Jy kan nie ’n wonderwerk láát gebeur nie, het ek uit klein Isak van Hillbrow se storie geleer. Jy moet daarop wag.

Klein Isak van Hillbrow was baie opgewonde oor sy pa wat op parool vrygelaat sou word. Isak is ses jaar oud. Sy ma werk as ontkleedanser in ’n Hillbrow-klub, maar Isak weet nie dat dit nie die beste moontlike beroep is nie. Dikwels vra hy waarom sy ma so baie slaap, en waarom sy nie altyd met hom kan praat nie.

Ek weet Cindy is aan dwelms verslaaf. Dit maak dit vir haar moontlik om haar klere voor vreemde mans uit te trek, en ek weet Isak se pa is ’n gewoontemisdadiger wat vir onder meer diefstal in die tronk sit.

Dit was eers toe sy pa op parool vrygelaat is dat Isak op ’n dag baie hartseer word. Sien, sy ma het die heeltyd by sy pa oor ’n nuwe dubbelbed gekerm, want hulle almal slaap op matrassies op hulle woonstelletjie se vloer.

En ongeveer ’n week ná sy pa se vrylating, kom hy met ’n dubbelbedmatras by die woonstel aan. Hy en sy vriend Jerrie het dit al die pad deur Hillbrow se strate gesleep.

“Jy moan mos so oor ’n nuwe matras!” het hy vir sy vrou geskree. “Dé, hier is nou vir jou een!” En toe smyt hy dit sommer daar op die vloer neer en stap kombuis toe.

Gou-gou kom hy terug – met ’n lap en ’n emmer water in die hand, en hy begin om ’n groot rooi kol op die matras skoon te maak. Maar hoe hy ook al skrop, die rooi kol blý.

Isak se ma kom op die petalje af, en skrik. Sy gil: “Waar kom jy aan hierdie matras! Dis mos bloed daai!”

Eers sê Isak se pa niks, maar later vertel hy tog: “André het hom gister self in die kop geskiet terwyl hy dronk was, en ek het die matras vir ons gaan score.”

Isak se ma het geweier om op die matras te slaap, en sy het haar goed gevat en geloop. En só het Isak se pa maar op die matras met die bloedkol gaan lê, en meestal gelê en drink. Hy werk nie, hy hang net daar in Hillbrow se strate rond, hy en Hillbrow se ander kardiewe.

Isak kry by ons kos, klere en alles wat hy vir die skool nodig het. Terwyl hy vir ’n wonderwerk bid wat sy ma weer huis toe sal bring.

Smiddae ná skool gaan lê hy langs sy pa op die vuil matras, en hy vryf met sy klein handjie oor sy pa se growwe arm. Hy vertel aan sy maatjies dat hy tog net sy mamma ook wil hê.

Isak ken nie ’n beter lewe nie. Sy mamma en pappa sou vir hom genoeg wees … as hulle maar net al twee daar sou wees. En elke aand kniel hy op sy dun matrassie, en vra Jesus om asseblief tog sy mamma terug te bring.

Intussen dra ek kruideniersware en ander skenkings na hierdie woonstelletjie aan. Een aand is ek weer daar met iets vir hom, toe hy by die trappe af gehardloop kom en my omhels. “Kom kyk! Kom kyk!” gil hy opgewonde. Mamma is terug! Mamma is terug!”

En toe hoor ek die storie: Isak se pa kon dit later nie meer aanskou hoe sy kind elke liewe aand vir sy mamma se terugkeer bid nie, en toe het hy dronk-dronk na die ontkleeklub toe geloop en sy vrou belowe dat die bebloede matras sal waai – as sy net sal terugkom, al is dit net om klein Isak se ontwil.

En hier is sy terug. Ek en ’n LiG-leser bring vir klein Isak en sy ouers ’n dubbelbed.

Tot vandag toe is klein Isak van Hillbrow daarvan oortuig dat sy pa daardie bed by ’n meubelwinkel gekoop het, en dat ons dit net kom aflewer het.

Dit is maar reg so. Kinders moet aan hulle ouers bly glo. En aan wonderwerke.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail