Woorde kan genees; dit kan helaas ook vernietig. Daar is ’n hele klomp bekende vroue wat eerstehands hiervan kan getuig. Hulle is mense wat woorde op en in hul hart dra. Waar kom hierdie liefde vandaan? wou LiG by hulle weet.

Deur Conette le Roux

Woorde kan ’n helende krag in die samelewing uitoefen.” Só sê prof Dorothea van Zyl, stigter van die US Woordfees, selferkende woordliefhebber en jare lange dosent in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit Stellenbosch.

“Maar die teendeel is helaas ook waar,” sê sy. “Nie alle woorde maak die wêreld ’n beter plek nie. Kwetsende aanmerkings wat byvoorbeeld in die sosiale media voorkom, maak ons deesdae baie bewus van die negatiewe uitwerking wat woorde kan hê. Ek glo egter in die waarheid wat die Spreukedigter ons leer: ‘Wat is beter as die regte woord op die regte tyd?’” (Spr 15:23).

Dorothea sê haar liefde vir woorde kom van haar ma en pa af. Sy was bevoorreg, vertel sy, om groot te word met stories en met gesprekke oor woorde.

En die mooiste woorde wat ooit aan haar gesê is?

“As jong, onvolwasse studentjie het ek aanvanklik gedink Wium – nou reeds 43 jaar lank my man – is te kort vir my. Maar een van sy eerste gediggies het my heeltemal oorrompel. Dit lui onder meer só:

jy slaap alleen en onbewus
maar in die nanag rank
die geur van kanferfoelie
om die letters van jou naam

 

Dorothea sê sy is sentimenteel oor mooi woorde. “Daarom beskik ek byvoorbeeld oor ’n hele woord-spensie vir vaal dae. Dit bestaan uit terugvoering van studente, uit Moedersdagkaartjies, en uit vele woorde wat ek in my laai en in my hart bewaar”.

 

Ruda Landman het 19 jaar lank elke Sondagaand in Suid-Afrikaanse sitkamers gekuier. Die aktualiteitsprogram Carte Blanche was die plek waar sy nooit geskroom het om ongemaklike vrae te vra nie. Maar, sê sy, sy glo daaraan dat ’n mens jou woorde versigtig moet kies.

“Woorde maak saak,” sê Ruda. “Dit maak ’n impak. As jy behoorlik nadink oor hoe jy ’n bepaalde onderwerp by ’n spesifieke persoon gaan aanroer, sal jy waarskynlik baie regkry. Die teenoorgestelde is natuurlik ook waar: Ondeurdagte woorde kan jou eie idees en planne in die hek laat duik. Dit kan ander mense ontstel en seermaak. En ongelukkig kan jy nie ’n spraakborrel eet nie – as hy eers uit jou mond uit is, is hy uit.”

Ruda vertel van die mense wie se woorde haar steeds bybly. “Soos die destydse aartsbiskop Desmond Tutu s’n
in 1992: ‘How could we’ve been so stupid
for so long?’

“Eenvoudig, reguit – en dit vat alles presies vas. Daar was ook woorde van die prima ballerina, dame Margot Fonteyn, wat deur my loopbaan vir my baie beteken het. Sy het gesê: “Die een belangrike ding wat ek deur die jare geleer het was om die verskil te onderskei tussen om my beroep ernstig op te neem en om myself ernstig op te neem. Die een is noodsaaklik, die ander is rampspoedig.”

In ’n boek wat onlangs uit Ruda se pen verskyn het, Tell me your story (Tafelberg-uitgewers), het sy ’n klomp gesprekke wat sy met mense gevoer het op skrif gestel. Ter wille van ’n nog groter gehoor. Hier vertel sy, onder meer, die stories van sanger Arno Carstens en satirikus Pieter-Dirk Uys, asook dié van “Mam ‘Khanyi” wat haar oor weeskinders en straatkinders in Johannesburg ontferm.

In die boek fokus Ruda spesifiek op dit wat hulle oor hul lewenskeuses gesê het, en oor hoe verandering hulle beïnvloed het.

 

Hanneke Schutte, draaiboekskrywer van Linden, Johannesburg, en regisseur van die onlangse fliek Meerkat maantuig, sê: “Dit is vir my belangrik dat my draaiboeke mense laat dink. Ek spreek temas aan wat my persoonlik raak, soos hoe om jou vrese te oorkom. Ek dink flieks kan ’n positiewe invloed op kykers se lewe hê. Dit is ook ’n platform van waar jy na baie mense kan uitreik.”

Die magiese fliek Meerkat maantuig speel in die mooi woude van Magoebaskloof af, en hier moet die 11-jarige hoofkarakter met ’n vervloekte naam saamleef.

Hanneke sê sy wou met die fliek ’n sentrale tema verken: hoe ons vrees oorkom en ons persoonlike verhaal herskryf deur die moed aan die dag te lê om ons monsters in die gesig te staar – in plaas daarvan om weg te hardloop. “Ek wou die idee verken dat ’n vloek net ’n storie is wat jy jouself vertel.”

Haar volgende draaiboek, Die gedig, is byna voltooi. Hieroor verklap sy: “Dalk is dit ’n tranetrekker wat mense sal laat dink …”

 

Die bekroonde kinderboekskrywer Wendy Maartens sê sy beskou haarself as ’n draer van woorde. Haar groot passie is ons land se volksverhale, legendes, ware verhale en volksrympies.

“Ek glo dat kinders wat weet waar hul wortels lê en wat hul mense se stories ken, nie deur ander tale, kulture of gebruike bedreig sal voel nie. En daarom in staat sal wees om onvoorwaardelik uit te reik.

“Ek werk baie hard daaraan om ou, vergete verhale te soek,” sê Wendy. “Om dit dan te herskryf. Ek is ook gedurig op die uitkyk vir nuusgebeure wat legendes- of volksverhale-in-wording is.”

Só het Kaptein Seeley: Kimberley se waterwoef (Naledi) op die rakke verskyn. Die verhaal is ontleen aan die gebeure in 2013 toe ’n hond in Kimberley se Groot Gat geval en dit oorleef het. Dié storie het die ganse land aangegryp. Die sanger Kurt Darren het byvoorbeeld aangebied om vir die helikopter te betaal wat nodig was om die hond te red. Kaptein John Seeley van die SAPD kon dit uiteindelik regkry. Hy het die hond toe ook aangeneem.

Vir dié woordmens is woorde nie bloot dooie letters op papier nie. “Dit lééf, en dit het ’n spesifieke tyd, plek en rede om te gebeur,” sê Wendy. “Net soos ons. Ek sien gereeld dat ’n storie net eenvoudig nie werk nie. Nie voordat die tyd reg is en ’n klomp faktore op die regte plek
is nie.

“Die wonderlike hiervan is dat dit deur geen mensekind bepaal word nie. Vir my is dit een van die mees gerusstellende dinge op hierdie ganse aarde. Johannes begin nie sy Evangelie verniet só nie: ‘In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God …’ (Joh 1:1).

“In die Amassalik Eskimotaal is die woord vir ‘om asem te haal’ ook die woord vir ‘om te dig’. Ons is God se ‘poetry’ en ons is bedoel om ‘poetry’ te leef.”

Wendy vertel hoe die liefde vir woorde in haar bloed is. “Ek kom uit ’n familie wat behoorlik woordbetotteld is. My oupa Jan het vir ons al die volksrympies geleer, ook die ongure Nederlandse weergawes – tot my ouma se ontsteltenis! Ek onthou ook hoe hy Latynse frases uit sy hoërskooldae opgesê het. Dit was destyds die mooiste woorde wat ek nóg gehoor het!”

Uiteindelik is woorde en stilte vir Wendy ewe belangrik. “Jy kan woorde nie waardeer as jy nie stilte kan waardeer nie. Ons weet tog woorde se betekenis lê veel dieper as bloot die grammatika of semantiek daaraan. Wanneer jy ’n woord sê, veral ’n ou woord, word jy vanself die instrument waardeur geslagte se ervarings gekanaliseer word.

“Daarom is oënskynlik eenvoudige woorde soos sout, water, berg, vuur, grond, see, myns insiens sulke gelaaide woorde. Gelaai met duisende jare se lief, leed en versugtinge. Elke keer wanneer ek of jy dit sê, voeg ons net nóg waarde daaraan toe en stuur ons die woord verder op sy pad. Daarom verdien elke woord wat oor ons lippe gaan ons respek.

“Ek koester ’n versugting dat ons, van nuuts af aan, spaarsamig met woorde sal omgaan. Nie net dié wat ons sê of lees nie, maar ook dié wat ons toelaat om ons gedagtes binne te dring.”

 

Ester Jordaan van Pretoria is reeds die afgelope 25 jaar lank ’n onderwyser. Sy sê: “Ek het gevind dat ’n ondeurdagte woord in die klaskamer kan afbreek, en dat ’n sagte woord hoop bring.

“Al is ek ’n taalonderwyser en gesteld op grammatika, spelling en leestekens, is die gevoel wat met woorde oorgedra word – die konnotasies daaraan verbonde – die belangrikste.” Sy vertel hoe sy in haar storm-en-drang jare soms dinge gesê het waaroor sy vandag spyt is. Hoe sy woorde eintlik as ’n wapen gebruik het. “Ondeurdagte woorde,” sê sy, “en as gevolg daarvan het ek jong mense beledig en myself verneder.

“Net een afbrekende woord kan ’n kind laat ontspoor. Wat weet ons byvoorbeeld van die konflik by die huis? Aan die ander kant kan ’n sagte woord of kompliment ’n kind hoop gee. Woorde moet lewe gee …”

Ester sê: “Mense takseer jou nie net op jou voorkoms nie. Dit wat jy uiter, is die indruk wat jy by ander skep.”

Daarom lê Spreuke 18:20-21 haar baie na aan die hart. Dit lui só: “Deur die regte woorde te gebruik, kan ’n mens sy honger stil, hy kan genoeg kry om te eet deur wat hy sê. Die tong het mag oor dood en lewe; dié wat lief is om te praat, sal die gevolg dra.”

 

Adèle Fouché, hoofsanger van die rockgroep “Saarkie”, skryf self die lirieke van die liedjies wat sy sing. Dié groep is onlangs met ’n Ghoema bekroon, spesifiek vir hul album Queen van die toorbos.

Maar woorde het nie altyd maklik uit haar pen gevloei nie, vertel sy. “Ek het op skool met opstelle gesukkel. My spelling en my tydvorme was áltyd verkeerd!

“Maar toe kom musiek in my lewe in, en dit het die woorde lewendig gemaak. Liedjieskryf was veel makliker as opstelle skryf. Ek het daarmee begin toe ek 14 jaar oud was.

“Ek skryf graag saam met die ander lede in die groep, veral Mjön van Blommestein. Dit help my om nóg ’n mening te kan hoor.”

Haar gunstelingliedjie?

Suidwes-Afrika. Ek het dit geskryf nadat ek en ’n klompie vriende in die Visrivier-canyon gaan stap het. Drie van die vriende het ‘weggeraak’ en is eers ná drie dae gevind. Hulle het by die dood omgedraai. Dit is waar dié liedjie vandaan kom.”

 

Adèle sê sy hoop haar liedjies maak      iewers ’n impak. “Ek skryf oor dinge wat my pla, dit wat my gelukkig maak, en dié dinge waaroor ek wonder. Ek reken almal kan hulle op die een of ander manier daarmee vereenselwig. Almal ken tog struikelblokke in hul lewe, en almal weet van die dinge wat hulle gelukkig maak.

“Dalk is daar mense wat deur my liedjies die hoop vind waarna hulle gesoek het.”

 

“Blykbaar praat vroue dubbel soveel soos mans,” lag ds Marlize Malherbe, ’n predikant in Richardsbaai. “Daarom moet ons dubbel so versigtig wees!

“Dit is ’n feit,” sê sy, nou doodernstig, “woorde is lewend en dit is kragtig. Ons kan die wonderlikste dinge met ons woorde doen. Ons kan mense daarmee prys, ons kan daarmee vriendelik wees. Ons kan almal wat ons elke dag teëkom met ons woorde seën.

“Ons woorde kan egter ook ander mense afbreek. Ja, jy kan selfs sê dat jy met woorde kan moor. Jy kan jou kind se entoesiasme of iemand anders se idees met negatiewe woorde nekomdraai.

“My ma het my geleer dat jy eerder stilbly as jy nie iets moois het om te sê nie.

“Die slegte ding van woorde is dat dit iewers in ’n mens se hart gaan sit. Dikwels is die blou kolle wat ons op mense laat aan hul binnekant …”

Marlize se gunstelingwoorde in die Woord?

“Lukas 15 – die gelykenis van die verlore seun. Dit is die bewys dat ons vandag kan besluit om ons woorde vir altyd te verander. Dit is ’n wonderlike verhaal van God as Pa. Hoe God se kinders kán omdraai en terugkom. Hoe hul Pa met oop arms staan en wag.

“Dit is ’n verhaal vol hoop. Dit wys dat God se genade, vergifnis en liefde veel verder as ons foute of verkeerde keuses reik.”

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail