Om verlief te raak, is maklik. Om verlief te blý, nou ja … Hoe kry paartjies dit reg? Bestaan daar iewers ’n flatervrye resep vir ’n gelukkige huwelik? Het die gelukkiges dalk raad vir hulle wat sukkel, of vir dié wat wonder?

DEUR SUSAN GOOSEN

Suid-Afrika se egskeidingsyfer is skrikwekkend hoog. Dit het onder meer tot gevolg dat baie jongmense nie meer die huwelik-as-instelling vertrou nie en dus verkies om liefs nie tot daardie stap oor te gaan nie.

Is daar iemand wat hulle van die teendeel sal oortuig? Watter paartjie se huweliksverhaal getuig van soveel vreugde dat selfs die ergste twyfelaars twee keer sal dink voordat hulle die huwelik heeltemal afskryf?

En wie se storie blaker dit met genoeg oortuiging uit, selfs vir die ongelukkige sukkelaars: “Ná al die jare is ons steeds baie bly ons is met mekaar getroud!”?

 

Jak en Michelle

“Die huwelik leer ’n mens elke dag nuwe dinge,” vertel die sanger Jak de Priester. Hy en sy Michelle is nege jaar lank getroud.

“Jy leer van liefde, geduld, begroot, huis opsit, kinders grootmaak en vakansie hou,” vertel Jak. “Wanneer jy die dag trou, onderneem jy om hierdie pad saam te stap en hierdie uitdagings as ’n span aan te pak.

“Ons is gelowige mense. Ons lewe soos gelowiges, en ons maak ons kinders so groot. Ek en Michelle is oortuig van die waarde daarvan dat huweliksmaats se onderskeie geloofsoortuigings met mekaar ooreenstem.”

 

Malcolm en Michelle

“Ons liefde is vandag baie sterker en dieper as wat dit aan die begin was,” sê Malcolm Wight. Hy en sy vrou Michelle woon in Durban en is vanjaar 27 jaar lank getroud. “Ons het mekaar deur die jare heen régtig leer ken. En ons het geleer om saam te groei en mekaar ten volle te vertrou.”

Michelle sê: “Natuurlik moet, naas die liefde, ook die ander gestaltes van die vrug van die Gees (Gal 5:22-23) toenemend in jul lewe sigbaar word. Só verseker jy dat jul verhouding en jul lewe saam in ooreenstemming is met God se wil en plan vir julle.”

“Maar,” sê Malcolm, “ons bly twee individue, elkeen met ’n eie persoonlikheid en belangstellings. Ons doen baie dinge saam, maar elkeen gun die ander haar of sy eie belangstellings. En ons gee mekaar die ruimte om byvoorbeeld ’n eie stokperdjie te kan beoefen.”

 

Rina en Johan

Die bekende en geliefde Rina Hugo en haar Johan (van Rensburg) is in 1971 getroud. Rina vertel: “Ons het mekaar toe drie jaar lank geken en was smoorverlief op mekaar. Ons was daarvan oortuig dat ons mekaar goed genoeg ken om te trou.

“’n Paar jaar later het ons mekaar natuurlik baie beter geken, maar gelukkig het hierdie nuwe kennis ons liefde bloot versterk. Dit kon seker anders gewees het, maar dit was nie. Vandag voel dit asof hierdie liefdesband sterker is as ooit.

“Ons verstaan mekaar se onderskeie beroepe, en die een stel in die ander een s’n belang. Ons gun mekaar die ruimte om te doen waarvoor elkeen lief is. Dit is dan ook hiér waar ons verskille mekaar goed aanvul.”

 

Carike en Olaus

“Daar moet baie liefde wees, die soort liefde waarvan Paulus in 1 Korintiërs 13 praat.”

Só sê Carike Keuzenkamp. Sy en haar Olaus (van Zyl) is vanjaar 49 jaar lank getroud. “Daardie Bybelse beginsels wérk as jy dit toepas!” sê sy.

“Ons verhouding het deur die jare heen baie gegroei. Ons verstaan en aanvaar mekaar nou baie beter as in die begin en ons is baie liewer vir mekaar. Ons het ook baie meer afhanklik van mekaar geraak.

“Jy moet tyd en aandag aan jou verhouding bestee, gereeld daaraan werk en dit koester. En dankbaar wees vir al die genade wat jy ontvang. Praat met mekaar. Maak tyd vir mekaar en skep geleenthede waar julle alleen kan wees. Doen dinge saam waarvan julle albei sal hou. Ons hou van lees, reis, die natuur, stap, uiteet en teater.

“Natuurlik moet jy soms by jou maat se belangstellings aanpas en daarvoor ruimte maak. Deesdae kyk ek ook saam met Olaus na sport op die televisie, iets waarin ek nooit eintlik belang gestel het nie. En hy doen soms die inkopies!”

“Ons gedeelde geloof is die rots waarop ons huwelik gebou is,” vertel Carike. “Dit het onder meer ook verseker dat ons waardestelsels ooreenstem.

“En ons kan dit sáám doen. Ons gesamentlike geloofsbeoefening versterk beslis ons huwelik.”

 

Suzanne en Christo

Suzanne McDonald en haar man Christo woon in Hermanus. Hulle is vanjaar 42 jaar lank getroud.

Sy onthou steeds die teksgedeelte waarmee die predikant hulle in die huwelik bevestig het. “Dit was uit Filippense 2:3-5. Daar skryf Paulus: ‘Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n. Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was’” (1933/53-vertaling).

“Dit het ons wel ’n hele paar dekades geneem om dit regtig ter harte te neem!” lag sy. “Die grootste les wat ons geleer het, is om die knie te buig. Om bes te gee. Deesdae kies ons doelbewus om konflik met wedersydse begrip en ’n goeie skoot humor te hanteer.”

Dan is daar ook die netelige kwessie van die verlede …

Suzanne sê: “Elkeen moet eerlik wees oor sy of haar verlede, oor moontlike geraamtes in die kas, ook dié van elkeen se familie. Ek het al gesien hoe verraai mense voel wanneer hulle met ’n draai van ’n groot geheim hoor wat die maat nie bereid was om te verklap nie.”

“Dit is só belangrik dat huweliksmaats mekaar sal vertroetel,” sê Suzanne. “Liefdevolle aanraking is koesterend, dit bou intimiteit. Wanneer ons byvoorbeeld iewers heen ry, het my hand ’n spesiale plek op Christo se been. En saans raak hy steeds met sy hand op my heup aan die slaap.

“En natuurlik is dit belangrik om jou liefde en waardering gereeld uit te spreek. Jou maat moet weet hoe kosbaar hy of sy vir jou is. Konflik is onvermydelik, maar ’n sagte woord of ’n drukkie kan baie doen om die spanning te verlig, en uiteindelik heeltemal te breek.”

 

Bertus en Cathrie

Cathrie van Zyl en haar man Bertus is 15 jaar lank getroud en hulle woon in Hermanus. Cathrie sê: “Die lewe en alles wat regtig saak maak, draai nie om jou en jou eie belange nie. Ons is ’n span. Ek en Bertus het geleer dat dit alles gaan oor dit wat vir die span goed en reg is.

“Jy moet dus doelbewus fokus op dit wat goed en reg is vir jou huwelik, eerder as op watter party nou eintlik ‘die wenner’ is. En julle moet mekaar ten volle kan vergewe, sonder om ’n wrok te koester omdat jy sogenaamd te na gekom is.

“Hiermee saam is dit belangrik om aannames te vermy, om eerlik te kommunikeer. Ons is baie bevoorreg daarin dat ons ’n gesonde grondslag het. Ons was en is steeds mekaar se beste maats. Ons kon nog altyd ’n hond uit ’n bos gesels!”

“Uiteindelik is die beste raad wat ek oor die huwelik gekry het,” vertel Cathrie, “om goed vir mekaar te wees. Dit sluit só baie dinge in … Doen byvoorbeeld moeite om saam pret te hê, om mekaar te versorg en om mooi herinneringe te skep.

“En ons dien dieselfde Jesus. Ons wil Hom graag eer en daarom staan ons onder sy gesag. Dit was van die begin af so. Dít is net genade, en dit is ons geheim.”

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail