Die Bybel is ’n belofteboek. Dit vertel immers die storie van Israel, die volk aan wie God belowe het dat Hy hulle God sal wees en dat hulle sy volk sal wees. Maar hoe lees ons hierdie Boek, duisende jare ná die gebeure wat daarin beskryf word? En, veral, hoe verstaan ons die beloftes wat daarin gemaak is?

Foto deur Ben White op Unsplash

DEUR BAREND VOS

“Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!” (Jer 29:11). Só sê die Here deur sy profeet aan sy kinders wat in ellendige omstandighede as ballinge in Babel leef.

Hierdie en ander beloftes het aan die hart van Israel se geloof gelê. Dit was hul vaste oortuiging dat God al sy beloftes aan sy volk sou nakom. Dit het hulle met hoop vervul terwyl hulle dag ná dag hul oorlewingstryd in die vreemde moes voortsit.

“Hulle het dié soort Goddelike belofte toe reeds geslagte lank goed geken,” sê dr Andries Cilliers, bekroonde skrywer, Skrifkenner en tans leraar by die NG Kerk Drieankerbaai. “Die Here het lankal aan hulle belowe dat Hy hulle sal seën, dat Hy hulle ’n land sal gee wat aan hulle behoort, en dat Hy hulle vir altyd sal beskerm en versorg.”

En vandag?
Ons verneem in die Nuwe Testament dat die beloftes aan Abraham en Israel nou geld vir almal wat in Jesus Christus glo. In Christus is die vervulling van God se beloftes gewaarborg. Daarom kan Paulus skryf dat Christus die “ja” is op al die beloftes van God (vgl 2 Kor 1:20).

Inderdaad: God hou sy woord met sy wêreld en sy mense. En dié woord het in Christus mens geword en onder ons kom woon (vgl Joh 1:1-14).

Daarom is hedendaagse gelowiges met reg daarvan oortuig dat hulle daarop kan aanspraak maak dat alles wat God belowe het ook vir hulle bedoel is (vgl 2 Kor 7:1).

 

Daar is egter ’n belangrike “maar” in hierdie vaste geloof: Dis soms pynlik duidelik dat sommige gelowiges op ’n té maklike, té vanselfsprekende manier hierdie Godbeloftes vir hulleself toe-eien. Dit lei feitlik onafwendbaar tot teleurstelling en dikwels groot ontnugtering.

Hieroor vertel Andries: “Ek het meermale beleef dat iemand die belofte in Jeremia 29:11 (‘Ek weet wat ek vir julle beplan …’) sonder meer aangryp as ’n belofte vir persoonlike voorspoed en ’n maklike toekoms. Hulle hou nie rekening met die konteks waarbinne dié belofte gemaak is nie – en vergeet daarom dat Jeremia reeds in hoofstuk 29:8 waarsku: ‘Moenie ag slaan op daardie drome wat julle so graag droom nie.’

“Hedendaagse gelowiges moet weet dat daardie belofte nie aan ons gemaak is nie, maar allereers aan die Joodse ballinge in Babel. Ons moet probeer om te verstaan wat die Here deur Jeremia aan die ballinge wou sê, en tog nie die mooi woorde buite die oorspronklike konteks aangryp om onsself wys te maak dat God vir ons persoonlik ’n blink toekoms beplan nie.”

Hierdie soort voorbeelde kan vermenigvuldig word. Veral waar oorwinning en voorspoed in die Bybel belowe word. Gelowiges wat onder erge druk verkeer, word dikwels aangemoedig om sulke tekste (ongeag die konteks waarin dit voorkom) op hulleself en hul eie situasie toe te pas.

Dis nie die regte manier om met die Bybel om te gaan nie, en dit verskraal die Almagtige tot ’n persoonlike godjie wat na willekeur aangehaal kan word om jou te pas. Of wie se woorde verswyg of, dalk erger, verdraai word wanneer dit jou nie pas nie.

Hoe nou gemaak?
Nou kom die vraag: Kan gelowiges die Bybel en die beloftes daarin hoegenaamd glo? Geld God se Woord dan bloot “vir daardie tyd en daardie mense” en nie ook vir alle gelowiges van alle tye nie?

Funksioneer die Bybelse beloftes dan nie as ’n veelbelowende en allertroostende reënboog in my dikwels dorstige bestaan nie?

Dalk sal sommiges boonop vra: Hoekom moet alles so ingewikkeld gemaak word? Kan ek nie bloot lees en aanvaar en glo wat daar staan nie? Ek was dan altyd daarvan oortuig dat God met mý praat wanneer ek die Bybel oopslaan …

 

Dis nie vreemd dat gelowiges bogenoemde vrae vra of sulke versugtinge uiter nie. En goddank, niks daarvan is moeilik om te beantwoord nie. Inteendeel.

Daar is wel een, nee, twéé vanselfsprekende voorwaardes by die lees en aanvaar en glo van die Bybel en die beloftes daarin. Andries sê:
1. “Ek kan die Bybelse beloftes net verstaan as ek die Bybel waarin daardie beloftes staan deeglik en biddend lees.
2. “Belangriker: Ek kan God se beloftes net begryp as ek die God van die beloftes deur sy Woord en Gees leer ken.”

Dáárom!
Bogenoemde twee voorwaardes ver­skaf die sleutel waarmee elke belofte in die Bybel ontsluit kan word, juis ook vir hedendaagse gelowiges wat van hierdie beloftes leef.

Dis hierdeur wat gelowiges begryp dat Jesus Christus die “ja” is wat God op sy beloftes gee. Die grootste fout wat Christene in hierdie verband kan maak, is om die Bybelse beloftes los te maak van Christus. Om dit te lees asof God dit sopas uit die hemel “net vir my” gestuur het.

Andries sê: “God se beloftes is in Christus gewaarborg, en dit beteken dat ek my vertroue op die vervulling van die beloftes nié kan losmaak van my vertroue in Hom en my navolging van Hom nie.”

Paulus stel dit baie duidelik in Romeine 8:31-39. Daar vind ons straks die belangrikste belofte in die Skrif, naamlik dat God “vir ons” is. Dat niks ons van sy liefde kan skei nie.

En ons waarborg hiervoor is Jesus Christus. Hy wat gesterf het, opgestaan het en nou aan die regterhand van God sit om vir ons te pleit.

“Ons pad saam met God loop daarom nie ’n wye draai om die seer en swaar in hierdie wêreld nie,” sê Andries. “God belowe nie aan ons ’n maklike toekoms of ’n vanselfsprekende verwagting van vinnige voorspoed nie.”

Ons pad saam met God is ook die pad agter Jesus aan – en dis ’n lydensweg. Dit loop, sê Paulus, deur lyding en benoudheid en vervolging, honger en naaktheid, gevaar en swaard (vgl Rom 8:35).

Maar ons het ook hierdie belofte: Ons sal oorwin omdat Hy oorwin het. Ons sal deur al hierdie dinge uitkom by die heerlikheid wat God aan ons en aan sy skepping belowe het.
Daarom leef Jesusvolgelinge ten slotte ook van dié belofte: “En onthou: Ek is by julle al die dae …” (Matt 28:20).

Deon van Niekerk, afgetrede predikant wat sy hele predikantbediening by die NG Kerk Upington-Oos deurgebring het, skryf vroeër vanjaar:
“Ek is nie een van daardie mense wat my geloof op tekens bou nie. Maar soms verras die Here jou, trek Hy as ’t ware jou been.
“’n Klompie jare gelede is kolorektale kanker by my gediagnoseer en my rektum is verwyder. Op ’n stadium het die behandeling my na ’n hospitaal in Claremont in die Kaap geneem. Daar sou ’n baie ernstige en langdurige operasie uitgevoer word om ’n stoma op my maagwand te vestig. Dit moes voortaan alle rektale uitskeidings hanteer. Dan word laasgenoemde in ’n sakkie opgevang en van ontslae geraak. Dis ernstige sake. Dinge werk nie altyd so maklik nie …
“Toe, een middag, is ek boonop agtelosig en die sakkie word te vol. Dit het losgetrek en erg gemors en die verpleegsters moes kom skoonmaak. Ek het in trane uitgebars; alles was eensklaps net te veel.
“Verleë het ek my kop weggedraai en by die venster uitgestaar terwyl die verpleegsters om my werk.
“En toe, op daardie einste oomblik, verskyn die mooiste reënboog in die helderste kleure bokant Wynberg-heuwel onderkant Kirstenbosch.
“Ek vermoed baie mense het daardie middag dié uitsonderlike reënboog gesien. Maar vir my was dit mý reënboog, my teken. Dit was God se grappie met my.
“En dit was asof al my probleme, so met sy belofte-teken, net daar opgelos is terwyl ek in God se klein stukkie binnepret gedeel het.”

† Dr Deon van Niekerk is op 16 September oorlede. Die Here het hierdie buitengewoon begaafde mens meer as 30 jaar lank as dienskneg in sy kerk gebruik.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail