As jy alles bymekaar tel, het hulle byna 100 albums uitgereik. Hulle spog met arms vol toekennings. En steeds maak hulle die musiek wat hulle oor dekades heen geliefd gemaak het.

LiG wou by die drie geliefde sangeresse weet wie hulle inspireer, en wie dit was wat hulle arms omhoog gehou het terwyl hulle ’n plek in ons hart losgesing het – te midde van (en dikwels ten spyte van) die lewe se kronkels en draaie.

Sonja Herholdt

‘Dié wat op die Here wag …’

Ek verlang na jou het in 1974 van Sonja feitlik oornag ’n sensasie gemaak, en gelei tot die eerste van talle albums en verskeie toekennings. Maar saam met die roem moes Sonja (nou 63) ook ’n groot kwota persoonlike hartseer verwerk.

In haar biografie Sonja: meisie van Nigel wat in 2007 verskyn het, skryf sy openhartig oor haar huweliksprobleme en uiteindelike egskeiding, en oor haar jongste kind, Timothy, wat as tweejarige ná ’n siekte doof geword het. Én oor die aborsie wat sy in 1978 ondergaan het, waaroor sy steeds berou het.

Sonja was nog altyd openlik oor die rol wat geloof in haar lewe gespeel het, en ook in haar emosionele oorlewing. “Ek het nog altyd geglo wat in Psalm 37:23 staan: ‘Die voetstappe van die regverdige word deur die Here gerig.’ Want net dán maak my paadjie op aarde sin.

“Daarom was my gebed aan God nog altyd die woorde in Psalm 17:5. Dit lui só: ‘Hold up my goings in your paths so that my foot slips not.’

 

Carike Keuzenkamp

‘Die lewe is ’n lied’

Ons gesels op haar 69ste verjaarsdag – ’n dol dag, vol oproepe van oraloor en met vriende wat kom inloer. Die vorige dag het sy boonop weer ’n keer ouma geword. Vir die borrelende Carike is die lewe steeds ’n lied, al moes sy reeds twee maal in haar lewe teen borskanker stry.

Sy vertel: “My man, Olaus, met wie ek vanjaar 48 jaar lank getroud is, was nog altyd dáár vir my. Ek en hy is getroud toe hy nog Tukkies se SR-voorsitter was, en met hom aan my sy kon ek altyd my drome uitleef. Olaus, ons drie kinders, my suster en broer en my oorlede ouers was deur die jare heen my ondersteuningsnetwerk, my vangnet. En as dít daar is, kan jy enigiets hanteer.”

Filippense 4:3 het tydens die donker tye in Carike se lewe vir haar krag en kalmte gegee. “Daar staan mos: ‘Ek is tot alles in staat deur Christus wat my die krag gee’ – en dit is éintlik die ding. Die beker van swaarkry en seer gaan jou nie noodwendig verby nie. Maar as jy die krag kry om dit te hanteer, kan jy daar deur kom. Jy moet net vir krag bid.

“Ek weet vandag, onteenseglik, dat God die Goeie Gewer is. Hy is die Een wat sorg vir al my vreugdes op aarde, en daarom kan ek steeds sê, en ná alles: Die lewe is ’n lied!”

 

Rina Hugo

‘Die bangste sanger in Suid-Afrika’

Dit was haar ma, Fienie Hugo, wat Rina (nou 67) se talent destyds raakgesien het. “Ek het as klein dogtertjie ure lank by die koffietafel gesit,” vertel Rina, “en dan het ek op die tafelblad kammakastig klavier gespeel. My ma het dit gesien en besluit dat ek ’n regte klavier moet kry. En toe het sy vrééslik begin spaar.“Niemand anders in ons familie was juis musikaal nie, en in standerd drie het ek begin klavierles neem. My ma en my pa, Willie, het my van klavierles na kunswedstryd na konsert rondgery. En toe, in standerd ses, het my ma besluit ek moet ook sanglesse begin neem.” Maar moenie dink die jong Rina wou voor mense sing nie …

“As sy my roep om vir kuiermense te kom sing, het ek onder my bed gaan wegkruip!

“Ek dink steeds ek is die bangste sanger in Suid-Afrika. Ek ken niemand wat banger as ek is om op ’n verhoog te gaan staan nie.

“Daarom bly dit vir my ’n groot wonderwerk dat die Here hierdie loopbaan vir my gekies het. En ál die deure het deurentyd vir my oopgegaan … Ek móés net in hierdie rigting gaan, al het ek dit aanvanklik nooit eens oorweeg nie.”

Sy vertel: “Die grondslag vir my geloof is in my ouerhuis gelê. Soos wat ’n mens ouer word en allerlei dinge met jou gebeur, word jy ook ryper en raak jou geloof sterker. Ek is diep dankbaar dat ek nog geen groot tragedie beleef of erge siekte gehad het nie – maar selfs iets soos jou kinders se geboorte of die laaste ure langs ’n ouer se sterfbed verander jou belewenis van God.

“En in my lewe se swaarder tye het ek nog altyd aan Psalm 23 vasgehou.”

 

Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail