Verlede jaar het die lewe my ’n lelike streep getrek. Sommer baie lelik. Eensklaps het ek my in ’n woestyn bevind en nie geweet watter kant toe nie. Nie omgegee watter kant toe nie. Net geweet ek wil nie verder nie. Ek wou net daar bly lê. Soos Elia, onder die besembos.
Die aanhoudende vrae aan myself het my bly teister: Hoekom het ek …? Hoekom het ek nie eerder …? Hoekom het dit só gebeur?
En: Here, waarom is U so stil?
Rondom my was net woestyn. Uitgestrek, sonder einde. Troosteloos.
Ek was desperaat. Ek moes ten minste die knaende vrae stil kry. Toe stuur my ma vir my ’n SMS, ’n teksvers wat ek uit my kop ken, Psalm 37:4, en ek skryf dit neer: “Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.”

Hierdie teksvers het by my gebly – maar te gou het ook dít ’n vraag geword. Nóg ’n vraag!
Maar hierdie keer was dit juis dit wat my van onder die besembos laat opstaan het. Wat my voete wakker gemaak en op ’n manier in ’n koers gedwing het. Sien, ek het dié nuwe vraag vir die Here gegee, Hom gevra: Here, hoe vind ek my vreugde in U?
Hy het my nie geantwoord nie, nie dadelik nie. ’n Paar dae later het Hy gereageer, en toe op ’n totaal ander wyse as wat ek kon dink.
Ek het dit begin raaksien in die opgestapelde wolke wat bo die groen heuwels met die wingerd hang. Dit was Hy. Ek het dit gehoor in ’n vriendin se opregte hoe-gaan-dit-regtig-met-jou. Dit was Hy. Ek het dit in my hand vasgehou toe ek ’n kollega se ek-dink-aan-jou-briefie op my lessenaar optel. Dit was Hy.
Hy was by my, in my woestyn. Dit het ek nou geweet.
Toe maak ek my seer oë en my swaar hart oop om nóg van Hom te beleef. Sy vreugde wat oral en stilletjies rondom my opskiet. Klein, effentjies, maar darem. Ylerige vreugde-grassies wat my voete aan die beweeg gekry het, sodat ek die tog kon aanpak.

Dit is Valentynsmaand 2018. Ek is steeds op reis deur die woes­tyn. En op my pad lees ek Annalise Wiid se rubriek op bl 11 van hierdie uitgawe, en Lizette Murray se artikel oor vreugde op
bl 52. En ek hoor Hom en sien Hom. En ek hou Hom voor oë.
Ons sing in die kerk hoe Jesus ons deel van God se familie maak. En my hart neurie tog saam oor hierdie Blye Nuus. Ek word herinner aan die vreugde van my verlossing, dat geen woestyn ooit die waters van God se liefde vir ons kan opdroog nie.
En dit is tog asof dit algaande makliker word om Hom en sy vreugde raak te sien. Dit is asof daar buitelyne van ’n nuwe prentjie teen die horison sigbaar word. Dof, maar dáár.
Ek weet die pad mag dalk nog lank wees. Dat die einde van dié reis nog baie treë ver is. Maar dit is daardie vooruitsig bo die gesigseinder wat my trék. Dit is die groen grassies by my voete wat my help. Wat my laat aanhou.
Dit is Hy – die Here van my vreugde. Dit is Hy – en sy belofte van waters waar daar vrede is, wat my tree vir tree troos.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail