“Visvang vir Jesus, visvang vir Jesus elke dag …” Só sing ons kinders.

Maar weet hulle regtig wat dit beteken om Jesusvolgelinge te wees?

En wat moet ouers van kinders en dissipelskap weet?

 

Deur Susan Goosen

 

Toe Simon Petrus en Andreas vir Jesus ontmoet het, was die twee broers besig om, soos elke dag, vis te vang. “Kom saam met My,” het Jesus hulle genooi. “Volg My. Ek sal julle vissers van mense maak.”

Sonder om twee keer te dink, het die mans hul nette gelos. Hul lewe sou nooit weer dieselfde wees nie. Voortaan sou hulle gaan waar Jesus hulle heen lei.

“Dit is interessant om daarop te let dat Jesus nie gevra het die twee mans moes Hom aanbid of iets vir Hom sing nie,” sê ds Eric Swanepoel van INcontext International. “Natuurlik is aanbidding en sang ook vir gelowiges belangrik, maar Jesus het gesê ‘volg My’.

“En ’n dissipel, oftewel volgeling, se primêre kenmerk is nie die feit dat hy of sy ’n gereelde kerkganger is, ’n tiende vir die kerk gee of selfs ’n leiersposisie in die kerk beklee nie. Dissipelskap het te doen met die feit dat jy Jesus volg. Dat jy agter Hom aanloop.”

Melanie Thirion, jeugwerker in die NG Gemeente Kenridge in die Kaap, brei hierop uit en sê: “Ware dissipelskap beteken dat die Heilige Gees ons al hoe meer vorm om aan die beeld van Jesus gelyk te word. Dit impliseer dat ons, net soos Jesus, ander mense sal dien tot verheerliking van die Vader. Dis ’n lewenslange proses; God is nooit klaar met ons nie.”

Eric sê: “As ons en ons kinders Jesus wil volg, moet ons natuurlik kyk in watter rigting Hy loop. Ons lees in die Evangelies hoe Jesus Hom baie dikwels tussen die samelewing se randfigure bevind het. Dink maar aan Saggeus die tollenaar en die Samaritaanse vrou by die put. Jesus het moeite gedoen om na die sondaars, die uitgeworpenes, uit te reik. En as Hy soveel moeite met die verstotelinge gedoen het, is dit wat ons, Jesusvolgelinge, ook moet doen.

“Ons mag ons nie uit ’n verlore wêreld onttrek nie; die Gees gebruik ons in hierdie donker wêreld om Hom deur ons aan ander bekend te stel.

“Dissipelskap is dus veel meer as bloot ’n mooi belydenis. Dit is ’n praktiese en daaglikse toepassing van dit wat ons glo.”

 

Kinders as dissipels?

Ná sy opstanding het Jesus sy dissipelskapopdrag herhaal toe Hy sy volgelinge aangesê het om na al die nasies te gaan en om dissipels vir Hom te maak, tot in die uithoeke van die wêreld.

Esmé Schmitt van Esmé Schmitt Ministries, ’n wêreldwye bediening wat op kinderevangelisasie fokus, verduidelik: “Volgens die Skrif moet ons mense van alle nasies doop in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees en hulle alles leer wat Jesus ons geleer het.

“Baie mense dink verkeerdelik dat dissipelskap se fokus die redding van mense is. Dis egter net die beginpunt. Dissipelskap het te doen met die toepassing van die Bybel in ons alledaagse lewe.

“En die Bybel verwys hier natuurlik nie net na volwassenes nie. Die boodskap is eweneens op kinders van toepassing. God werk deur die volle krag van sy Gees in ons kinders. Kinders het God in hul daaglikse lewe nodig. Nie alleen moet hulle weet wat sy Woord hulle leer en vir hulle beteken nie; hulle moet ook sy liefde, vreugde en vrede beleef.

“Kinders moet leer om hul hart vir God oop te maak. Hulle moet leer hoe om saam met Hom te leef. Hulle moet Hom nie bloot op ’n intellektuele vlak leer ken nie, maar Hom ook voel en ervaar. Hulle moet weet dat Hy eg is, dat Hy bestaan.”

 

’n Ouer se rol

Melanie onderstreep die rol wat gelowige ouers speel in die grootmaak van kinders as Jesusdissipels. “Die verhouding wat ouers met hul kinders het, vorm die grondslag van dissipelskap,” sê sy. “Dis noodsaaklik dat jou kinders van kleins af sien en hoor hoe jy bid, hoe jy tyd met die Woord deurbring, hoe jy saam met ander gelowiges aanbid, hoe jy diensbaar is en jou geloof met ander deel. Namate jou kinders ouer word, kan jy hulle in hierdie ervarings laat deel. Help hulle deur ’n bewustheid van God se teenwoordigheid te skep – by ons, in ons en deur ons.”

Esmé sê: “Praat met jou kinders oor jou eie verhouding met God. Vertel hulle wat jy gelees het, hoe die Here met jou gewerk en gepraat het, hoe Hy jou gebede verhoor het. Gesprekke soos hierdie wys jou kinders dat God eg is, dit maak hul hart oop vir die werking van God se Gees. Ouers se voorbeeld is kragtiger as enige prediker se preek.”

Dis natuurlik ook belangrik dat ouers hul kinders sal blootstel aan wat God in die wêreld doen. Eric sê: “Jy kan jou kinders vertel van die nood rondom ons en in ander lande, maar dit sal ’n lewensveranderende invloed op hul menswees hê indien hulle dit self gesien, gehoor, geruik, geproe en beleef het.

“Ons kinders se leefwêreld is net so groot soos dit waaraan ons hulle bekendstel. Wanneer ons bloot ons kinders leer om vir die arm mense op straat te bid, leer hulle nie dat hulle self die antwoord op die wêreld se probleme is nie. Neem jou kinders dus saam na plekke of lande waar hulle aan ander se nood bekendgestel kan word. Jy sal verbaas wees oor hoe God se Gees jou kind se gees aanraak.”

Nog wenke wat werk

  • Sorg dat julle gesin tyd inruim om saam die Here se Woord te bestudeer en na sy stem te luister.
  • Maak jou kinders deel van besluitnemingsprosesse in jul gesin. Skep ’n veilige hawe waar hulle kan vertel wat God op hul hart gelê het, en hoe hulle sy stem hoor.
  • Herinner jou kinders aan hoe God hulle sien, dat hulle vir Hom kosbaar is en dat Hy ’n plan met hul lewe het.
  • Alhoewel gesinne ’n groot rol in geloofsvorming speel, is dit die Heilige Gees wat die werk in jou kinders doen. Leer om hulle aan die Gees toe te vertrou.
  • Maak jou eie verhouding met God ’n prioriteit. Jou dade spreek baie harder as jou belydenis, en jou kinders kan sien of jy werklik ernstig is oor jou pad met die Here.

 

Hulpbronne vir gesinne

  • Besoek www.esmeschmitt.com vir wenke en video’s om jou kinders in geloofsvorming te lei. Besoek gerus ook www.shop.bethel.com en kidsinministry.org.
  • Torchlighters is ’n DVD-reeks (’n Voice of the Martyrs-produk) wat die verhale van geloofshelde soos Corrie ten Boom, Amy Carmichael en Samuel Morris vertel. Hierdie reeks is by feitlik alle aanlynhandelaars te kry. Dis ideaal vir Bybelstudie met jong kinders.
  • Sticky Faith, deur Kara Powell en Chap Clark, bemagtig ouers met positiewe en praktiese idees om hul kinders se geloofsekerheid te bou.
  • CATCRACKERS – a parental guide to raising children as agents of change deur Mike Burnard is ’n boek wat deur INcontext International uitgegee word. Besoek www.incontext­international.org.
Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail