Ek was ’n kind toe ek dit die eerste keer gehoor het. In ’n swembad, toe ek my kop onder die water gedruk het. Die stilte.

Dit het my mateloos gefassineer. As ek my kop weer boontoe gedruk het, bo die water se oppervlak, het die skerp klanke van my maats se gejil in my ore geklink. Dan duik ek weer af, en ná die eerste borrelrige klanke in my ore … het die stilte gekom.

Só het ek geleer hoe water klank kan demp, dit heeltemal kan wegneem. Hoe water jou met stilte kan omvou.

 

Ek het nog altyd van stilte gehou. Die verhaal van Elia wat God se fluisterstem in die windstilte gehoor het nadat hy Hom nie in die stormwind, die aardbewing of ’n vuur se gedruis kon hoor nie, is steeds een van my gunsteling-Bybelverhale (lees dit in 1 Konings 19).

Maar deesdae kry ek dit reg om my met ’n groot klomp geraas te omring: dit wat ’n slimfoon en Facebook en WhatsApp maak. En werk en stres en sperdatums. Kerkdinge, selgroepbyeenkomste en sport. Musiek. Lang kuiers om ’n etenstafel.

Dit is meestal ’n goeie geraas, ja. Maar dit verdryf nietemin daardie diep stilte waarin ek God kan hoor fluister.

Ons kan die lewe so vol dinge prop dat stilte vir ons naderhand vreemd word. Dat ons later bloot bó die water wil swem en plas en jil. En só loop ons die opwindende ontdekkings onder die water telkens mis.

Tog sing ons dikwels: “Wees stil en weet Ek is die Heer,” waarin ons Psalm 46:11 hoor eggo. Wees stil, sê die Psalmdigter, want eers dán hoor ons dat God die Heer is. Dat Hy die Magtige Een is. Die Redder. Die Een wat rus en vrede gee en wat storms in stilte verander.

Hoekom sal ons dit nie ’n keer daadwerklik beproef nie?

 

Om jou kop onder die water in te druk, is nie aldag maklik nie – veral nie as jy kinders moet grootmaak, ’n werk het, ’n huishouding moet bestuur en oor die algemeen ’n dag met duisend-dinge-om-te-doen beleef nie. As jou hele lewe ’n stryd is om kop bo water te hou nie.

Maar probeer dit ’n slag, hierdie indompeling. Om jou kop eensklaps diep in die water te druk, gaan jou wel dadelik benoud laat voel. Jou asemhaling word noodgedwonge anders. En jy word op ’n heel ander manier van jou sintuie bewus; jy kan byvoorbeeld skielik nie meer so goed sien nie.

Maar dan raak jy dit gewoond. Gouer as wat jy dink. En jy besef hoe nodig stilte is. Hoe nodig dit is om soms kop-onder-die-water te wees. Hoe jy só vir God kan hoor omdat jou gedagtes en bekommernisse verdring word, uitgedoof word. Deur die stilte afgewas word.

Hierdie LiG-uitgawe is aan stilte gewy. Ek hoop dat dit jou sal inspireer om in te duik. Dat dit jou dalk ’n praktiese idee of twee sal gee oor hoe om God se teenwoordigheid te gaan opsoek. Daar in die diep stilte, daar waar ons Vader sy kind met vrede seën.

Ja, wees stil, en weet: Hy ís die Heer.

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail