus daardie Sondag gaan kuier het.

“Ons het die Here gesien,” sê hulle.

En: “Die Here het opgestaan.

“Hy leef.”

’n Hemelse asem, en ’n opdrag

Intussen, met Kleopas-hulle volspoed op pad terug na Jerusalem, gaan kuier Jesus in Jerusalem by sy dissipels. Ongenooid stap Hy by hul geslote vergadering in.

“Vrede vir julle!” sê Hy. Waarskynlik met ’n oop regterhand in die lug soos wat dit destyds gebruiklik was vir reisigers en besoekers wat groet. Die kruiswonde is duidelik te sien. Twee keer gebeur dit, hierdie vredegroet.

Die dissipels is absoluut oorweldig.

Toe sê Jesus: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

Hierdie Sondagaand-kuier is toe nie bloot ’n vinnige reünie nie. Hulle kan nie weer na hul ou lewe toe teruggaan nie. Daar wag nou nuwe lewe en nuwe avonture op hulle, voltyds.

Geslote deure en eenkant-byeenkomste is nie die oplossing nie; Jesus se roete is. ’n “Sit-sit-so hemel toe” is geen opsie nie. Gaan vertel! Gaan getuig! Gaan praat! Gaan loop met die lewende evangelie in die lewe se doodloopstrate!

Toe blaas Jesus boonop op sy dissipels en sê vir hulle: “Ontvang die Heilige Gees.”
Sy asem is hul suurstof, want die Gees daag oral saam met Hom op.

Sy asem is ook óns suurstof sedert daardie spesiale Sondag. Anderkant die dood, en ’n reis vooruit, is Jesus steeds by al sy mense. Saam met Matteus onthou ons dag ná dag sy laaste aardse woorde: “Ek is by julle, al die dae, tot aan die einde” (vgl Matt 28:20).

Nooit loop ons alleen nie, nooit nie. Jesus is anderkant die kruis en anderkant die graf – maar Hy is steeds ook hier aan die duskant, hier by ons.

Hy het opgestaan, Hy is aan God se regterhand – maar Hy loop steeds saam.

Hy kuier graag by wegkruipers, deursluiters, hooploses en die res. Laat asseblief toe dat Hy jou oë oopmaak dat jy kan sien. Dan kom jou selfbejammering tot ’n einde.

Dan doen jy die lewensloop saam met Jesus, en saam met almal wat jou pad kruis.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail