Sonder simbole verloor ʼn mens, en veral gelowiges, ’n spesiale soort verwondering. Ons word ontneem van dinge wat ons help onthou dat God goed is en op ’n spesiale manier by ons is. Ja, simbole kan ons lewens oneindig verryk.

Deur Ronell Bezuidenhout

Almal ken dit: Daardie “iets” wat jou aan “iets anders” laat dink. ’n Spesifieke reuk wat eensklaps ’n spesifieke ervaring oproep. ’n Stuk musiek wat onverwags vir ’n nostalgiese belewenis sorg. ’n Voorwerp of ’n plek wat, verrassend, jou oë vir iets méér en groter oopmaak.

In die Bybelse tyd was dit presies waaroor al die simbole en die gepaardgaande rituele gegaan het: Dit moes die gelowiges aan iets spesifieks herinner, hulle help onthou. Deurdat hulle van kleins af geleer is om met ander oë na bepaalde bekende verskynsels te kyk, is hul geloofslewe verryk en versterk.

 

’n Tjalie om in te bid

In Numeri 15:37-41 en Deuteronomium 22:12 word beskryf hoe die Israeliete se gebedstjalie gelyk het wat die mans (deesdae die Joodse vroue ook) om hul skouers moes dra wanneer hulle bid.

Dit was en is nie bloot ’n stuk versierde lap nie. Die tjalie om jou skouers omvou jou soos God jou omvou. Die klomp tossels aan die tjalie se rand was ook geen toevalligheid nie, inteendeel. Die tsietsiet – die Hebreeuse woord vir tossels – het in die manier waarop dit geknoop is die bidder aan al God se voorskrifte herinner.

Die tossels is soos vingers wat na God se wet wys en wat jou daaraan herinner dat jy daardie wet lééf.

Die gebedstjalie se kleure het ook ’n onderskeidende betekenis: die geweefde doek (tailit) is wit, wat die kleur van reinheid is; die spesifieke skakering koningsblou van die tossels verwys na die heilige teenwoordigheid van God.

Wanneer Jesus in sy bergpreek sê dat jy in jou kamer moet gaan en die deur toemaak en daar moet bid, dui die teks se Griekse woorde letterlik daarop dat jy in jou hangkas moet klim. Dat jy jou só moet afsonder.

Dit is inderdaad wat die gebedstjalie doen: Dit word jou “hangkas” waarbinne jy met die Heilige gesels.

 

’n Kleed en ’n mantel

Die voorskrifte oor die hoëpriester se kleed in Eksodus 28 en 39 slaan behoorlik die asem weg! Dit was niks minder nie as ’n kleed wat vir ’n koning geskik was. Dit moes die volk herinner aan die skoonheid en die eer van die God in wie se teenwoordigheid die hoëpriester was.

Dink jou in: Twee losgeweefde linne-lappe van goud, blou, pers en bloedrooi, wat met twee edelstene op die skouers vasgemaak word. Die name van die twaalf Israelstamme is hierop gegraveer, dit wil sê die mense vir wie die hoëpriester by God moes verteenwoordig.

Dan was daar ’n borssak met kettinkies wat uit suiwer goud gemaak is … en dan was daar nog goud, en nóg goud. En ringe wat uit goud gemaak is, en daar was hope edelgesteentes. Alles tot God se eer.

As dringende herinnering aan die heiligheid van God, moes daar waarskuwingsklokkies van suiwer goud aan die kleed se soom kom. En die tulband om die hoëpriester se kop is met ’n goudplaat vasgemaak, om hom en sy mense te herinner aan wie hulle behoort en wie met hulle ’n verbond gesluit het.

Elia se mantel wat in sy uittog hemel toe na die aarde val (vgl 2 Kon 2), is nog ’n voorbeeld van die simboliese rol wat amps­klere in ou-Israel se geloofslewe gespeel het. Dit was die einste mantel waarmee hy, en later sy opvolger Elisa, op die water geslaan het sodat dié water in twee verdeel en droë grond vir ’n deurgang gevorm het (vgl 2 Kon 2:8, 14).

Dit was boonop Elia se mantel wat die simbool was van Elisa se roeping as profeet (vgl 1 Kon 19:19). ’n Predikant of kerkleier dra ook ’n liturgiese kleed juis as simbool van sy of haar roeping.

Dit is dus geen verrassing nie dat die woord wat vir “mantel” gebruik word, of dan die roepingskleed, ook met “waardig”, “kragtig”, of “groots” vertaal kan word.

Wanneer die evangelieskrywer in Matteus 3:4 die doper Johannes se kleredrag beskryf, verwys die “klere van kameelhaar” ook na sy roeping as profeet.

Kerklike ampsdraers deur die eeue se liturgiese klere, ook predikante se togas, was nog altyd simbole wat gelowiges aan God se skoonheid en eer moes herinner.

 

’n Kruis en ’n boordjie

Sommige kerklikes, veral ook priesters en nonne in die Katolieke tradisie, dra ’n kruis om die nek om te wys wie hulle is. En party geestelikes, onder meer Anglikaanse priesters, dra ’n kenmerkende boordjie.

Wanneer sulke ampsdraers by ’n vertrek instap of by ’n bepaalde geleentheid optree, is daar geen verwarring of onsekerheid nie: Hierdie mens verteenwoordig Iemand Anders.

 

’n Plek

Plekke van aanbidding of ontmoeting word reeds vroeg in die Ou Testament beskryf. Dit is die spesiale ruimte waar God “woonplek” by mense kry.

Die bekendste hiervan was die tabernakel. Dit was vir die ou Israeliete die plek waar die daaglikse offers gebring is. Dit was ’n draagbare tent, reghoekig, gemaak uit geweefde gordyne en houtpale en verder getooi met die glans van goud en silwer en allerhande edelstene.

Die volk mag net aan die buitekant vergader het. Die tent is aan die binnekant in twee dele verdeel: die heilige en die allerheiligste. Net die hoëpriester mag die allerheiligste deel betree het, daar waar die ark van die verbond ook was.

Die ganse tent van ontmoeting is uiteindelik met ’n heining van die res van die kampstrukture afgegrens. Dit was dus dubbeld afgesonder. En dus dubbeld heilig.

 

  • Lees in Eksodus 25 tot 31 en hoofstukke 35 tot 40 presies hoe die tent van ontmoeting moes lyk.
  • Kyk by byvoorbeeld Levitikus 6 tot 9 om ’n idee te kry wat alles tydens die offerdiens gebeur het.
  • Nuwe-Testamentiese gelowiges word in die Hebreërbrief geleer dat Jesus self die allerheiligste vir ons toeganklik maak. En Paulus herinner die gemeente in Korinte daaraan dat daar nie meer ’n spesifieke plek nodig is waarheen ons moet gaan om God te ontmoet nie – óns is nou self daardie plek.

Ek het op ’n keer ’n paartjie getrou waartydens die begrip “tent van ontmoeting” vir my splinternuwe betekenis gekry het. Die bruidegom was ’n sogenaamde Messiaanse Jood en baie trots op sy Joodse identiteit. Daarom wou hulle in hul eie tent van ontmoeting trou (in Hebreeus huppah of chuppah, en in Afrikaans bloot vertaal as “tent” – Psalm 19:5 – of tent-afdakkie). Omdat ons tydens ons aardse reis niks meer as tentbewoners is nie, is hierdie stukkie tent of afdakkie die paartjie se nuwe, simboliese tentwoning.

Prakties werk dit só: Daar word ’n seildoek of selfs ’n gebedstjalie oor vier pale vasgemaak. So ’n huwelik word tradisioneel in die buitelug gevier; soms word daar selfs ’n blou lug-toneel op die seildoek of lap geverf. Die tentdakkie se oop kante simboliseer die gasvryheid wat aan almal betoon sal word wat die paartjie se pad mag kruis.

In die Christelike tradisie dien die hemelbed as so ’n simboliese tuiste. Die vier hoekpilare word partykeer as die vier hoeke van die aarde beskryf, en soms word daarna verwys as simbolies van die vier riviere wat die tuin van Eden omring het.

Hierdie simboliek weerspieël die lewe vol vreugde wat saam binne God se omvattende goedheid aangepak word.

Dit is nie net kledingstukke wat vir ons ’n heenwysing na God kan wees nie. Dit kan ook ’n vertrek in jou huis wees wat jy spesifiek inrig met daardie doel in gedagte. Dalk is daar ’n brandende kers wat wys dat hierdie plek vir jou heilige grond is.

Nee, dié plek is nie meer of minder heilig as die sitplek in jou motor nie; dit is bloot so dat jy hier doelbewus op God fokus.

Terwyl ek vir die skryf van hierdie artikel weer deur die Eksodusboek lees, besef ek dat die plek van ontmoeting uiteindelik ook maar soos my eie studeerkamer lyk. Daar is gewis nie soveel glans nie – daar is maar een kers in plaas van ’n swierige menora. En, nee, my lessenaar is nou nie juis ’n ware wierookaltaar nie, maar op ’n manier is dit tog vol herinnerings en heenwysings – foto’s, ’n kruis, ’n ikoon.

Dit alles maak dié eenvoudige vertrek my plek van ontmoeting.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail