Scott Wesley Brown het ’n liedjie gesing wat ’n glimlag op baie gesigte bring. Die woorde lui só:

Please don’t send me to Africa. I don’t think I’ve got what it takes; I’m just a man. I’m not a Tarzan. I don’t like lions, gorillas or snakes. I’ll serve you here in suburbia, in my comfortable middle class life … But please don’t send me out into the wild where the natives are restless at night …
Ons sê graag dat ons Jesus wil volg … maar dan wil ons dit op ons eie voorwaardes doen. Ons het ’n klomp redes – goeie, oortuigende redes – waarom ons Hom nie onvoorwaardelik volg nie.

Jare gelede het ons gesin die roeping ontvang om in die buiteland vir Jesus te gaan werk. Met groot erns het ons Hom vertel dat ons dit ongelukkig nie kan doen nie, omdat ons bejaarde ouers ons nodig het.

Buitendien het ons vriende ons dadelik vertel presies hoe onverantwoordelik dit sou wees om met twee klein kindertjies so ver weg te gaan. En hoekom wil ons al ons vooruitsigte hier in Suid-Afrika willens en wetens kelder?

Jesus het nie probeer om ons te oortuig nie. Hy hoef dit nie te doen nie; Hy laat ons kies – sonder om ons te verwyt. Maar ons het wel ernstig na sy wil gesoek en ons vrese en vleeslikheid aan Hom erken. En uiteindelik die knie voor Hom gebuig en positief op sy roeping geantwoord.

So is ons in 1997 in die middel van die Russiese winter na die Oekraïene. Vyf jaar lank het ons Hom daar gevolg. Dit het vir ons ryke seën gebring.

Sal jy Hom volg ten spyte van jou wonderlike argumente om dit nié te doen nie? Hier volg dan ’n klompie redes om Jesus met jou toekoms te vertrou:

  1. Die veiligste plek in die heelal is in Jesus. Bly in Hom. Al verloor jy alles, sal jy die ewige lewe beërwe. God is getrou en sal jou in sy boesem koester en beskerm.
  2. Jesus vra jou om jou “regte” aan Hom te gee. Hy weet wat dit is wat jou daarvan weerhou om Hom voluit te dien. Wanneer jy daardie regte prysgee, gee Hy dit aan jou terug – as ’n voorreg. Hy herrangskik jou prioriteite sodat jy in Hom kan groei.
  3. Die saad wat in die grond val en sterf, vermenigvuldig en bring baie vrugte voort. Jesus vra jou om jou vlees saam met Hom te kruisig en om saam met Hom in ’n nuwe lewe op te staan. Hy neem jou offer aan en maak jou tot ’n seën vir baie mense. Wat ’n eer en voorreg is dit nie!

 Lees saam

Jeremia 29:11 – God se planne is goed.

Johannes 12:24-26 – God vra jou om aan jouself te sterf sodat Hy jou kan gebruik.

Jesaja 43:1-21 – By God is daar veiligheid, seën en ’n roeping.

Bid saam

“Here, U is my God en my Verlosser. Ek wil U dien. Ek wil U volg. U ken my en U verstaan my vrese. U werk saggies met my, want U is my Vader. U gee ruim aan my, want U is my Voorsiener. Ek buig my knieë en my hart voor U. Wys my waar U werk, sodat ek U daar kan volg. Waar U is, is waar ek wil wees. Daar is geen lewe buite U nie. Hou my hand, Here, en lei my in u voetspore. Neem my lewe, Here, en gebruik my in u plan. Amen.”

 

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail