Sterre skyn nie net teen die naghemel nie, of op ’n verhoog of die silwerdoek nie. Daar is blink sterre onder ons wat met hul voete in dieselfde stof as ons staan. Hulle is dromers én doeners, hulle glo hulle is deur God in diens geneem om te skyn waar hulle ook al kom.

Deur Conette le Roux

“Die wêreld skuld jou niks” – Siena Charles

“Wanneer ek hier in ons gemeenskap rondloop, sien ek oral vroue wat in die son sit. Sonder hoop. Dan sê ek vir hulle: ‘Haal af die swirl-kous! Kam jul hare uit en begin die dag!’”

Só praat Siena Charles (58) van Kylemore, net buite Stellenbosch. Ons gesels by haar huis, wat ook by toeriste as die Beker en Bord-teetuin bekend staan.

Oral lê daar interessanthede rond wat sy by ’n ashoop opgetel het – ou skoene waarin daar vetplante groei, tikmasjiene wat tussen die plante kop uitsteek, CD’s wat aan boomtakke hang.

“Dit help nie jy sit en wag nie,” deel sy haar vaste oortuiging. “Jy moet begin dink wat jy kan doen om jou omstandighede te verbeter. Die wêreld skuld jou niks.”

En sy weet waarvan sy praat. Van almal, is sy een wat maar kón boedel oorgee. Sommer toe sy nog jonk was. Sy het immers net tot by die destydse standerd een skoolgegaan. Sy kon nooit ’n geboortesertifikaat wys nie, en boonop was haar ma ’n alkoholis. Niemand het omgegee nie.

“Behalwe my ouma,” vertel Siena vandag. “Sy het my grootgemaak, sy was vir my ’n voorbeeld. Sy het aanhou probeer dat die skool my tóg toelaat; hulle wou nie.”

Toe is sy Kaap toe om as kinderoppasser vir ’n Moslemgesin te gaan werk. Sy was twaalf jaar oud.

“Daardie volgende jaar het ek teruggekom en op een van die plase hier in Kylemore kom werk. In die wingerde en die pakstoor. Ek het selfs ’n ruk skottelgoed gewas by ’n restaurant in Stellenbosch. Toe kom ek maar weer terug.”

Maar plaaswerk is seisoengebonde – en een wintersdag in 2003 het Siena net ’n pakkie boontjies in haar koskas gehad. Haar man was baie siek, hy kon ook nie werk nie.

Sy vertel: “Ek het my trots in my sak gesteek en by my buurvrou gaan vra of dié dan nie vir my ’n paar bestanddele vir sop het nie. Dit was nie lank nie toe kom sy daar aan, met groente én vleis. Ek het gedink: Nou het ek lunch én supper vir my gesin!”

Maar toe kom klop daar kindertjies aan haar deur, twaalf van hulle. Vra ’n stukkie brood. Hulle weet tannie Siena help altyd. “En dít was die dag,” vertel Siena. “Ek het die sop tussen ons almal gedeel. Én ek het besluit ek moet iets vir Kylemore se honger mense doen.”

Iewers moes haar hulp vandaan kom …

Die Voedingsaksie, ’n voedingskema wat in Stellenbosch bedryf word, help al jare. En sedert 2003 bestuur Siena die sopkombuis vanuit ’n gemeenskapsaal. Drie dae per week voorsien hulle kos aan honger mense.

Dit was ook in dié tyd dat sy begin het om braaikaartjies te verkoop. Só ’n kaartjie gee jou toegang tot Skoolstraat 39 – en tot ’n lekker bord kos. Vis en slaai, wors en pap.

Later het die Beker en Bord-teetuin sy opwagting gemaak. En dié eetplek is deesdae by die Dwarsrivier-toerismekantoor geregistreer. Hier daag gereeld groepe toeriste op om by haar aan te sit.

Wat sit sy vir hulle voor?

“Sommer kos uit die goeie ou dae! Soetpatats, groenboontjies, hoenderpastei, en so aan. Hier was al Germans, mense uit Johannesburg, uit Namibië, uit Thailand. Selfs die minister van toerisme was vroeër vanjaar hier! As jy hiernatoe kom, is jy my familie.”

Ons sit en kyk na die mense wat verby haar huis stap. Siena sê: “Gelukkig is dit nou weer somer. In die winter is daar nie werk op die plase nie …”

Met dié vertel sy van die projek wat sy in 2012 aangepak het. “Spesiaal vir vroue wat moedeloos voel. Hulle moes net één keer spesiaal voel. Uit die modder kom waarin ek so lank gelê het.

“Baie van hulle het nooit ’n rêrige
troue gehad nie – en dit is tog ons almal se droom van kleins af. Ek roep toe van die vroue bymekaar en sê vir hulle: ‘Julle gaan trou! Rêrig trou.’

“Toe sorg ek vir iemand wat hulle kan grimeer, hulle moes net self vir die rok sorg. En toe hou ons ’n onthaal in die gemeenskapsaal. Ek het sponsors vir die kos gekry.

“Jy moes gesien het hoe mooi het hulle gelyk – en hét ons foto’s geneem!”

Eensklaps word sy ernstig. Somber, selfs. “Ek kan nie die vroue máák verander nie,” sê sy. “Ek kan nie vir hulle sê om minder te drink nie. Of hulle beveel om nie heeldag buite in hul nagklere rond te sit nie.

“Hulle moet sélf daardie besluit neem.”

 

“Ons veilige plek …” – Hennie en Katie van Loggerenberg

“Ek wou nooit ’n sendeling word nie. Sendelinge is arm, en die mense vergeet maklik van hulle!”

Hennie van Loggerenberg lag. Hierdie 43-jarige Wellingtonner werk reeds 18 jaar lank saam met sy vrou Katie vir World Mission Centre, ’n organisasie wat wêreldwyd evangelisasieprogramme aanbied.

Dit het alles by ’n ontmoeting tydens ’n selgroepbyeenkoms begin, en toe gaan woon hulle World Mission Centre se sendingskool by. En in 2004, jonk getroud, verruil hulle sonnige Suid-Afrika vir die Oekraïne, waar die temperatuur gereeld tot onder vriespunt daal.

Aanvanklik het hulle bloot gegaan om die taal aan te leer en om iets van die kultuur wys te word, om verhoudings met kerkleiers te bou. Uiteindelik bly hulle agt jaar lank daar en help stig aan talle sendingskole.

“Die Russiessprekende wêreld gaan onder erge armoede gebuk,” vertel die twee sendelinge. “En sendingskole help met opleiding, veral op die bitter arm platteland.”

In 2012 moes hulle noodgedwonge na Suid-Afrika toe terugkeer. “Ons visums is nie hernu nie.”

En, vertel Katie, sy was ook die laaste klompie jare daar baie eensaam. “Daar was niemand meer oor wat ons geken het nie, en die taalprobleem het tot gevolg dat vriendskappe met die plaaslike mense ’n onmoontlikheid is.”

Daar was nóg ’n rede: “Dit was ons droom om kinders aan te neem …” En vandag is Nina (5) en Milo (3) deel van die Van Loggerenberg-gesin.

Tans fokus Katie hoofsaaklik op die twee kinders se tuisskoling. “Maar ek help nog met die organisasie se administratiewe werk. Hennie lê gereeld besoek in die Oekraïne af, hy help steeds met opleiding en om kerkleiers toe te rus en hulle te ondersteun.”

Die Here se wil. Dit, sê Hennie en Katie, is hul veilige plek.

“Dit is een van twee lesse wat ons destyds in die Oekraïne geleer het. Die tweede een is dat ons tevrede moet wees met dit wat die Here aan ons voorsien.”

Dit is nie altyd maklik nie, sê hulle. “Ons vergoeding is hoofsaaklik uit donasies afkomstig, en sommige maande gaan dit swaar. Maar ons probeer onthou wat werklik belangrik in hierdie lewe is, en dan maak ons die beste van wat ons het. God het nog altyd gesorg.”

Tydens hul verblyf in die Oekraïne het Katie ’n graad in opvoedkunde deur Unisa verwerf. Deesdae kry sy gereeld afloswerk by skole in hul omgewing.

Hennie is, benewens sy vaardigheid as skeppende kunstenaar, ook ’n kranige fotograaf. Oral in hul huis pryk foto’s wat hy geneem het, en van sy houtskooltekeninge.

“Die belangrikste is dat ons hele lewe van die evangelie getuig,” sê hulle. “En ons wil by die sending betrokke bly, solank die Here ons daar wil hê.”

 

’n Steil reis na vryheid – Michelle Lemmer

Michelle Lemmer (35) vertel dat sy met ’n groot avontuurlus gebore is. “Ek het van kleins af vir almal vertel ek gaan eendag Mars toe én ek gaan die hoogste berg klim.”

Maar toe, soos dit maar is, gebeur die lewe met haar. En haar hunkering het met verloop van tyd in die vergetelheid versink.

In 2009 ontmoet sy vir Las Lemmer. Op die plek vra hy haar om met hom te trou, en vier maande later is dit toe so.

En dit was die begin van ’n Afrika-avontuur. Uit die aard van Las se werk as ’n projekbestuurder by groot bouprojekte het hulle in Zambië en in Lesotho gewoon. Toe drie jaar lank in Namibië, en ’n jaar lank in Kenia.

Dit was ’n soort nuwe begin vir hierdie ma van Isaï (5) en Sia (4). Want te midde van voltydse mawees by hul huis in Irene, Pretoria, het die lokstem van ’n nuwe avontuur weer na haar gekom.

Hierdie keer was daar egter iets by. “Ek het gevoel mý storie moet, op ’n manier, ook vir God verheerlik,” vertel sy.

En dan vertel sy sommer ook van die trauma wat sy vier jaar gelede beleef het. Hoe sy die Here om uitkoms gesmeek het. Nagte deur gebid het – en toe, op ’n keer, gehoor het hoe Hy vir haar sê: “Ek het almal ewe lief.”

Daardie nag het sy aan Hom beloof: “Ek sal ’n stem wees vir dié wat nie namens hulleself kan praat nie.”

Toe begin die dinge gebéúr: ’n Bybelstudiemaat vertel haar dat sy die Alpe gaan klim as deel van die Freedom Challenge, ’n internasionale beweging met passievolle vroue wat geld insamel en ’n bewustheid van mensehandel skep.

Dadelik was Michelle die ene ore. Toe gaan soek sy na meer besonderhede oor Freedom Challenge – en vind hul motto: “A voice for the voiceless.”

Woordeliks haar belofte aan die Here, daardie een lang, donker nag …

Vroeg in 2017 word haar besluit geneem, en só het sy een van 38 vroue van regoor die wêreld geword wat vyf dae lank die Salkantay-roete in Peru aanpak.

“Ek moes hard oefen om fiks genoeg te word,” vertel sy. En dan was daar boonop die geldkwessie. “Ook hier het God gesorg. Kyk, my grootste vrees was nog altyd om vir iemand iets te vra, maar nou het ek geleer om te aanvaar as iemand vir jou gee. Ek het besef ons is vir mekaar gegee om mekaar te help.”

Só is sy gehelp: “Iemand wat anoniem wil bly, het my vliegtuigkaartjie gekoop. En nog iemand het R12 000 se toerusting geborg.”

Sy het egter nie agteroor bly sit nie. Daar was ’n vroue-oggend, ’n wedloop en verskeie donasies. En só is daar ’n groot bedrag ingesamel wat in die stryd teen mensehandel gebruik gaan word.

“Die Freedom Challenge het my gehelp om betekenis en ’n doel in my lewe te verkry. En ek het só baie hieruit geleer. Ek het byvoorbeeld besef dat ons drome ‘God-sized’ moet wees. Ek het geleer dat hoe meer jy gee en help, hoe meer ontvang jy terug. Ek het geleer God se genade is verniet.

“Ek het ook geleer dat die lewe eintlik ’n reeks berge is wat geklim moet word …

“Op die klimtog in Peru gaan ons deurentyd bid vir vroue en kinders wat in mensehandel vasgevang is. Dié vyf dae se swaarkry simboliseer op ’n manier ook die mense in hierdie moderne soort slawerny se lang pad na vryheid.

“Maar hierdie uitdaging is net die begin van my nuwe pad. Uiteindelik gaan ek dus ook vir myself bid. Vir hoe my pad vorentoe moet lyk.”

Besoek www.thefreedomchallenge.com vir meer inligting.

 

“Droom gróót!” – Joniël Jordaan

Joniël Jordaan (18) is ’n graad 12-leerder in Moreletapark, Pretoria. Hy was nege jaar oud toe hy die eerste keer ’n sokkerwedstryd op TV gesien het.

“Ek onthou nog elke detail van daardie wedstryd en al die asemrowende doele wat aangeteken is,” vertel hy. “Net daar het dit my droom geword om sokker te speel. Geen ander sport het my hoender­vleis gegee soos sokker dit gedoen het nie. Dit het ’n deel van my lewe geword wat ek vir niks sal opgee nie.”

Hy was 11 toe hy vir ’n plaaslike klub begin sokker speel het – en toe nogal die wind van voor gekry het. Nie almal by sy skool was ingenome met sy sokkerspelery nie. “Rugby is die sport om te speel as jy in ’n Afrikaanse skool is,” vertel Joniël.

“En aanvanklik wás daar maar pro­bleme: Ek word gevra om ’n rugbywedstryd te speel, en as ek dan verduidelik dat ek daardie naweek sokker vir my klub speel, is daar moeilikheid. Ek is selfs allerlei dinge toegesnou. Deesdae gaan dit darem beter …”

Met blink oë vertel hy hoe hy alles in sy vermoë doen om fiks te bly, en hoe hard hy aan sy vaardighede met die ronde bal werk. “Ons het nie gras by ons huis nie. Buitendien sit die huis teen ’n bult. Ek speel in die strate, ek skop die bal teen ’n muur. Ek draf teen die steiltes uit.”

En vanjaar het hierdie soort toewyding begin vrug dra. Hy is vir die Future 500-toernooi in Amerika gekies, waar hy een van 400 spelers was wat van oor die hele wêreld gekom het. By dié toernooi word dié jong spelers goed deurgekyk met die oog op sportbeurse in die VSA.

En twee weke ná die toernooi kom die uitnodiging vir aanstaande jaar – Almira College in New York. Maar toe moes die Amerikaners uitvind Joniël moet nog sy skoolloopbaan voltooi. En geld is ook ’n kwessie …

Ten spyte van dié teleurstelling, vertel Joniël entoesiasties oor die interessante mense wat hy tydens die Future 500 ontmoet het. “My kamermaat was ’n tiener uit Egipte, ’n Moslem. Seiv het my gevra of ek sou omgee as hy gereeld bid.

“Ek het gesê dat hy enige tyd kan bid – as hy nie omgee dat ek dieselfde doen nie. So was dit toe: Elke oggend en aand het hy op sy bidmatjie gekniel, en ek voor my bed.”

 

Toe kom daar nóg ’n grote: Joniël word deur Kaizer Chiefs genader om by hul onder 19-span te kom oefen. Elke weeksmiddag tussen 16:00 en 19:00 in Soweto.

“Ek kan nie wag vir my eerste wedstryd vir Chiefs nie!” vertel hy.

Joniël sê daar is drie dinge wat hom laat beter voel wanneer dinge moeilik gaan, of wanneer hy voor uitdagings te staan kom: “Om sokker te speel; om by my ouers, Joggie en Ester, te wees; om tyd saam met God te spandeer.

“My geloof is vir my baie, baie belangrik,” vertel hy. “God maak alles beter. Sonder sy genade en my ouers se ondersteuning sou ek nooit iets bereik het nie. God seën my elke dag.”

Het hy raad vir ander tieners wat, soos hy, groot drome droom?

“As jy ’n droom het en jy vind uit jy kan dit maklik bereik, droom jy nie groot genoeg nie. Jy droom groot genoeg sodra jy agterkom dat dit opofferings gaan vra.”

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail