Die kunswerk se swart-en-wit vorms het dadelik my oog gevang. Dit het my dieper ingetrek in die skets, dit het my betower.

Dis eers die opeenstapeling wat jou aandag trek – stoele en tafels, hangkaste en boekrakke. En ’n lang, lang leer. Alles een slordige hoop. Met heel bo-op ’n vrou wat sit en staar.

Waarom sou die vrou daar hoog op die stapel sit? Die antwoord lê voor die hand: In die groot vertrek waarin sy haarself bevind, is daar net een venster. Dié sit hoog teen die dak.

En dít is waarom die vrou bo-op die stapel sit: sodat sy ’n uitsig kan hê. Sodat sy deur daardie venster buitentoe kan kyk.

Ek kon dadelik met daardie vrou voor die venster identifiseer. Dit was nog altyd so dat my siel kan asemhaal wanneer ek ’n uitsig het. En wanneer ek ’n uitsig het, kan ek droom. Dan het ek hoop en is daar iets onstuitbaars in my. Solank ek net iewers ’n bietjie buitelug kan sien, ’n stukkie horison. Of ’n boom, ’n wolk, ’n spatsel blou.

Foto deur Jeremy Bishop by Unsplash

Die afgelope tyd oorweldig die nuus oor geweld teen vroue en kinders ons. Dis asof ’n donker golf boosheid ons uitsig kom belemmer. Die geweld, die brute minagting, is besig om ons drome te verwoes, ons hoop, ons moed.

Waar sal ons begin om hierdie vloed te stuit? Sommige veg met protesoptogte daarteen, ander met sosiale media-veldtogte. Of met swart klere op ’n Donderdag*. Daar is radiopraatjies en koerantberigte, en daar is gesprekke langs ’n braaivleisvuur. Almal praat, almal wonder.

Maar dis ’n té ingewikkelde saak om sommer so agter die rug te kry. En, soos met sulke tamaai kwessies, is daar ook diegene wat bloot terugsit en niks doen nie – verlam deur die omvang en diepte daarvan …

 

Die prentjie van die vrou by die venster het my bygebly, omdat ek in elke mens wat ek raakloop hierdie behoefte aan ’n uitsig sien. ’n Behoefte om te kan droom, om verder as vandag te kan kyk na iets beters wat wag. ’n Behoefte om te bly hoop.

Ek het na die prentjie gekyk en dadelik geweet dat ons elkeen sulke stapels bou. Dat daar wel ook diegene is wat dit afbreek. Soveel mense se uitsig word hulle ontneem deur ander (of hulleself) wat dit afbreek.

Maar ek het ook geweet ek kan op my eie manier help om dinge op mekaar te stapel en dit sodoende moontlik te maak vir ander, en myself, om by die vens­ter te kan uitkyk.

Ek lees in die Bybel dat die gebed van ’n gelowige ’n kragtige uitwerking het – en ek weet dít is hoe ek kan help bou (vgl Jak 5:16).

Ek lees mense se stories in LiG en ek hoor hulle vertel hoe God in hul lewe werk – en ek weet getuienisse is ’n manier om stapels te help bou.

Voortaan, dit weet ek ook nou, sal ek luister na gesprekke oor die geweld en die hopeloosheid wat dit bring. Maar ek sal deelneem deur te vertel dat ons ’n God dien wat goed en regverdig is, ’n God wat mense red en heel maak. Ek sal help stapels bou waar ek kan – in vroue se lewe en ook in mans s’n.

Ek sal met my woorde en my dade help om aan ander ’n uitsig te gee. Ek sal my naaste ’n uitsig gun. Ek sal aanhou vertel van die hoop wat in my leef.

En ek sal in geloof toekyk hoe ander se stapels hoër word. Tot by ’n venster met ’n uitsig wat iets onstuitbaars in hulle sal wakker maak.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail