Ware dankbaarheid is ’n leefstyl. Maar dit moet aangeleer word, en dít kom nie vir almal ewe maklik nie. Hier is ’n klompie inspirerende verhale wat dalk sal help om jou te oortuig.

 

Deur Maretha Maartens

 

“Ons leef nóú in ‘joy’. Ons hoef nie vir groot gebeurtenisse op die horison te wag nie.”

“Ons werk hard aan ons ideale, maar in ons manier van leef is die Here só ’n werklikheid dat klein dingetjies ook groot dinge word.”

“Ons dank die Here nou méér vir klein dingetjies as vir groot dinge!”

Ek luister hoe dié drie studente praat. Hoe hulle straal oor die uitwerking van ’n Bybelgebaseerde dankbaarheid-leefstyl in elke situasie, krisis en verhouding. En veral oor hoe hul verhouding met die Here in dié leefstyl bly verdiep.

Maar dit kom nie vir almal ewe maklik nie. Ek weet dat daar mense is wat aanvanklik erg skepties was oor die volhoubaarheid van die ontvang-en-dank leefstyl …

Tóé … en nou

“Waarvoor?”

Só het heelparty Christene wat nou die ontvang-en-dank-leefstyl beoefen en hul jong kinders daarin voorgaan, hulleself vroeër afgevra. Die lewe was immers vir hulle ’n opeenvolging van verpligtinge en krisisse. Hulle het dikwels gevoel dat hulle “uit voeling” met God is.

Die ontvang-en-dank-leefstyl word dikwels voorafgegaan deur knaende innerlike ongemak. Sommige hiervan voel dalk só:

  • Hoekom hunker ek steeds na iets meer, terwyl ek op prysenswaardige ideale of iets spesiaals op die horison gefokus bly?
  • Hoekom word my bewussyn van God dowwer, asof sy heerlikheid besig is om van my te wyk?

Maar dan is daar inspirerende verhale van mense wat hul skeptisisme hieroor te bowe gekom het. Wat van God se oortuigingswerk kan vertel:

’n Verpleegster onthou hoe die Heilige Gees haar na Skrifgedeeltes oor ’n ingesteldheid van oplettendheid en dankbaarheid gelei het. Sy vertel: “Dawid jubel oor die Here se goedheid; die Ou-Testamentiese profete profeteer oor ’n vreugdetyd wat vir God se mense sou aanbreek; Salomo propageer blydskap as bevorderlik vir ons gesondheid en genesing; die engele het ’n tyding van ‘groot blydskap’ gebring; Jesus Christus was ’n lofprysende Mens wat beloof het dat dié wat die Gees ontvang, fontein-mense sou word; Paulus skryf hartstogtelik oor die seëninge van dié wat in Christus is.

“Maar ek het nie in so ’n blydskap geleef nie. Skrifgedeeltes soos Psalm 19:9 en 1 Tessalonisense 1:6 het by my verbygegaan.”

Oplaas het sy begryp dat die Gees wat verloste mense van Christus ontvang, nie die gees van die wêreld is nie. “’n Blydskap wat van die Heilige Gees kom, is vir ons bedoel. Ek moes leer om ’n ontvanger voor God te word, een wat keer op keer vir Hom dankie sê.

“En dit was die beste, die opwindendste leefstylverandering ooit! Sommer gou ná die oorskakeling na gretige ontvanklikheid vir dit wat die Here in ’n spesifieke oomblik op jou uitgiet, voel jy soos die geseëndste mens in die wêreld. Ek bedoel: Hoeveel het jy vir ’n lug vol reënwolke betaal? Watter rekening kry jy vir die geur van roosmaryn, vir die sprong van ’n dolfyn, vir die krag van die Woord? Vir jou plekkie by vriende se etenstafel, vir die stollingsfaktor in jou bloed?”

Die ma van ’n jong man wat tydens ’n rooftog gewelddadig gesterf het, vertel: “Die dood van ’n kind is die dood van ’n ouer – tensy die ouer kies om behoue te bly. Om in die dankbaarheidsmodus te begin leef, was my behoud. Dit is steeds so. Die rou stemme van singende vullisverwyderaars, die smaak van kruie en speserye – dit is God se geskenke aan mense in rou.

“Daarom sê ek dankie, Here, vir die son se warmte op my rug, vir tuinvoëls wat krummels en sade naby my kom verorber. Dit laat my die slegte oorleef wat mense ons kind, en vir ons, aangedoen het.”

Jana du Plessis, KANSA en Bloemfontein se inspirasievrou, moes in Januarie 2017 vir die derde keer tydens aggressiewe kankerbehandeling besluit hoe sy emosioneel sou oorleef.

Sy maak weer soos die vorige kere. Sy vertel: “My antwoorde kry ek uit die Woord, my hulp is van die Here. Ek weet uit ondervinding: Wat ’n mens dink, is wat jy glo. Ek kies dus weer om te bly dink dat God die beste weet en dat Hy die temperatuur van die vuuroond beheer.”

Aardetyd is genadetyd is Jana se kanker- en geloofsverhaal. Dit bevestig die boodskap wat sy altyd met ander deel: Ons tyd op aarde is ’n kosbare geskenk.

Daarom bly die voorreg om haar dogtertjie op die netbalbaan te kan aanmoedig, en om tussen chemoterapie-sessies deur saam met haar gesin in die branders te baljaar, vir Jana genadegeskenke waarvoor sy die Here loof.

Vir Suzan de Jager, ’n afgetrede maatskaplike werker wat deurdagte geestelike gedigte skryf, was ’n gewone gesinslewe met ’n sielsgenoot as lewensmaat nog altyd net ’n diep hunkering. Maar almal wat haar ken, beleef haar as een van daardie inspirerende, diensvaardige mense wat, soos die barmhartige Samaritaan, ander mense op eensame paaie bystaan.

Ek het haar gevra wat tans vir haar belangrik is, en watter verskil voortdurende dankbare afhanklikheid van die Here in ’n mens se lewe maak. En of sy steeds in donker dae dankbaar teenoor Hom voel.

Hierop antwoord sy só: “My bloedfamilie in Jesus Christus, my geloofsfamilie, is vir my oneindig kosbaar. Hulle is Jesus se hande en voete in my lewe. Om aktief te luister met my hele wese – dít is my passie.

“Jesus Christus het my geroep met die woorde: ‘Volg My!’ Dit is my roeping om gehoorsaam te wees, diensbaar. Net omdat daar iets in my lewe gebeur wat ek nie verstaan nie, word my dankbaarheid nie opgehef nie. Ek huil daaroor, gesels met my vertrouelinge en praat met God daaroor, want op Hom kan ek altyd vir die uitkoms vertrou.

“My gaywees, wat grootliks onbegryplik is, het dikwels ongemaklikheid en groot hartseer tot gevolg. Tog hou ek onwrikbaar vas aan my Maker, die Een wat my in die moederskoot vol geheimenis wonderbaarlik aanmekaar geweef het. Hy bring altyd ná die storms in my gemoed die vrede wat alle verstand te bowe gaan, want Hy is inderdaad ook my Prins van Vrede.

“Daar is ’n groot seer in my siel dat mense wat naby aan my is, my vanweë my gaywees verstoot het. Maar my Hemelse Vader leer my stelselmatig om nie meer lyke saam met my rond te sleep nie, want dit is ‘dooie gewig’ en dit steel my lewensvreugde.

“Die gebede van hartsvriende en die Gees van Christus beskerm my en tel my elke keer weer op. Dit dra my waar ek soms sukkel om te loop. Dít laat my beker oorloop van dankbaarheid. Ek dank die Here vir sy goedheid: vir die onvoorwaardelike liefde van hartsvriende. Vir ’n warm, gemaklike bed. Vir kos, water, elektrisiteit.

“Om egter dankbaar te vóél, is dikwels ’n weelde. Vir my gaan dankbaarheid oor ’n sekere Skrifkennis en ’n volgehoue vertroue in Jesus Christus. Só ontspan ek in die teenwoordigheid van Hom wat my ken en wat beter weet. ’n Leefstyl van dankbaarheid bevoorreg my om die ewige hoop in Jesus Christus te kan uitdeel.”

 

Doodgewoon …

Gelowiges met ’n dankbaarheid-ingesteldheid kies om hulle oop te stel om te ontvang wat God in die doodgewone oomblikke van doodgewone dae vir hulle gee. Dan dank hulle die Gewer in hul hart en gedagtes daarvoor. Dié gawes sluit in:

  • die geur van reënkaktus-blomme;
  • die dinge wat hulle in siekte en teëspoed leer;
  • vergifnis en vrede ná ’n huweliksrusie;
  • opslag-tamatieplantjies;
  • die insig om ’n destruktiewe verhouding betyds te verbreek;
  • die pikante smaak van roketslaai;
  • werk- en studiegeleenthede;
  • “Chopsticks” soos ’n sesjarige dit speel;
  • toebroodjies, aarbeie, spinasie, nagereg, groentesop.

 

Opwindende ontdekkings

Kies om oomblik ná oomblik iets van die Here te ontvang en Hom daarvoor te dank – en jy sal splinternuwe dinge ontdek. Byvoorbeeld:

  1. Tyd is lewe; tyd is nie geld nie.
  2. Elke mens lewe ’n klaaglied of ’n danklied voor God en mense.
  3. Hoe meer ons ons oefen om God se goedheid in die oomblik te beleef, hoe minder deel ons in die wêreld se vrese en angste.
  4. Dankbaarheid maak ons kyke, ons mondhoeke en ons aanraking sag.
  5. God is goed, en sy liefde oordadig.
  6. Jare se “joy” begin by dankbaarheid in die oomblik.
  7. Dankbare mense dink nuwe gedagtes. Byvoorbeeld: Hoeveel betaal ek vir ’n koel skadukol? Vir vergifnis? Vir ’n hand op my skouer? Ja, die lieflikste dinge in die lewe is gratis.
  8. Dankbaarheid word aanbidding en deurleefde getuienis.

 

Genoeg, elke dag

Die befaamde Ann Voskamp skryf in One thousand gifts: A dare to live fully right where you are (Zondervan, 2011) dat sy in haar eie oorlewingstryd elke dag moes gaan manna optel, of sterf. Sy skryf ook: “We only see all that isn’t: holes, lack, deficiency. Our fall was, and has always been, that we aren’t satisfied in God and what He gives. We hunger for something more, something other.”

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail