Passievolle volwassenes met sterk oortuigings en hope deursettingsvermoë word dikwels as rolmodelle gesien. Maar oor jong kinders wat dieselfde eienskappe het, word daar gefrons. Hoe moet ouers hierdie unieke uitdaging hanteer?

DEUR RENé BADENHORST

Milah het van altyd af minder as ander kinders geslaap. En toe haar maatjies nog probeer kruip, het sy al rondgehardloop en teen die vensters se diefwering uitgeklouter.

Soos sy ouer geword het, het haar besonderse persoonlikheid al hoe meer begin deurskemer: intens, sensitief, volhardend en energiek, en met ’n fyn waarnemingsvermoë. En glad nie lief vir verandering nie.

As jy die ouer van ’n kind is wat soos Milah bedraad is, het jy waarskynlik al menige kere met jou hande in jou hare gesit en moes jy dalk al heelwat kritiek van beterweters aanhoor. Hoe het jy hierop gereageer?

Sommige ouers onttrek hulle en laat die kind begaan, terwyl ander hul kind desperaat probeer beheer.

“Vind die wortel van die kwaad,” sê Soekie Krog, ’n kenner van dié soort gedrag. “Die wortel bepaal dikwels die vrug wat deur die plantjie voortgebring word. Die eerste vraag is dus: Hoekom dra hierdie kind dikwels ’n etiket van opstandigheid, eiesinnigheid, uitdagendheid en ongehoorsaamheid? En soms “sagter” weergawes van dieselfde soort beskuldiging – kansvatter, oorgestimuleer, verveeld, aandag-afleibaar?

“Daar is ’n verskeidenheid faktore wat in ag geneem moet word,” sê Soekie. “En dit is nie almal enkelvoudig nie.”

 

Te veel suiker? Of iets méér?

Jou kind se knaende opstandigheid kan die gevolg wees van kos wat stimulante bevat. Daar is ook die rol wat die media in al sy vorme, ook sosiale media, hierin kan speel. En wat van bedenklike rolmodelle en verdagte maats?

Maar jy moet ook weet dat sommige kinders só gemaak is. Hul emosies kom feller tot uiting, hul sensitiwiteit is dikwels ’n pyn – ook vir hulleself. Hulle is vol teenstrydighede, tot almal se frustrasie, ook hul eie.

Soekie sê: “Hulle het dikwels nie baie maats nie, en is gefokus, hardwerkend en beslis. Hulle hou van uitdagings, is nie bang vir konflik en konfrontasie nie. Hulle voel maklik skuldig, maar hulle erken dit nie graag nie.”

Ouers wat nie hierdie andersheid raaksien nie en eerder op hul eie verleentheid en ander mense se menings oor hul kind fokus, doen hierdie kinders ’n onreg aan.

Wat staan die ouers dus te doen? Hoe leef jy saam met so ’n kind sonder om oorweldig te word, maar ook sonder om sy of haar Godgegewe gawes te misken of hierdie unieke persoonlikheid te onderdruk?

Soekie het die volgende klompie wenke:

  • Vier hierdie kinders se andersheid en unieke gawes! Vermy onnodige uitsluiting en aanmerkings.
  • Vra God wat sy plan met hierdie kind is.
  • Wees altyd regverdig teenoor jou kinders. Verseker hulle van jou onvoorwaardelike aanvaarding, en dat jy sal help met hul spesiale soort toerusting en vorming.
  • Gee hulle genoeg om te doen en oor te droom. Komplimenteer. Prys. En juig saam oor doelwitte wat behaal word.
  • Gee jou kinders ’n droom-en-dink-boek waarin hulle planne kan neerskryf en ideale kan teken.
  • Moet nooit jou kinders met mekaar vergelyk nie.
  • Oogkontak, fisiese kontak, gefokusde aandag en tyd saam is baie belangrik.
  • Hierdie kinders beleef hul emosies baie intens. Gee hulle die ruimte daarvoor, maar lê vaste grense neer. Spel die gevolge uit vir wanneer die grense oorskry word.

 

Vurig = Intens

Wanneer ander mense – onderwysers, vriende, jou eggenoot, die kind se maats – na jou “vurige” kind verwys, of “die kind met die vurige persoonlikheid”, dan is dit bloot ’n manier om te sê dat hierdie kind sy of haar emosies baie intens beleef.

En dit is nie noodwendig negatief nie, hoewel dit erg uitputtend mag wees. Dié intense gedrag plaas wel meermale ’n stremming op jul verhouding.

 

Soekie het ook raad vir die hantering hiervan:

  • Maak allereers vrede met die feit dat hierdie kind meer tyd, energie en aandag as jou ander kinders van jou gaan verg.

Dit is ’n unieke kind dié, en dit vra unieke optrede van die ouers. En hope durf en baie harde werk. Moenie sommer die handdoek ingooi as dinge nie gou genoeg na jou sin vlot nie.

  • Moenie die kind in ’n boksie druk of in ’n bepaalde sosiale struktuur probeer dwing nie.
  • Leer jou kind om sy of haar emosies te verbaliseer en te kanaliseer. Selfs versagting van uitsprake, soos: “Ek voel ’n bietjie ongelukkig …” in plaas van: “Ek is woedend!” help om die emosie in toom te hou.
  • Bly in beheer en moenie probeer om jou kind “ter wille van die vrede” ten alle koste te laat bedaar nie.
  • Laat jou kind duidelik verstaan dat jy ongewenste optrede afkeur, maar dat jy hom of haar liefhet. Verduidelik waarom die strafmaatreëls, indien van toepassing, nodig is.
  • Moenie jou kind skaam maak nie, juis nie voor ander mense nie en beslis nie voor vriende nie. Dit is vernederend en het presies die teenoorgestelde uitwerking as wat jy in gedagte het.
  • Erken jou kind se gawes. Sulke kinders het dikwels baie goeie leierseienskappe. Probeer om dit te stimuleer.

 

Vol selfvertroue? Hmmm …

Volgens dr Marietjie Yssel, ’n maatskaplike werker wat in spelterapie spesialiseer, is baie selfvertroue by ’n kind nie sonder meer ’n positiewe verskynsel nie.

“Daar is iets soos toepaslike selfvertroue, en dan is daar ontoepaslike selfvertroue,” sê sy. “Ouers moet tussen dié twee kan onderskei.

“Vurige kinders wat eersgenoemde het, beleef emosionele veiligheid en kan met hierdie selfvertroue nuwe uitdagings aanpak. Hulle kan binne die nodige grense werk, hulle kan luister, en kan ’n ‘nee!’ aanvaar. Hulle kan planne maak, hulle kan gesonde onafhanklikheid en vertroue in hulleself en hul medemens wys. En hulle kan mooi versigtig met ander mense omgaan.

“Daar is egter ook dié wat soveel ongesonde selfvertroue het dat hulle enigiemand wat in hul pad kom summier stoomroller om hul sin te kan kry. Hulle sukkel erg om grense te aanvaar. Hulle raak maklik kwaad, hulle tree vernielsugtig op, ook teenoor ander mense én teenoor diere. Hulle het hul onderwysers en ouers dikwels moedeloos.”

Ouers maak hulle nie noodwendig gewild by hul kinders wanneer hulle streng optree om destruktiewe gedrag te probeer hokslaan nie. “Maar jy is tot verantwoordelike ouerskap geroep,” sê Marietjie, “en nie om ’n gewildheidskompetisie te wen nie.

“Ons word geroep om ons kinders te leer om almal – mense, diere én God – te respekteer. Daarom kan ons dit nie waag om ‘gehoorsame ouers’ te word nie. Ons moet vroegtydig ingryp. Negatiewe gedragspatrone moenie kans kry om wortel te skiet nie.”

 

 Marietjie se raad aan ouers:

  • Wees opreg lief vir jou kinders en geniet hulle. Hulle moet gereeld hoor dat jy bly is dat juis jý hul mamma of pappa kan wees wat saam met hulle die lewenspad stap.
  • Gee duidelike, positiewe opdragte.
  • Wees jou kind se ondersteuner. Kinders het dit nodig om te hoor dat hulle die regte dinge doen en dat hul ouers tevrede met hul gedrag is.
  • Wees konsekwent. Dit verg dalk baie moeite en geduld, maar dit is nodig dat jy oor en oor dieselfde positiewe gedrag versterk en negatiewe gedrag afkeurend aanspreek. Besluit wat aanvaarbaar en onaanvaarbaar is en probeer daarby hou.
  • Skep “eerlike voorspelbaarheid”. Veral jonger kinders het hierdie vriendelike gelykmatigheid nodig om hulleself vir veranderinge te oriënteer.
  • Gee genoeg kans vir heerlike, uitbundige spel waar hulle sukses kan beleef – binne gesonde grense wat hulleself, die plante en diere en ander mense in hul omgewing beskerm!
  • Indien jy wonder oor moontlike hiperaktiwiteit of aandag-afleibare gedrag, moet jy hulp soek. Dit is ’n saak vir gekwalifiseerde medici – om te identifiseer én te behandel.
Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail