Die ou mens moet sterf voordat die nuwe mens gebore word. Dit volg eers ná ’n ontmoeting met Jesus. Jy kan dus sê dis ’n noodlottige ontmoeting. En vanselfsprekend het dit enorme implikasies.

DEUR STEPHAN JOUBERT
Wanneer ’n nuwe idee hom eers in jou kop tuisgemaak het, keer daardie kop nooit weer na sy oorspronklike vorm terug nie.

Baie mense het dít al beleef en gesê en met oortuiging daaroor geskryf. Tereg so, want dit bevat ’n groot waarheid.

As ’n Bybelskrywer so iets sou kwytraak, kon dit dalk só klink: “’n Hart wat een maal deur God aangeraak is, kan nooit weer na die ou, uitgetrapte paaie terugkeer nie.”

Of, kortweg: “Nuwe hart. Nuwe kop. Nuwe lewe.”

So mooi soos dit. So eenvoudig soos dit.

 

Of dalk nie so eenvoudig nie …

Want Bybelse waarhede “rek” nie sommer meer ons kop nie. Dit verander nie noodwendig meer ons hart nie.

Hoekom sou dit wees?

Ek dink ons het bloot té gewoond geraak aan heilige dinge. Ons het godsdiens­tig gesproke “verveeld” geraak.

Ek kan dit van myself sê. My geloof het eens op ’n tyd afgekoel tot ’n gerieflike geestelike kamertemperatuur. Toe kom daar een vraag oor my pad – en dit boul my skoon. In sy boek Love does vra Bob Goff: “Will you take what you think defines you, leave it behind, and let Jesus define who you are instead?”

Met ’n skok het ek besef dat ek deur baie dinge in die lewe gedefinieer word: my beroep, my vriende, my omgewing, my besittings. Maar … Jesus?

Ja, ek sê maklik ek ken Hom. Ek bely graag Hy is my Redder. Maar is Hy die Here van my lewe?

Dit was ’n ánder vraag. Te veel “identiteitmerkers” het hier kom inmeng.

Ek het opnuut die Bybel se lig gaan soek. Ek moes ten alle koste weet wat sê die Here oor ons nuwe identiteit. Genadiglik het 2 Korintiërs 5:17 opnuut op my horison verskyn. Hierdie teks, wat ek al baie kere gelees het, was skielik propvol nuwe betekenis. Paulus skryf hier dat iemand wat in Christus is, ’n nuwe mens is. Die Grieks verwys na ’n “nuwe skepping”.

Boonop roep Paulus dit op ’n unieke manier uit. Jy sou sy woorde letterlik só kon vertaal: “As iemand in Christus is – NUWE SKEPPING!”

Dis hemelse hoofnuus. “Breaking news!”

Hierdie was vir my die een nuusflits wat die moeite werd geword het om lewenslank te besing en in hoofletters uit te jubel.

Noodlottig
Wanneer jy in Jesus vasloop, is ’n nuwe lewe jou voorland.

Eintlik moet jy dit só sê: Jesus loop in jou vas. Hy kom soek jou op. Jy is die vlugteling en Hy die soeker. Jy hardloop weg, en Hy hardloop jou in. Jesus vat jou spoor totdat Hy jou opspoor. Hy loop diep die donkerte in, agter jou aan.

Christus het jou raakgeloop terwyl jy letterlik niks in jou hand of in jou beursie gehad het om die stukkende verhouding met God te herstel nie. Hiervoor was jy te arm. Niks minder nie as geestelik bankrot.

Tog het Hy ’n hand vol hemelse genade vir jou gehad. Jesus het jou met oop arms in God se ewige familie verwelkom toe jy sy hand gelowig vasgegryp het.

Jou ontmoeting met Jesus was dus noodlottig. ’n Trompop botsing. Jy is op slag dood – en ’n nuwe mens het opgestaan.

Nee, dit was nie ’n ontmoeting waartydens jy ’n klompie kosmetiese veranderings aan jou geestelike lewe ondergaan het nie. Van nou af sal niks meer dieselfde wees nie. Jy het nie gou-gou by Jesus ’n ewige lewe-versekeringspolis uitgeneem nie; Hy het jou lewe op sy kop gekeer.

’n Nuwe mens, ’n nuwe skepping. Dis presies wie en wat jy is nadat jy en Christus mekaar van aangesig tot aangesig ontmoet het.

En nuwe prioriteite
Die trompop botsing met Jesus bring nuwe taal na jou lewe toe. Dit laat jou saam met Paulus uitroep: “Ek leef nie meer nie, Christus leef in my!”

Vroeër was jy nog die hoofkarakter in die sepie van jou eie lewe, maar nou her­skryf Christus jou lewensverhaal. Hy vervleg dit met syne. Nou is daar ’n nuwe storielyn, ’n nuwe identiteit. En nuwe prioriteite.

Waar jy vroeër gevra het: “Wat kan ek uit die lewe kry?” vra jy nou: “Wat kan ek gee?”

Waar jy tevore op jou eie voordeel gefokus was, maak die Here se eer nou jou radarskerm vol.

Jy het opgehou om ’n selfbehepte mens te wees wat eksklusief vir jouself leef. Jy het iemand geword wat vol vreugde op Christus se spoor loop.

Jy het regtig baie verander: Vroeër het jy dalk nie te veel vir ander mense gevoel nie; nou het jou hart sag geword. Ander mense se ewige én tydelike nood maak nou saak. Hul lewe tél nou soveel dat jy op jou skouers plek maak vir hul laste.

 

Jou ou lewe is agter jou, dis oor en verby. Jesus bepaal jou prioriteite, jou lewenskeuses, jou emosies en jou gedagtes.

Hy is die Heer en jy sy voltydse volgeling. Sy wil is jou roetekaart. Sy vriende is joune. Efesiërs 2:11-22 is jou nuwe kompas, want hier leer jy herhaaldelik dat Christus aan die kruis die skeidsmure tussen mense afgebreek het. Hy het nie bloot die brug na God toe herstel nie, maar ook ’n nuwe mensheid tot stand gebring.

Al rig mense oral weer ellendige mure tussen mekaar op, weet jy dat dit onwettig is. Jy is ’n afbreker van skeidingsmure. Jy is ’n brugbouer tussen mense, in Jesus se Naam. Jy is sy voltydse bediende, en ook ander mense s’n.

Broos, maar …
Vandat jy die woorde: “Volg My!” uit die Here se mond gehoor het, is jou lewe nie meer vervelig nie en beslis nie meer vaal nie. Die hemel bokant jou is oop.

Tog is jou nuwe lewe nie voorspelbaar nie, dis ook nie altyd veilig nie. Die Here se liefde en nabyheid laat jou nie op ’n naïewe manier op ’n wolk van geluksaligheid rondsweef nie.

Jy weet geloof vra opoffering, ’n tweede myl, vasbyt. Dit vra moed om stroomop in die Here te glo, om nie saam met almal in die stroom van hooploosheid en woede meegesleur te word nie.

Jy verstaan al hoe beter wat Elie Wiesel bedoel het toe hy op ’n keer gesê het: “If I not had faith, my life would have been much easier.”

 

Maar jy het nie eensklaps ’n papperd geword nie. Winston Churchill se woorde resoneer goed met jou op hierdie geloofspad: “We have not journeyed all this way because we are made of sugar candy!”

Jou voete raak daagliks vaste grond te midde van die seer en swaar van onreg, dood, worsteling en al die ander uitdagings om jou. Anders gesê: Jy volg Jesus volspoed in die regte lewe. Jy kies hierdie pad oor en oor, omdat jy weet die Here het jou van tone tot kop nuut gemaak.

Ja, jy is swak, maar sterk. Jy is weerloos, maar weerbaar. Jy is breekbaar, maar dapper. Jy is soms oor raad verleë, maar nie radeloos nie.

Jy volg Hom wat sy kruis enduit gedra het. En jy is ook hier om die pad saam met Jesus te voltooi.

Jy doen dit dag na dag – en jou kop en jou hart sal nooit weer terug krimp na hul ou, beknopte, bekrompe self nie.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail