Ons moedig ons kinders aan om hul drome na te jaag, om hard te werk, om altyd hul bes te doen en om doelgerig te lewe. Maar, waarsku die kenners, jy moet ook jou kinders leer om te rus.

 

Deur Susan Goosen

 

Geen ouer wil hê sy of haar kind moet lyf wegsteek, onderpresteer of ambisieloos deur die lewe gaan nie. Natuurlik sal kinders wil speel en grappies maak en oor die algemeen nie wil doen waarvoor hulle nie lus is nie. Daarom doen ouers baie moeite om hul kinders te inspireer, aan te moedig en hulle die geleentheid te gee om vaardighede aan te leer.

Sinmarie Pieterse, ’n opvoedkundige sielkundige in Kaapstad, sê hieroor só: “In ons moderne samelewing is dit baie belangrik om jou vaardighede ten volle te ontwikkel, om doelgerig te wees en hard te werk ten einde sukses te behaal. In ouers se ywerige pogings om hul kinders hiermee te help, betaal hulle vir privaat-tennislesse, wiskunde-ekstraklasse en ander aktiwiteite wat hierdie kinders die nodige hupstoot sal gee.

“Selfaktualisering word inderdaad met harde werk en ’n besige program vereenselwig. Wanneer jy niks doen nie, word daar gefrons. Niksdoen is tog die teenoorgestelde van die samelewing se siening van prestasie.”

Rus?

Wanneer jy niks doen nie, rus jy. En, sê Sinmarie, rus is ’n Bybelse opdrag. Die Genesis-verhaal vertel ons dat God self gerus het nadat Hy die hemel en die aarde gemaak het. En toe het Hy die rus-opdrag aan sy skepsels gegee.

Dit is God self, sê Sinmarie, wat aan sy kinders dae en seisoene in hul lewe gegee het waarin hulle rustiger kan wees.

Sy sê ook: “Ons en ons kinders sal nooit werklik suksesvol kan wees indien ons nie ’n balans kan vind tussen ons dagtaak en rus nie. Net soos harde werk, is genoeg rus ’n noodsaaklike bestanddeel in enige suksesresep. Dit sluit genoeg slaap in, en ook tye waarin jy niks doen nie.”

 

Annette du Plessis, ’n opvoedkundige sielkundige in Somerset-Wes, is daarvan oortuig dat kinders wat onder groot prestasiedruk verkeer, meestal ’n ongebalanseerde lewe lei.

“Hulle kry gewoon nie genoeg kans om sommer net kind te wees nie,” sê sy. “Rus is noodsaaklik vir ons fisiese, emo­sionele en geestelike welstand. En wanneer jy rus, kry jou liggaam die geleentheid om te herstel, om druk te verwerk en om nuwe kennis en vaardighede te prosesseer. Rus is broodnodig vir jou energievlakke om te herstel, sodat jou liggaam en gees gesond gehou kan word.”

 

Sinmarie gee nog redes waarom ons, en ons kinders, tyd moet maak om te rus:

  • Wanneer jy rus, vind daar selvernuwing en groei plaas. So kan jou liggaam ’n gesonde immuniteit opbou en siektes beveg.
  • Rus bevorder gesonde breinfunksie en helder denke. Kinders wat genoeg rus, kan makliker onthou en makliker weergee wat hulle geleer het. Vanself lei dit tot beter akademiese prestasie.
  • ’n Gebrek aan rus, saam met baie stres, kan tot spysverteringsprobleme, hormonale wanbalanse, insulienweerstandigheid, onstabiele bloedsuikervlakke en selfs vrugbaarheidsprobleme aanleiding gee. Boonop verouder jy vinniger wanneer jy baie spanning ervaar.
  • As ons te moeg word, verander ons gemoedstoestand. Ons word gouer geïrriteerd en het minder geduld en empatie met ander. Dit kan weer daartoe lei dat jy swak oordeel aan die dag lê en nie goeie besluite neem nie.

 

Op al bogenoemde maniere steel spanning jou vrede en jou vreugde. Annette sê dat indien jy hierdie gejaagde patroon in jou en jou kinders se lewe raaksien én erken, jy doelbewuste pogings moet aanwend om dit te verander.

“Ons moet ons eie gedrag, en ons kinders s’n, goed genoeg ken om te kan weet wanneer ons té moeg is. En dan iets daadwerkliks doen om liggaam en siel te verfris.”

Sinmarie sê: “Net soos wat ouers by hul kinders die waardes van harde werk in­skerp, van doelwitte identifiseer en najaag, net so is dit die ouers se verantwoordelikheid om hul kinders te leer dat hulle mag ontspan. Dat hulle mág niks doen nie.”

“Rus verwys nie net na slaap nie,” sê Annette. “Dit sluit enige aktiwiteit in wat julle graag in jul vrye tyd doen. Laat jou kinders daardie soort aktiwiteite wat vir hulle lekker is op verskillende papiertjies neerskryf en in ’n bottel sit. Kies gereeld een uit hierdie bottel en sit dan ’n tydjie opsy om juis dit te doen.”

Sinmarie gee wenke wat werk

  • Dra aan jou kinders die boodskap oor dat jy jouself, ná ’n dag se werk, met ’n lekker rustyd beloon.
  • Stel oor die algemeen die regte voorbeeld. Probeer om sover moontlik oor naweke tye opsy te sit waarin julle as gesin saam kan ontspan. Gaan stap, lê op ’n kombers in die tuin. En geniet lang gesinsmaaltye waar almal lekker kan gesels. Knyp jou oë toe vir kinders wat laatoggend nog in hul nagklere rondhardloop of nog nie hul bed opgemaak het nie.
  • Laat kinders toe om ná skool eers ’n rukkie lank te ontspan en iets lekkers te doen: bal skop, op die bed lê, of tee drink en om die kombuistafel gesels. Ontmoedig selfoon- of rekenaargebruik. Hierdie soort tegnologie gee nie jou brein en oë die geleentheid om te rus nie.
  • Leer jou kinders om van hul emosies bewus te wees, en juis van alles wat hulle deur die dag bly gemaak of ontstel het. Hulle kan dit selfs in ’n dagboek neerskryf, of dit teken.
  • Leer hulle om “nee” te sê vir sosiale uitnodigings wanneer hulle te moeg is of nie daarvoor lus is nie.
  • Maak seker dat jou kinders genoeg slaap kry. Tieners moet agt tot nege ure lank slaap, en jonger kinders selfs tot tien ure per nag. Moedig jou kinders ook aan om oor naweke middagslapies te neem indien hulle ’n besonder moeilike week agter die rug het.
  • Skep die geleentheid vir ’n ontspan-naweek saam met die gesin. Julle hoef nie weg te gaan of geld uit te gee nie. Slaap bloot laat, eet ontbyt in jul nagklere, klim terug in die bed met stories en musiek. En hou ’n fliek-maraton voor die TV. As julle die avontuurlustige soort is, gaan kamp in die natuur.
  • Help jou kind om sy eie vrye tyd te definieer en te geniet. Verskillende kinders ontspan en herlaai die batterye op verskillende maniere. Help jou kind om te verstaan wat vir hom of haar werk, en om dit dan gereeld te doen sonder om skuldig te voel.
  • Leer jou kinders om bewus te wees van hul eie stresvlakke. En leer hulle om spanning se tentakels te identifiseer – byvoorbeeld vergeetagtigheid, naels byt of maagpyn. Leer hulle hoe om stresvolle situasies te identifiseer en, indien dit hoegenaamd moontlik is, te vermy. ’n Kind wat sukkel om onder druk te leer en te werk, moet byvoorbeeld ekstra tyd vir take en toetse opsy sit, en dalk ’n aktiwiteit prysgee om seker te maak dat daar genoeg tyd is om alles af te handel.
  • Praat met mekaar oor maniere waarop stresvolle situasies beter hanteer kan word, of hoe om dit te vermy.
Facebooktwittergoogle_plusredditpinterestlinkedinmail